Logo

Ruda en Kim is agente vir vooruitgang

Nuus
25 Junie 2015
Vooruitgang gebeur nie sonder verandering nie, en dís waar die reeks VeranderDinge in die prentjie kom.
Ruda en Kim

Vooruitgang gebeur nie sonder verandering nie, en dís waar VeranderDinge in die prentjie kom. In dié reeks, wat op 19 Julie 2015 om 18:00 op kykNET en kykNET & Kie afskop, gesels aanbieders Ruda Landman en Kim Cloete met bekendes én gewone mense wat buitengewone dinge doen. Hul gaste is almal mense wat ’n nuwe rigting ingeslaan het, of besig is om ’n groot skuif in hul lewens te maak.



Ruda en Kim gaan kyk na baie dinge. Interessante dinge. Skrikwekkende dinge. Opwindende dinge. Hartseer dinge. Snaakse dinge. En soos wat hulle dίt doen, gaan kykers saam met hulle uitvind wat mense inspireer om van koers te verander. Wat motiveer dié mense om deur te druk wanneer teëspoed oor hul pad kom? En wat is die daaglikse uitdagings wat hulle in die gesig staar?



VeranderDinge bestaan uit ’n wye verskeidenheid onderhoude, wenke en avonture wat kykers gaan vermaak en inspireer om anders te begin dink oor dinge soos loopbane, finansies, persoonlike ontwikkeling, verhoudings, families, huishoudings, gesondheid en voorkoms.

Moenie die praktiese wenke en tonne vermaak in VeranderDinge misloop nie – dit mag dalk net wees wat jy nodig het om ’n nuwe blaadjie om te slaan!