Logo
Frankie en Felipé

Frankie en Felipé vandag landswyd in rolprentteaters!

Nuus
23 Februarie 2024
“Frankie en Felipé”, die debuut film van Sturvy Pictures, ’n produksiehuis deur Solomon Cupido en Bradley Olivier, is vanaf vandag landswyd in rolprentteaters te sien!
Frankie en Felipé

Franklin Blaze (Bradley Olivier), 'n hardwerkende man uit 'n verarmde agtergrond wat hy geheim hou vir sy kollegas en verloofde, Kim Fortuin (Kim Syster), besef sy opkomende troue en werk is op die spel wanneer sy biologiese halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), kom aanklop vir hulp.

Felipé is 'n passievolle, maar verlore siel wat dringend geld nodig het en dreig om Franklin se geheime te verklap as hy hom nie help om die geld terug te betaal wat hy verskuldig is aan n venynige geldskieter nie.



Met sy rug teen die muur besluit Franklin om toevlug te bied vir sy broer en hom in te sluit by die troue, maar kort voor lank is hy spyt oor dié halsoorkop besluit...

Kan Frankie en Felipé hul broederband tot voordeel van hulle albei laat herleef? Of sal hierdie fasade die troue van die jaar verwoes?



Die storie van Frankie en Felipé het sy oorsprong gehad in die gedeelde droom van Bradley Olivier en Solomon Cupido; n droom wat soortgelyk is aan die van vele akteurs wat ten doel het om hul eie fliek te skep. Hul doel was om nie slegs die uiteenlopende kenmerke van hul karakters uit te beeld nie, maar ook om kykers 'n blik te bied op Frankie en Felipé se lewens, en die sluier te lig oor hul geheime. Bradley en Solomon wou die kyker bewus maak dat dinge wat 'n mens op die oppervlak waarneem, nie altyd die geheelprentjie is nie; daar is waarhede en werklikhede wat tot op die oppervlak borrel wanneer almal tuiskom aan die einde van hul dag.



Frankie en Felipé is 'n unieke manier vir mense om aanklank te vind by die swaarkry en drome van sy karakters. Dit bevat 'n kragtige boodskap: as jy 'n groot droom het en pligsgetrou werk om dit te bewaarheid, kan daardie droom 'n werklikheid word. Die fliek moedig individue aan om nie skaam te wees oor hul herkoms nie, maar om dit te beskou as 'n manier om hul struikelblokke te oorkom in hul strewe om hul lewens te verbeter.

Met regie deur Marvin-Lee Beukes en Nick Burton Moore as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere in Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Terence Bridgett. Die film word uitgereik deur Filmfinity (Edms) Bpk.



“Die vrystelling van Frankie en Felipé is die resultaat van vier jaar se harde werk vir my en Bradley, en werklik ons grootste droom wat bewaarheid word. Al is my beste vriend nie meer aan my sy nie, weet ek hy kyk af en is netso trots soos ek op die eindresultaat. Ons wou mense laat lag, laat huil en vir hulle ’n uur en ’n half se ontvlugting bied sodat hulle weer die wêreld kan aanpak met ’n ligte gemoed vol inspirasie. Ons het die film vir almal daarbuite gemaak om te geniet.” - Solomon Cupido.

“Ek is verskriklik opgewonde dat mense uiteindelik Bradley en Solomon se liefdeskind kan sien! Ons hoop dat mense hierdie pragtige stuk werk van hulle netso baie sal geniet soos wat ons dit geniet het om dit te maak!” - Kim Syster.

Kyk die lokprent vir Frankie en Felipé hier!



Frankie en Felipé is vanaf vandag, 23 Februarie 2024 landswyd in rolprentteaters te sien!