Logo

Reuse gemmerkoekhuis trek Koekedoor-beoordelaars

Nuus
09 Mei 2016
Barrydale se jaarlikse kerkbasaar het vanjaar die beoordelaars van Koekedoor se aandag getrek. En dít oor ’n gemmerkoekhuis.
Koekedoor Gemmer 01

Foto’s: Ian du Toit


Barrydale se jaarlikse kerkbasaar het vanjaar die beoordelaars van Koekedoor se aandag getrek. En dít oor ’n gemmerkoekhuis.

Hoekom juis dié huisie? Dit was elke kind se droom – ’n lewensgrootte gemmerkoekhuis.

Toe Mari-Louis Guy en Elizabeth Cloete hiervan gehoor het, was albei dit eens dat dit in lewende lywe gesien moet word. Selfs Daleen van der Merwe van Human & Rousseau, wat die Koekedoor-bakboek publiseer, het saam met Errieda du Toit, Koekedoor se inhoudsvervaardiger: kos kom kyk, foto’s geneem en gekoop.

Die huisie het soveel aandag getrek dat die Koekedoor-deelnemer Wessels ook al die pad uit die Kaap gekom het om die basaar by te woon.

Koekedoor se kombuishoof, Catherine Eybers, en lid van die kombuisspan, Toitnette du Toit, het met die idee vorendag gekom en ook beplan en uitgevoer. Hulle het verder versierders van Barrydale ingespan.

Mari-Louis en Elizabeth was stomgeslaan deur die huisie se dimensies (2,1 m x 1,6 m en 2,6 m hoog) en die harde werk wat dit vereis het. “Dit is waarlik van Koekedoor-proporsies,” het Mari-Louis gesê. Volgens Elizabeth was dit ’n belewenis om die kinders se gesiggies dop te hou terwyl hulle die huisie bekyk. “Dis vir hulle ’n droomwêreld.”

34 koekedoor gemmer 02

34 koekedoor gemmer 03

34 koekedoor gemmer 04

34 koekedoor gemmer 05

34 koekedoor gemmer 06



Pronkerige bakstene, ’n dak versier met sneeu en ’n skoorsteen; ’n pampoen op die dak, blompotte en vensters gemaak van suiker – alles aan dié huisie was eetbaar.

Sowat 300 kg se gemmer- en soetkoekiedeeg is gebruik, 100 kg se versiersuiker, 4 kg isomalt, 20 kg suiker, 6 kg Actiwhite en meer as 100 kg fondant.

Die huisie het bestaan uit meer as 1 500 bakstene en elke baksteen is versier met klein versierde koekies. Borge, soos Sugar & Craft, die plaaslike OK en selfs Olive Pride (deel van die Koekedoor-spens), het ingespring.

Die beplanningsfase tot die oomblik wat die laaste “steen” gebou is, het sowat twee maande geneem, sowel as ’n span van 9 mense wat elke dag daaraan gewerk het.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30 op kykNET.