Logo

"Ontbytsake" trek ’n blink nuwe baadjie aan

Nuus
24 Junie 2023
Ontbytsake stel met trots hulle nuwe handelsmerk en programformaat op Saterdag 24 Junie 2023 bekend. Dis dieselfde wenresep en wenspan, maar met ’n vars nuwe voorkoms en gevoel.
Ontbytsake new logo article image

Die gewilde oggendprogram op kykNET en kykNET&kie (DStv-kanale 144 en 145), fokus daarop om vir klein- en medium-sakeondernemings televisieblootstelling te gee. Daarom is Ontbytsake die afgelope  23 jaar op Saterdae ’n onmisbare deel van mense regoor die uithoeke van Suid-Afrika en Namibië se oggendroetine.

Ontbytsake het in 2021 hul 1000ste program gevier, ’n sonderlinge mylpaal en net moontlik as ’n ongelooflike groep mense saamwerk. Die anker-aanbieder, Dawie Roodt, is al meer as 20 jaar deel van die span. “Die program het oor die jare baie ontwikkel en verbeter van daardie eerste episodes,” sê hy. “’n Mens probeer verskillende dinge en kyk wat werk, maar die kern bly steeds dieselfde.”

Die regisseur, Melinda Meyer, is ook van die begin deel van Ontbytsake. Ek is geweldig trots op hoe ver die program gekom het en sien uit na die nuwe fase van Ontbytsake. Dis nog steeds aktueel, interessant en lewendig; al wat ons gedoen het, is om vir ’n ou geliefde ’n splinternuwe baadjie aan te trek.”

Aan die einde van 2021 het die stigter van die Ontbytsake-wenresep, Johann Joubert, afgetree en deesdae is die program deel van The B4i Project se filiaal B4i Productions met Louis McLaren as uitvoerende vervaardiger. “Vir enige program om ná 23 jaar nog relevant te bly, moet daar vernuwing plaasvind. Ontbytsake is al amper twee jaar onder nuwe eienaarskap en ons het toe reeds onderneem om Ontbytsake-kykers met vars inhoud te vermaak,” sê Louis. “Ons gaan uit ons pad om sakeondernemings sterker op die program te bemark. Daarmee saam wil ons ook nuwe besigheidsgeleenthede op ons verskillende platforms skep wat onder andere ’n splinternuwe webwerf en groter voetspoor op sosiale media insluit.”

Kykers moet nie bekommerd wees dat daar te veel veranderinge is nie. Daar word voortgebou op die bestaande Ontbytsake-wenresep met dieselfde wenspan voor en agter die kameras.

Die logo is verander om die fokus meer op ‘SAKE’ te laat val, wat dan insluit verskillende segmente soos leefstylSAKE, vroueSAKE, ekonomieseSAKE, finansiëleSAKE en heelwat meer. 

Die span is veral opgewonde om ’n nuwe weerSAKE- en landbouSAKE-aanbieder, die meteoroloog Anika de Beer, as deel van die span te verwelkom. Sy is nie net verantwoordelik vir die weeklikse weerSAKE met moderne weeranimasie nie, maar gaan ook landbouSAKE-gesprekke behartig.

Daar sal ook in-diepte paneelbesprekings rondom SAKEfokus wees met kundiges uit die sakewêreld en entrepreneursbedryf wat tendense sal bespreek en raad gaan gee. Volgens Louis wag daar ook ’n hele paar lekker verrassings hierdie jaar waar Ontbytsake geleenthede aan kliënte en kykers gaan bied soos ’n rugbyreis na Frankryk, die Oppipanne-musiekfees in Botswana en heelwat meer.

Die nuwe logo en opening van die program is deur The Oaks Collective ontwerp en hoewel daar steeds inspirasie uit die vorige logo is, is hierdie ’n nuwe, moderne weergawe met ’n sonopkoms en ’n cappuccino waar die verskillende segmente van die program in die skuim aangedui gaan word. Die nuwe kenwysie is deur Leon Gropp en Jattie de Beer geskryf.

kykNET is trots op die Ontbytsake-span wat dit na al die jare steeds regkry om kykers Saterdagoggende in ’n heerlik gemaklike trant op die hoogte te bring van sake, lekker saam te kuier, te smul aan iets en die week op ’n positiewe noot af te sluit. Ons is baie opgewonde oor die vars nuwe identiteit en ons glo dit gaan by lojale én nuwe kykers byval vind,” sê Waldimar Pelser, M-Net Direkteur: Premium-kanale.

Louis McLaren sê ter afsluiting: “Ons wil hê kykers moet saam met ons voortbeweeg en opgewonde wees oor die vernuwing, maar ook weet dat Ontbytsake steeds ’n gemaklike kuierprogram bly met gunsteling-segmente soos Dawie Roodt se ekonomieseSAKE, Corli Prinsloo se smulSAKE, nuusSAKE met Pieter du Toit en ook die weeklikse kuierSAKE met ’n bekende ateljeegas.”

Ontbytsake is op Saterdae om 07:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 08:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).