Logo

Reis na Gister keer terug vir vierde seisoen

Nuus
04 Desember 2015
Reis na Gister is vanaf 4 Januarie 2016 om 20:00 op kykNET te sien.
RNG Jak en Franco

Jak de Priester, aanbieder van Reis na Gister, neem van ons land se bekendes op ’n nostalgiese reis na hul plek van oorsprong. Geboortehuise, speelplekke, aangename koeltes en soms selfs net afgebreekte murasies, is deel van die herinneringe wat opgeroep word. Soos wat Jak die reis saam aangepak het, het hy besef hoe plekke en ervarings uit elkeen se kindertyd ’n wesenlike invloed op die mens se lewensfilosofie en denkrigting het. Met sy eerlikheid en spontane aanslag, het Jak diep in die harte van die kykers ingekruip.




Gordel vas vir ’n nuwe seisoen met die volgende gaste:

Annie Malan

Annie Malan het as jong dogtertjie haar buiging gemaak in die fliek Fiela se kind. Sy word steeds op ons televisieskerms gesien, maar sy is ook ’n gerespekteerde sakevrou en word ook gereeld opgemerk by belangrike sosiale geleenthede, hetsy hier of in die buiteland. Jak het saam met haar in Pretoria gaan rondry om agter te kom hoe groot die invloed van die Jacarandastad se omgewing op haar as kind was.

Hemelbesem

Afrikaanse hip hop-kunstenaar, skrywer, digter, aktivis en gemeenskapsleier. Dís hoe die talentvolle Hemelbesem opgesom kan word. Hoewel vermaak sy werk is, lê opvoeding van gemeenskappe hom ook baie na aan die hart. Dié man, wat al ses albums uitgereik het, se voetspore lê in die Kaap en ons was daar om dit saam met hom die pad te loop.

Franco Smith

Rugby is in sy bloed. Franco Smith was eers ’n bekende Springbok-losskakel, maar nou voeg hy waarde toe met die afrigting van onder meer die Vrystaat Cheetahs. Dis in Bloemfontein waar sy lewensreis begin het en waar hy hom nou weer gevestig het, nadat hy ook in Europa ’n draai gemaak het om afrigting te doen. Jak het by die rugbymal Franco gaan kuier om meer uit te vind hoe sy lewensreis ontvou het.

André Schwartz

’n Kunstenaar wie se talent veel verder strek as net sing, is André Schwartz. Hoewel hy die verhoog as een van sy tuistes beskou, is dit veral kabaret en musiekblyspele waar sy liefde lê. Tog het hy, anders as wat ’n mens sou verwag, in die Regte studeer. Tans is hy aan die stuur van sake van ’n groot onderneming in Johannesburg. André het die Reis na Gister-span genooi om ’n nostalgiese reis mee te maak na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy saam met sy studies, ook sanglesse geneem het.

Reuben Riffel

Reuben Riffel is ’n man wat die kuns van kosmaak vervolmaak het. Dié bekende, tog nederige Suid-Afrikaner het deesdae restaurante dwarsoor die Wes-Kaap. Die alombekende sjef en restauranteur se wortels lê diep ingegrawe in Groendal, ’n pragtige vallei digby Franschhoek. Die Reis na Gister-span het sy spoor gaan volg om te kyk waar die besondere liefde vir kosmaak vandaan kom.

Nadia Beukes

Sy is dinamies, intelligent en uiters talentvol. Afgesien van haar werk as televisie-aanbieder is sy ook sanger en speel dikwels toneel. Nadia Beukes het Jak gaan wys waar sy haar grootwordjare deurgebring het en waarom die vermaaklikheidsbedryf van kleins af deel van haar wese is.

Adam Tas

Adam Tas, die sanger met die rasperstem, se lirieke handel meestal oor dinge wat hom as mens diep raak. Hy het homself leer kitaar speel toe hy herstel het na ’n fietsongeluk. Hy is ook ’n man van vele talente, en een daarvan is dat hy hom as wildbewaarder bekwaam het. Jak het hom na Tzaneen in die noorde vergesel om te sien presies watter deel van die rooi Afrikagrond Adam so na aan die hart lê.

Ryk Neethling

Die swemsensasie Ryk Neethling het nie net bekendheid verwerf as Olimpiese medaljewenner nie, maar ook as model en motiveringspreker. Sy lewe is vervat in ’n boek en Ryk is ook ’n suksesvolle sakeman. Maar dié introvert beskou homself steeds as ’n boerseun van Bloemfontein. Dis in sy geboorteplek waar hy ons na sy grootwordhuis geneem het en ook na die skool wat hy steeds as sy heimat beskou.

Jean Engelbrecht

Jean Engebrecht, seun van bekende Springbok-rugbyspeler Jannie Engelbrecht, is die eienaar van die 320 jaar oue wynplaas Rust en Vrede, in die Stellenbosch-omgewing. Hy het gesorg dat dit nie net die wyne is wat internasionaal bekend is nie, maar ook dat die restaurant op die plaas met die bestes in die wêreld vergelyk kan word. Dié sakespan besit nog restaurante elders in die Stellenbosch-omgewing en ook in Pretoria. Jean het die Reis na Gister-span gaan wys waar in die Boland sy wortels lê.

Derick Hougaard

Die Bloubul Derick Hougaard, wat die skares by Loftus in Pretoria aan sy voete gehad het, is eintlik ’n boorling van Citrusdal in die Wes- Kaap. Die talentvolle vleuel het al wat ’n rugby-ondersteuner is beïndruk met sy skopskoen en het ook in Engeland gespeel. Maar dis hier aan die voet van die Cederberge in die Olifantriviervallei, wat van hom mens gemaak het.

Kyk hier na die voorskou:



Moenie hierdie opwindende nuwe seisoen misloop nie! Reis Na Gister is vanaf 4 Januarie om 20:00 op kykNET te sien.