Logo

Prontuit se vurige rasdebat

Nuus
13 Maart 2015
’n Groot deel van vandeesweek se episode van Prontuit het om ’n rasdebat gedraai. Die humeure het by tye opgevlam in ’n vurige debat wat deur aanbieder Kabous Meiring gelei is.
kn_prontuit_20150311_rasse_debat
’n Groot deel van vandeesweek se episode van Prontuit het om ’n rasdebat gedraai. Die joernalis Verashni Pillay het einde Februarie ’n meningstuk geskryf met die titel “Six things white people have that black people don’t”, en Pillay was in die ateljee om haar skrywe met Ernst Roets van AfriForum en die meningsvormer Xhanti Payi te bespreek.

Die humeure het by tye opgevlam in ’n vurige debat wat deur aanbieder Kabous Meiring gelei is.




Pillay het begin deur te sê dat haar kritici dink sy wil heeltyd oor ras praat, maar dit is nie waar nie: “Dit is uitputtend. Maar ek het gedink ek moet nog een keer probeer.”

Roets het gemeen dat ’n gesprek oor ras steeds belangrik is, maar dat ons selektief na die verlede kyk. “Omdat daar nie ’n gelyke speelveld is nie kan daar nie ’n gesonde gesprek oor ras gevoer word nie. ... Om die raskaart te speel, diskrediteer jou saak.”

Wanneer dit by gesprekke oor ras kom, het Pillay gesê, is witmense baie geneig om op die verdediging te gaan, terwyl swartmense net oor hul ervarings wil praat.

“Vir die eerste keer in eeue het swartmense die kans om te praat. Laat hulle praat.”

Roets het dit gestel dat hy baie beledig gevoel het deur pres. Jacob Zuma se stelling oor Jan van Riebeeck, waarna Payi daarop gewys het dat ’n aanval op Van Riebeeck nie ’n aanval op witmense is nie.

Payi het ook gesê dat dit nie witmense se harde werk tot niet maak as hulle hul voorreg erken nie.

“Jy ignoreer eeue se verdrukking. Jy maak asof die speelveld gelyk is,” het Pillay aan Roets gesê.




“Daar word gesê die manier waarop ek reageer is verkeerd,” het hy geantwoord. “Die feit dat ek ’n wit Afrikaanse man is diskwalifiseer my mening.”

Hier het Meiring Roets daarop gewys dat daar vir hom gevra word om te luister.

Pillayhet die laaste woord gehad: “Vir my gaan dit daaroor om menslik te wees, om empatie te hê. Laat ons lúíster. Ek dink nie ons luister genoeg in Suid-Afrika nie.”