Logo

Prontuit: Gesprekspunte by Woordfees

Nuus
05 Maart 2015
In gisteraand se episode van Prontuit het Henry Jeffreys, verantwoordelik vir die Russel Botman-gespreksreeks by die US Woordfees op Stellenbosch, via Skype oor dié reeks gesels.
kn_prontuit_onderhoud_screengrab
 

In gisteraand se episode van Prontuit het Henry Jeffreys, verantwoordelik vir die Russel Botman-gespreksreeks by die US Woordfees op Stellenbosch, via Skype oor dié reeks gesels.

Geloof is een van die onderwerpe wat groot aftrek op vanjaar se Russel Botman-gespreksreeks by die US Woordfees op Stellenbosch gaan kry. Mense wil onder meer weet of daar plek vir God in skole is. Só het Henry Jeffreys, verantwoordelik vir dié reeks, gisteraand in ’n Skype-gesprek met aanbieder Kabous Meiring gesê.

Grondhervorming, regsake en die huidige energiekrisis gaan ook in diepte tydens die gespreksreeks bekyk word. “Grondhervorming is ’n komplekse probleem,” het Jeffreys gesê. Hy meen daar moet bepaal word of die regering en boere opgewasse is vir die taak.

Charlotte Powell, Kaapstad-rampbestuurwoordvoerder, het telefonies vanuit Kaapstad gesê brandbestryders werk regdeur die aand om die verwoestende veldbrande in dié stad in bedwang te bring. Sy het gesê verskeie diereklinieke en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het aangebied om beseerde skilpaaie en ander diere te behandel.

Unathi Batyashe-Fillis, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), en Elmar Conradie, finansiële hoof van FlySafair, het oor die dienslewering van lughawens en -rederye kom gesels.

Vossie Goosen, ’n sielkundige van Johannesburg, het meer oor die oorsake van gesinsgeweld kom vertel. Lizette Nel, die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWBV) se bestuurder van bewaring, en Howard Hendricks, van SANparke, het oor misdaad teen die natuur uitgebrei. “As ons wil aanhou jag, moet ons die hulpbronne wat ons benut bewaar,” het Nel gesê.