Logo

Koekedoor: Pronk met Franse tuisgebak

Nuus
01 Julie 2016
Die Franse kry dit reg om ’n paar eenvoudige basiese bestanddele in eetbare monumentjies te omskep – of dit hul swierige skilferkorsgebak is of alledaagse tuisgebak.
Koek Franse Gebak

Die Franse kry dit reg om ’n paar eenvoudige basiese bestanddele in eetbare monumentjies te omskep – of dit hul swierige skilferkorsgebak is of alledaagse tuisgebak. Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir Koekedoor en skrywer van die Koekedoor 2-bakboek, vertel meer van die drie soorte Franse teekoekies (waarin botter onmisbaar is), waarmee die topdrie Koekedore hul koekstaanders moes vul.

Madeleines

Madeleines is een van Frankryk se beroemdste koekies. Dit het ’n skulpievorm en word in spesiale madeleine-pannetjies gebak. As jy gelukkig is, rys die koekies met ’n boggelruggie. Eet dit liefs nog effe louwarm, vars uit die oond. Dis heeltemal aanvaarbaar onder die stylvolle Franse om die koekies in tee te druk, soos ons met beskuit maak. Tradisioneel word madeleines met lemoenbloeiselwater gegeur om die sitrussmaak te versterk.

[caption id="attachment_272867" align="alignleft" width="886"] Madeleines (in die teekoppie) en financiers aan weerskante[/caption]

Financiers

In Koekedoor-taal praat ons sommer van bankierkoekies, want financiers lyk soos goudstafies waarvan die bankkluise in Parys vol is. Die koekies smaak so ryk en weelderig soos dit klink en het ’n goudbruin kors en heerlike klam tekstuur.

Financiers het ontstaan toe ’n vindingryke bakker in Parys se finansiële distrik iets wou maak wat haastige bankiers in twee happies kon geniet – ’n stylvolle Franse weergawe van straatkos. Neutbruin botter en amandelmeel sorg vir die luukse smaak en geklopte eierwit vir die ligtheid.

Franse brosbroodkoekies (Sablé Breton)

Sablé Breton is ’n brosbroodkoekie uit Brittany, ’n Franse streek aan die Noord-Atlantiese kus wat beroemd is vir botter en hul seesout. Om die koekie se kenmerkende soutsmaak na te boots gebruik bakkers ongesoute botter en voeg dan fleur de sel of vlokkies seesout by die deeg. Die veelsydige deeg kan ook as ’n tertkors vir klein vrugtetertjies of ’n groot galette gebruik word.

[caption id="attachment_272874" align="alignleft" width="886"] Madeleines (in die teekoppie) en Franse brosbroodkoekies (regs)[/caption]

Kry eksklusiewe resepte hier.

Kyk die Koekedoor-finaal, Donderdag 7 Julie om 20:30.