Logo
PROJEK DINA

Projek Dina terug vir 'n tweede seisoen propvol intrige

Nuus
28 Januarie 2022
Skakel vanaf 1 Maart 2022, elke Dinsdagaand, in om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Projek Dina – Billboard

Die immergewilde taakspan van Kaapstad is terug – en meer as gereed om nòg vermiste persone-sake op te los. kykNET se dramareeks Projek Dina is vanaf 1 Maart 2022 weer op die kassie.

Kaptein Deon Visagie (Tim Theron), Adjudant-Offisier Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) en Sersant Lux Dladla (Chumani Pan) keer weer terug as die taakspan, terwyl Charlie Botha (Kay Smith) nou ook amptelik deel van die span word. Charlie het intussen ’n paar polisie-kursusse voltooi en haar kennis en vernuf vir veldwerk opgeskerp.

Kykers sal onthou dat Ronel aan die einde van die eerste seisoen net-net haar tweelingsuster, Dina, gemis het toe sy en die span in Mosambiek opdaag. Dis twee jaar later en Ronel se ewige soeke na haar suster het steeds nie verdwyn nie, al dink haar gesin sy is eindelik besig om deur die trauma wat Dina se ontvoering veroorsaak het, te werk.

Wanneer Lux haar nader om hom te help met ’n vermiste persone-saak word Ronel se passie vir haar werk en ook haar dryf om haar suster te vind weer aangewakker. En sy bevind haarself vinnig weer deel van die span. Maar dié keer mag sy nie veldwerk doen nie – sal Ronel by die reëls kan hou?

“Hierdie adrenalien gevulde reeks het ’n vinnige pas en sal jou op die punt van jou stoel laat sit soos die taakspan sake ondersoek wat op ware vermiste persone-sake gebaseer is. Met die groeiende hoeveelheid vermiste persone-sake in Suid-Afrika wat omtrent elke dag koerante haal, is die tweede seisoen van Projek Dina ’n ongelooflike belangrike en relevante reeks wat jy nie moet mis nie,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die reeks.

Ander bekende gesigte wat weer hul verskyning maak is Antoinette Louw, Vicky Kente en Jana Kruger. Kykers kan ook uitsien na akteurs soos Louw Venter, Marguerite van Eeden, Sandra Vaughn en Hendrik Cronje.

Elke episode handel oor ’n nuwe saak, terwyl die soektog na Dina deurlopend is. Liezl Spies het weer teruggekeer as die regisseur van die reeks. Sy het ook Die Byl en Klein Karoo 2 se regie behartig. 

Projek Dina word deur Penguin Films vervaardig wat ook reekse soos Afgrond, Sara se Geheim en G.I.L vervaardig.

Skakel vanaf 1 Maart 2022 elke Dinsdagaand in om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.