Logo

Produksie van Poppie Nongena-rolprent begin

Nuus
07 November 2018
Lees meer.
Poppie Nongena_rolprent

FOTO: Melanie Cleary

Die vervaardiger Helena Spring het aangekondig dat daar pas begin is met die produksie van Poppie Nongena, die rolprent gebaseer op die veelbekroonde roman Die Swerfjare van Poppie Nongena.

Dié roman deur Elsa Joubert word steeds beskou as een van die beste romans uit Afrika wat die twintigste eeu opgelewer het. Die bekroonde draaiboekskrywer en dramaturg Christiaan Olwagen is die regisseur en Vicci Turpin sal die kinematografie van die rolprent behartig. Olwagen se vorige werk sluit die hoogs aangeskrewe rolprente Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu en Kanarie in.

Clementime Mosimane vertolk die rol van Poppie en die res van die rolverdeling sluit Anna-Mart van der Merwe (Die Storie van Klara Viljee, Kanarie), Chris Gxalaba en Rolanda Marais in. Die rol van Poppie se ma word vertolk deur Nomsa Nene, wat die titelrol gespeel het in die internasionale verhoogproduksie van Poppie.


Clementime Mosimane en Anna-Mart van der Merwe

“Ek is baie trots en geëerd om ’n film te vervaardig wat gebaseer is op sulke uitsonderlike materiaal,” sê Helena Spring. “Poppie se uiters persoonlike ervarings, haar liefde vir haar kinders en haar formidabele innerlike krag terwyl sy probeer sin maak van die moeilikste oomblikke van haar lewe, sal oud en jonk inspireer.”

"Die Swerfjare van Poppie Nongena is ’n baie belangrike storie wat vertel móét word. Dit het etlike jare geneem om dit uiteindelik op film te kan verewig, maar ons is opgewonde oor die produksiespan en rolverdeling en sien uit om die finale produk vir Elsa Joubert en die res van die wêreld te wys,” sê Karen Meiring, hoof van kykNET.

Die roman, wat steeds as baanbrekerswerk beskou word, is drie maal binne die eerste vier maande herdruk en in dertien tale vertaal. Dit het wêreldwyd toekennings verower.

Poppie Nongena word moontlik gemaak deur die ondersteuning van kykNET, M-Net, FilmFinity, Die Departement van Handel en Nywerheid en Arco Venture Capital. Dit word landswyd in rolprentteaters bekendgestel in 2019.