Logo

‘Pawpaw vir my darling’ vertel Damnvillers se storie

Nuus
19 Augustus 2015
’n Pawpaw vir my darling is ’n greep uit die lewe van die Beeslaer-familie van Damnville, vanuit die perspektief van hul hond, Tsjaka.
Paw Paw

’n Pawpaw vir my darling is ’n greep uit die lewe van die Beeslaer-familie van Frik Du Preezstraat 24, Damnville, vanuit die perspektief van hul hond, Tsjaka – ’n pavement special.

Ander sentrale karakters is Vleis (Deon Lotz) en Soufie (Deirdré Wolhuter) Beeslaer, en hul drie kinders: Elvis (Hannes Brümmer), Rusty (Martelize Kolver) en Mabel (Jana Nortier). Sally Caravan (Lida Botha) is Soufie se tawwe ouma, wat in haar karavaan in die Beeslaer-agterplaas woon. Girla (Marga Van Rooy) is die ma van Vleis, wat in Huis Herfsblaar in Witbank woon en by twee geleenthede met ’n ander boyfriend onverwags by Vleis-hulle opdaag. Een van hulle is die gladdebek swank Tango du Toit (Marcel van Heerden), “the man of mistery” wat soos ’n dwarrelwind deur die Beeslaer-huishouding beweeg. Die ander is die suurbek-Hollander Salty Sprinkelgras (Jan Engelen).



Die twee skinderbek-buurvroue is Hannie van Oorkant (Sandra Prinsloo) en die eksentrieke Huibie Hozapfel (Hélène Truter). Die bure langsaan is Basil (Willie Esterhuizen) en Gissie (Brümilda Van Rensburg) Bonthuis.



Die verhouding tussen die Beeslaers en Bonthuise word vertroebel deur die Beeslaers se luidrugtige gekuier op die voor- en agterstoep met hul vriende Hillies Grobbelaar (Esther von Waltsleben) en Wouter Bungalow (André Odendaal), terwyl die Bonthuis-dogters (Emily en Jo-Anne Klue) se onophoudelike getokkel op ’n vals klavier en die stink hoenderhok op hulle grens die Beeslaers, veral vir Vleis, ’n steen des aanstoots is. Die Bonthuis-tweeling se gespot met arme kaalkop Soufie, wat haar hare weens stres verloor het, dryf sake op die spits. Vleis se frustrasies bereik breekpunt, wat lei tot die geveg tussen Vleis en Basil en groot chaos in Frik Du Preezstraat.



Die Beeslaers is verteenwoordigend van die wit Afrikaner wat post-1994 ’n eksistensiële verwarring beleef. Dit speel uit in hul verhouding met die tuinwerker Cyril Phosa (Fezile Mpela), die polisieman Sargeant Kennedy Banda (Dambuza Nqumashe) en Minah Naidoo (Roshila Jarosz), hul seun Elvis se meisie.



Dis veral Soufie wat sukkel om Cyril se voor-op-die-wa houding, Elvis se Indiër-girlfriend en gay Rusty se girlfriend Thalita (Hanlie Rolfes) te hanteer. Die problematiek van werklose kinders wat by hul ouers inwoon word weerspieël in luigat-Mabel, wat geen verantwoordelikheid vir haar situasie aanvaar nie, onrealistiese verwagtinge koester en verkies om haar voorkoms, familie en die nuwe politieke bestel vir haar probleme te blameer. Vleis en Soufie se verhouding is tipies van maats wat nie toegerus is om werklik mekaar se dieper emosionele pyn en behoeftes te verstaan nie, en wat ’n tonic aandra as ’n senu-ineenstorting dreig.



Wat die hoofkarakter Tsjaka betref: Hy is die altyd hongerige, senuweeagtige hond van die Beeslaers – die hond met die vrygees wat vasgevang is agter die toe hek van Frik Du Preezstraat 24 – wat heeldag na die afgesaagde stories van die disfunksionele Beeslaers moet luister en hul familie-dramas moet aanskou.

’n Pawpaw vir my darling is ’n verhaal van oorlewing in ’n uitsiglose bestaan, van humor en patos, van lief en leed, van vreugde en verlies, van hunkering, hoop en uiteindelike aanvaarding van ’n lewe sonder trimmings.

Regisseur: Koos Roets
Vervaardiger: André Scholtz



’n Pawpaw vir my darling begin op 8 Januarie 2016 in teaters draai.