Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Hy vertel stories deur hare en grimering – Diepe waters

Nuus
07 Maart 2024
Wat gebeur als wanneer Sanet of Pam hulle regmaak vir hulle rolle op "Diepe waters"? Hulle hare- en grimeerkunstenaar pak uit!
grimeerkunstenaar op stel

Dit is vir Morné Marx die lekkerste ding wanneer ‘n kyker noem dat ‘n karakter lyk soos ‘n tannie wat hy of sy ken, of wanneer iemand vir hom sê: “Daai oom lyk nes my oupa want hy het altyd sy hare en baard so gedra!”

Volgens Morné, wat hare en grimering doen op die stel van Diepe Waters, is dit sy manier van stories vertel. “Makeup, vir my, is ‘n integrale deel van die proses. Ek kan letterlik sien hoe party akteurs in karakter kom wanneer hulle klaar in die makeup kamer was!”

Morné is onlangs genomineer vir ‘n SAFTA: Beste prestasie in hare en grimering: TV-sepie of telenovela.

kykNET Digitaal het met hom gesels om uit te vind oor die rol wat hy speel op stel en om ‘n blik agter-die-skerms te kry.

Wat het jou laat besluit om makeup artistry (grimering) te doen en hoe het jy in die TV-industrie beland?

My hele journey of fassinasie het begin as kind: Make-up was toe nie so groot as wat dit nou is nie, maar dit was wel die 80's en makeup was GROOT op kleur. Daardie tyd was die fokus meer op die hare (haarstyle) gewees. Ek en my beste vriendin het op 'n Sondagmiddag gesien wat ons met 'n bietjie suikerwater aan ons hare kon doen en ons het toe daarna met trots by die straat af geloop – om die reaksies van ou tannies te kry!

Mense se fascination oor wat met hare en grimering gedoen kan word was vir my iets waarin ek ongelooflik baie belanggestel het. Van daar af het ek eers hare geswot, kort grimering kursusse gedoen en toe meer gefokus op TVC's, tydskrifte en mode shows.

Eendag was ek geroep om in te staan vir 'n makeup artist op Isidingo en kort daarna was ek 'n werk daar aangebied. Dit was amazing!

Hoe groot rol speel grimering in tonele op TV – hoekom is dit belangrik?

Vir my is makeup en hare 'n integrale deel van storie vertel. Klein goedjies soos die kleure wat gebruik word op die oë, hoe dik haar eyeliner is, haar foundation, elke liewe ding wat ons opsit is deel van die karakter en vertel 'n baie belangrike storie, maar die belangrikste, [dit skep] believability. Die kyker moet, wanneer hulle die karakter sien, kan glo dat wie ook al die karakter speel, hy of sy believable is en dit help om die storie te vertel.

Wat is die hoogtepunt van jou loopbaan so ver?

My SAFTA-nominasie vir Diepe Waters was vir my 'n baie groot hoogtepunt. Van die vier keer wat ek al genomineer was, het daardie nominasie vir my baie beteken. Om vir ‘n nuwe show met so baie karakters, op beperkte begrotings en alles wat daarmee saamgaan genomineer te kon word, was vir my amazing.

Is daar karakters wat spesiale items moet gebruik?

Die karakter van Sanet is vir my lekker om te create. Sy dra ‘n armour, maar het tog 'n wonderlike sagte kant. Haar hare en grimering is altyd perfek en daar is niks uit plek nie. Tog rafel sy bietjie uit van tyd tot tyd wat vir ons wel wys sy is mens. Om Sanet se hare en makeup te doen neem die langste van almal en dit begin met 'n kop vol rollers elke dag wanneer sy op stel is sodat ons vir haar die perfekte helmet kan create.

Pam het ‘n incredible kop hare, so ons kan lekker met dit speel en verskillende haarstyle vir haar skep.

Lettie dra 'n pruik en dit neem so 20 minute lank om te install.

Iemand het een dag op een van die sosiale groepe gesê Karla het sulke mooi hare, toe comment iemand anders dat Karla 'n pruik dra! Hahaha, dit was baie snaaks want sy dra glad nie ‘n pruik nie. Die aktrise het die amazingste kop hare en ek dink dit werk baie lekker met haar karakter.

Vertel vir ons ’n bietjie watter tipe navorsing het julle gedoen vir Rossouw se ontvoering-tonele.

Navorsing vir 'n makeup artist is key. Ons moet altyd sien hoe word die karakter geslaan, waarmee word die karakter geslaan, waar word hy geslaan en in die geval van Rossouw wat so oor en oor en oor geslaan was, watse impak dit gaan hê op hoe hy gaan bruise en hoe dit gaan heal.

Arme Rossouw was so pap geslaan dat ons die storie moes vertel in die raamwerk van tyd, budget en sodat ons gehoor vir hom kan "voel". Natuurlik help dit die karakter ook baie om by die uitpunt uit te kom. Vir my was die belangrikste dat ons die storielyn kredietwaardig moes maak.

Moes julle spesifiek “bloed” (vir Rossouw) self aangemaak het? 

Nee darem nie. Om bloed te maak is so tegniese storie en dit kan  ook dit  baie vinnig fake lyk, soos roomys-stroop. Ons kry ons bloed by iemand wat die wonderlikste bloed maak en die beste is dat dit nie die lyf of klere stain nie, [dis] regtig incredible.

Nadat Rossouw ontsnap het van die ontvoerders en tuis was, was sy make-up anders. Hoe was dit om die vordering te sien van sy makeup journey?

Ja, soos vroeër genoem het baie navorsing hier ingegaan soos met al my makeup looks en veral special effects (SFX). Ons het die tyd van sy healing bietjie versnel, maar tog die proses "korrek" [gedoen] soos 'n mens sal as jy deur so ‘n healing proses gaan. Nadat iemand so verskriklik geslaan is sal hulle baie geswel wees en omdat ons nie tyd of budget gehad het om sulke prostesis te kon maak nie, het ons verskillende kleure en tegnieke gebruik om dit te probeer naboots.

Die pleisters het ook gehelp om aan die drama van die storie by te dra. Van hier af is die storie versnel en na ‘n naweek was sy healing natuurlik beter en vinniger want die gehoor het hom nie gesien nie.

Laastens, behalwe Diepe waters, was daar enige ander kykNET-produksies waaraan jy al gewerk het?

Ek was baie gelukkig dat ek al op verskeie kykNET produksies kon werk: Bravo!, KwêlaG.I.L. en Arendsvlei (op kykNET&kie). (Vir G.I.L.) was ek 'n SAFTA genomineer en dit was een van my gunsteling- reekse om op te kon werk.

Is daar enigiets wat jy wil byvoeg?

Makeup is vir my so ‘n integrale deel van die proses – ek kan letterlik sien hoe party akteurs in karakter kom wanneer hulle klaar in die makeup-kamer was. Daar is vir my niks lekkerder as wanneer die publiek hulle buite hierdie wêreld wat ons vir hulle skep, sien en gaan “Wow jy lyk so anders as jou karakter”, want dis die punt. 

Dis vir my lekker om karakters te kan skep en ontwikkel in komplekse storievertellers wat ons gehoor lief het, haat of mee kan vereenselwig. Dis 'n voorreg om die te kan doen vir mense en ek hoop ek kan vir lank stories op my eie manier vertel deur hare en makeup.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.