Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Ouerskap: Wat is ma en pa se plig? – Alles Malan

Nuus
01 Februarie 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan

Daar was ’n tyd, nie lang gelede nie, waar dit die norm was dat vroue by die huis gebly het om die kinders groot te maak en die mans uitgegaan het om te werk. Al meer vroue het egter ná skool verder gaan studeer of begin werk om hulle eie geld te verdien. Daarmee saam het paartjies al meer besef twee salarisse is beter as een. In Frik en Tessa se geval, is sy nou die een met die besige loopbaan en groot salaris en moet hy aanpas in sy rol as pa en oupa. Watter raad is daar vir paartjies in dieselfde situasie?

Die Amerikaanse sielkundige, Chris Theisen, glo ouers het agt verantwoordelikhede teenoor hulle kinders:

  1. Voorsien ’n veilige omgewing.
  2. Voorsien aan jou kind se basiese benodighede soos kos, klere en medisyne.
  3. Werk aan jou kind se selfbeeld deur hulle as ’n individu te aanvaar en hulle prestasies te loof.
  4. Leer hulle waardes en morele standaarde.
  5. Leer hulle om wedersydse respek te hê.
  6. Dissiplineer hulle wanneer nodig.
  7. Wees betrokke by hulle opvoeding.
  8. Leer jou kind werklik ken deur kwaliteittyd saam deur te bring, beskikbaar te wees wanneer hulle jou nodig het, hulle vrae te vra en deurentyd te kommunikeer.

Die rol van pa is tradisioneel iemand wat beskerm, voorsien en dissiplineer, maar deesdae is daar heelwat huishoudings waar dit net soveel die ma se rol is as wat dit die pa s’n is. Daar is verskeie redes daarvoor. Een daarvan is ekonomies. In Suid-Afrika bestaan die werksmag in Suid-Afrika uit 43,4 persent vroue. Wanneer daar gekyk word na die samestelling van families, kan bykans 40 persent van gesinne as kerngesinne gesien word met ander woorde, twee ouers of minstens een ouer en dan die kinders. 34,2 persent van huishouding word geklassifiseer as uitgebreide gesinne met ander woorde, daar is ander familie ook deel van die gesin. Ongeveer 14,7 persent van huishoudings bestaan uit drie generasies. Amper ’n vyfde (21,3%) kinders woon nie by hulle ouers nie, maar 32,7 persent woon wel by beide ouers. Meeste kinders (42,0%) woon egter slegs by hulle ma’s en net vier persent woon by hulle pa’s.

Ekonomiese tendense het die grootste rol gespeel in die verandering van ouerskaprolle. In Amerika, byvoorbeeld, het die persentasie werkende ma’s tussen 1948 tot nou meer as verdubbel. ’n Tweede salaris is natuurlik tot voordeel van almal in die gesin, maar daarmee saam kom verantwoordelikhede wat anders na gekyk word as voorheen.

’n Studie wat deur die National Institute of Child Health and Human Development gedoen was, het gevind dat pa’s meer betrokke raak wanneer hulle:

  • minder ure werk of werksure het wat aangepas kan word;
  • hulle min sielkundige probleme het soos byvoorbeeld lae selfbeeld of depressie;
  • die ma’s meer ure werk as ander ma’s;
  • die huwelik sterk op die intimiteitsfront staan en
  • as die kinders seuns was.

Navorsing het ook getoon dat ’n pa se liefde gelykstaan aan ’n ma se liefde wanneer dit by die ontwikkeling van die kind kom. Daar is ook gevind dat vaderliefde kinders help om hulle plek in die wêreld te verstaan en dit help met die sosiale en emosionele ontwikkeling van die kind. Meer nog, kinders wat verseker is van die liefde van hulle pa’s, neig om minder persoonlikheidsprobleme te hê en aan middels soos dwelms verslaaf te raak.

Wat kan ouers doen om die verantwoordelikheid van kinderopvoeding te deel?

  • Maak seker elkeen weet presies wat van hom of haar verwag word. Kommunikasie is uiters belangrik. Neem byvoorbeeld tyd op ’n Sondag om die res van die week te bespreek. Hou saam dagboek of hou ’n kaart in die kombuis met al die aktiwiteite vir die week.
  • Onthou julle doen alles om die beste vir julle kinders te gee. Moenie boekhou van wat die een of die ander doen nie. Soms gaan die ma meer doen, ander kere die pa.
  • Dit is niks vreemd om deesdae pa’s in die snoepie by ‘n sportdag by die skool te sien werk nie. Daardie tradisionele rolle van ma’s wat altyd moet regstaan, is lankal verby. Help waar jy kan en raak betrokke. Niks kom by ’n kind se glimlag wanneer hy sy ma of pa sien help nie.
  • Help by die huis waar jy kan. Pa’s kan ’n bondel wasgoed doen, skottelgoed was, aanbied om te kook of kinders met huiswerk help. Ma’s kan uitstappies of spesiale dae reël waar pa bietjie bederf word. Koop kaartjies vir ’n rugbywedstryd of iets waarin hy belangstel en deel saam in die vreugde.
  • Let op wanneer een van julle dalk ’n blaaskans nodig het. Soms is dit net genoeg om ’n koppie koffie te gaan drink, sonder steurnis ’n fliek op TV te kyk of laat te slaap. Mens lyk altyd beter wanneer jy uitgerus is.
  • Sit neer julle fone. Praat met julle kinders, praat met mekaar. Moenie dat tegnologie gesinstyd oorneem nie. Lees boeke, gaan stap, maak saam kos. Kinders moet weet hulle is deel van ’n hegte eenheid.
  • Weet dat julle as werkende ouers nie net die beste vir julle kinders probeer voorsien nie, maar ook bydra tot die land se ekonomie en die breër samelewing. As jy jou tyd goed bestuur, is dit nie nodig om skuldig te voel dat jy dalk nie genoeg tyd by jou kinders het nie.
  • Leer kinders van kleintyd dat hulle verantwoordelikhede het. Hulle kan self hulle vuil skottelgoed afdra, hulle beddens opmaak en ander klein takies in die huis doen.
  • Laastens, net weer: Kommunikasie, kommunikasie, kommunikasie.

Bronne
https://www.parentcoachplan.com/index.php
http://www.statssa.gov.za/?p=1460

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).