Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Van veterane tot opkomende sterre – Alles Malan

Nuus
22 November 2021
Alles Malan begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Malans

Die rolverdeling van Alles Malan het tussen hulle ver meer as ’n honderd jaar ondervinding op die verhoog en voor die kameras. Aan die een kant is daar veterane soos Albert Maritz en Elsabé Daneel en aan die ander kant is daar die opkomende spelers Greteli Fincham en Mateo Olivier. Een ding wat hulle beslis in gemeen het, is hope talent.

Albert Maritz (Derik Malan) is ’n veteraan van die verhoog, TV en film. Hy het as’t ware in die teater grootgeword met sy pa, Dawie Maritz, wat een van die groot akteurs van sy generasie was. Hy het as 12-jarige vir die eerste keer op die verhoog saam met sy pa opgetree en het ná skool drama aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Sedertdien het hy as akteur, regisseur, omroeper, stemkunstenaar, vervaardiger en skrywer gewerk. Sy eerste filmrol was in Die Perdesmous (1982) en verskeie dramareekse het gevolg waaronder Konings en Torings wat trefferreekse in die vroeë 1990’s was. Die afgelope tyd was Albert te sien in die flieks Griekwastad, Invictus en Poppie Nongena en die TV-reekse Dwaalster (waarvoor hy ’n ATKV Mediaveertjie gewen het) asook Buurtwag en Donkerland.

Elsabé Daneel (Brenda Malan) het in 1981 haar filmdebuut in Beloftes van môre gemaak ná haar drama- en onderwysstudies aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was te sien in legendariese Afrikaanse TV-reekse soos Vleuels, Triptiek, Die Laksman en Torings en meer onlangs in Spoorloos I asook rolprente soos Strikdas, Meisie van Suidwes en Eintlik nogal baie. Elsabé doen stemwerk vir radio en het ’n voorliefde en talent vir woordkuns. Verskeie woordkuns-produksies waarby sy betrokke was is die afgelope paar jaar op kunstefeeste te sien.

Ivan Zimmermann (Frik Malan) het in 1991 sy TV-debuut in Egoli gemaak en was daarna bekend vir sy rol as Steyn in 7de Laan. In 2005 beïndruk hy as die skollie Mike Davel in Dit wat stom is. Hy was ook te sien in die reekse Bloedbroers en Vlug na Egipte en die rolprente Thys & Trix, Verraaiers en Platteland. Ivan is ’n ywerige avonturier wat al met ’n fiets van Kaïro tot Kaapstad en van Bejing tot in Istanbul gery het.

Nadia Valvekens (Tessa Malan) se eerste professionele TV-optrede was as mede-aanbieder van Die Nutsman in 2003. Sy was in verskeie sepies te sien soos Villa Rosa, 7de Laan en Egoli voor sy in 2005 die rol van Pippa in Binnelanders losgeslaan het, ’n rol wat sy vir langer as tien jaar gespeel het. Sedert sy Pippa vaarwel geroep het, het sy haar merk in teater gemaak in die produksie Huishou waarvoor sy die toekenning as beste aktrise by Aardklop in 2018 gewen het. Huishou het later ook ’n radiodrama en TV-fliek geword. Nadia was ook ’n gasspeler in onder meer Hotel en Projek Dina en was te sien as Monica in die TV-film Bottervissie in die jêm.

Nicole Fortuin (Lee-Ann Malan) het reeds op skool in drama en kuns uitgeblink en spog met ’n honneursgraad in drama aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het in 2015 haar debuut in Roer jou voete gemaak en is sedertdien in treffer-reekse soos Waterfront, Die Boekklub, Swartwater, Dwaalster en Die Spreeus te sien. Nicole het ook beïndruk in rolprente soos Flatland en A Cinderella story: If the shoe fits en is eersdaags te sien in Klein Karoo 2.

Sean-Marco Vorster (Nico Malan) het sy eerste rol in ’n fliek gekry kort ná hy matriek geskryf het. Hy het daarna by AFDA studeer en sy groot deurbraak as akteur het gekom toe hy die hoofrol in Die Windpomp losgeslaan het. Sedertdien was hy te sien in die TV-reeks Amaza en die flieks Susters en Vergeet my nie. Sean-Marco is ook op die oomblik te sien in die gewilde M-Net-reeks Legacy waarin hy die rol van Stefan Potgieter speel.

Greteli Fincham (Elani Malan) het op hoërskool op Stellenbosch reeds rolle in TV-reekse begin kry. Nie net is sy bekend as Elani in Alles Malan nie, maar sy het ook haar merk as Reece van Rensburg in die Netflix-reeks Blood & Water en die kykNET-reekse Dwaalster en Ekstra Medium gemaak. Greteli is ook ’n talentvolle ontwerper, illustreerder en fotograaf.  

Mateo Olivier (Freek Malan), ’n boorling van die Paarl waar dele van Alles Malan verfilm is, het op 14 begin toneel speel. Sy eerste groot rol was iin 2018 toe hy die rol van Tollie Komoetie in die nuwe filmweergawe van Fiela se kind gespeel het. Kort daarna het hy gehoor hy het die rol van Freek in Alles Malan gekry. Mateo het in 2019 die Skole-uitblinker van die Jaar by die Bokkie-toekennings gewen.

Alles Malan begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).