Logo

Ontmoet die karakters – Tydelik Terminaal

Nuus
17 Oktober 2019
Maak hier kennis met jou nuwe ‘besties’ van Tydelik Terminaal!
Untitled design

Reeks-opsomming:

Tydelik Terminaal is ’n 13-episode ligte dramareeks wat handel oor hoe ’n  twee-en-twintig jarige honneursstudent, Kittie Claassen, die lewe navigate na sy met kanker gediagnoseer word. Die reeks speel af oor die 6 maande waartydens sy chemoterapie ondergaan, besties raak met die oues van dae, haar studies probeer voltooi, en boonop onverwagse lewenservaring en – wysheid opdoen. Kittie en haar twee beste vriende, Mandy en Fanie, bevind hulleself in daardie deurmekaar tussen-fase van die lewe voor jy die sogenaamde grootmens wêreld betree. Dis  ’n tyd van kindwees agterlaat, maar steeds pret hê; somber beplan vir ’n toekoms, maar uiters onseker wees van hoe daardie toekoms gaan lyk. In hierdie drukgang van volwasse-wording, word elk van hierdie karakters met hulle eie menswees gekonfronteer en staan hulle voor die vraag van wie hulle nou eintlik is.

Karakter beskrywings:

KITTIE CLAASSEN:

Vertolk deur CARLA SMITH

Kittie, ’n naïwe, idealistiese, joernalistiek honneursstudent het op 22 haar hele lewe vooruitbeplan. Sy gaan die wêreld ‘n beter plek maak, en meet haar waarde aan die waarde wat sy tot die samelewing kan toevoeg. Haar lewe lank al speel sy volgens die reëls, en doen sy altyd die regte, verantwoordelike ding, om te verseker dat haar plan uitwerk. Wanneer sy dan met klierkanker gediagnoseer word, word die mat onder haar uitgeruk. Gedurende die ses maande van chemoterapie word sy gedwing om alles te herevalueer. Haar loopbaan, identiteit, siening van die wêreld, perspektief op dit wat sy as belangrik ag, en meeste van alles dit wat haar bydrae tot die samelewing gaan wees. Vir ses maande lank bevind Kittie haarself op ’n dwarslat tussen twee wêrelde: dié van jonk wees, voorberei vir ’n toekoms, groot droom; en dié van siek wees, swak wees, sterflik wees. Dis in die wisselwerking van hierdie uiterstes dat Kittie met haarself gekonfronteer word en besef wie sy nou eintlik is.

MANDY CILLIERS:

Vertolk deur EVE RASIMENI

Mandy is die golden girl wat die gewig van haar familie se nalatenskap en verwagtinge op haar skouers dra. Sy is tans in haar vierde LLB-jaar, en op pad om die derde generasie prokureur van die Cilliers-familie te raak. Sy werk hard, speel hard en doen ook alles tussenin. Sy glo in die perfekte-prentije toekoms van ’n man, ’n huis en kinders – in daardie volgorde. Mandy veroordeel, egter, niemand wat nie haar wêreld-visie deel nie. Sy is ’n uiters goeie vriend vir Kittie en Fanie, en sal uit haar pad gaan om hulle by te staan in hulle uur van nood. Sy sukkel, egter, om haar eie stem te hoor en haar eie hart te volg. Nietemin is sy baie sterk en hardkoppig, het sy hope selfvertroue, en skroom sy nie, al is dit hoe moeilik of ongemaklik, om te sê wat gesê moet word nie.

FANIE NORTJE:

Vertolk deur HENDRIK NIEUWOUDT

Fanie is alles wat fantasties, flambojant en vermaaklik is. Die oomblik wat jy hom ontmoet kan jy nie anders as om op hom, en die energie wat hy uitstraal, verlief te raak nie. Hy is 22 en studeer joernalistiek saam met Kittie, maar droom eintlik om ’n beroemde akteur te word. Fanie hou daarvan as die lewe lig is en dus kies hy om die swaar dinge te vermy. Dit veroorsaak dat hy baie limited selfkennis het, omdat hy nie die dinge oor homself kan glo waarvan hy nie hou nie. Fanie wil graag bewonder word en sal gewoonlik enige iets doen en sê om aandag te kry. In general, maak dit hom die meeste fun in die wêreld, maar sy roekeloosheid met woorde maak soms die mense om hom baie seer. Van tyd tot tyd laat val Fanie sy fasade en sien ’n mens glimpses van die ware hy en dis telkens in hierdie oomblikke wat wie ook al saam met hom is, so na aan magic kom, as wat ’n mens op aarde kan.

DRIKUS NAUDÉ:

Vertolk deur ARNO GREEF

Drikus, ’n LLB student, is ’n quick thinking, fast talking, charming son of a bitch. Hy hou daarvan om ’n potjie gholf saam met iemand belangrik te speel, en hulle dan te ‘laat wen’. Hy is arrogant en selfbehep, maar weet ook presies wanneer om al sy aandag op jou te werp, dat jy soos die middelpunt van die heelal voel. Sy waarde sisteem is gekoppel aan materiële welvaart en status #winning. Hy is, egter, ’n baie lekker tyd, altyd die lewe van ’n partytjie en reg vir ’n avontuur.

JOUBERT MULLER:

Vertolk deur ALMAR MÜLLER

Joubert is ’n pretty stand-up guy. Hy weet wie hy is en wat hy in die lewe wil hê. Hy is ambisieus, maar nie luidrugtig daaroor nie. Hy is nie kompeterend nie en het ’n baie gemoedelike geaardheid. Hy laat mense gemaklik voel en, dus, hou hulle oor die algemeen maklik van hom. Hy het ’n goeie sin vir humor en is baie intelligent, maar voel nie dat hy dit hoef af te show nie. Hy is gemaklik in sy eie vel, goedhartig en oordeel nie sommer nie, maar hy sal hom ook nie laat rondstoot nie. Hy is, egter, ook baie hardkoppig en laat hom nie maklik van iets oortuig as hy eers ’n standpunt ingeneem het nie.

JULIE HARRISON:

Vertolk deur ANNA-MART VAN DER MERWE

Julie is ’n liefdevolle, busy body tannietjie, met veels te veel tyd op haar hande en kies om dit te gebruik om ander mense te help – sy is by elke chemo-sessie aan haar man Len se sy. She needs to be needed. Julie has been around the block a few times, en word nie maklik deur iets verras nie. Tog het sy ’n ligsinnige, prettige aanslag tot die lewe – as dinge sleg gaan, kan ons ten minste nog saam daaroor lag, nie waar nie? Sy is só onbeskaamd haarself, dat dit aansteeklik is vir almal met wie sy in aanraking kom. Sy leef haar lewe met die selfvertroue van iemand wat nog nooit tekortkominge gehad het nie. Hoewel sy baie welaf is, is sy glad nie geheg aan besittings nie, en deel sy graag dit wat sy het met ander. Sy hou van kook en bak en ’n lekker skinder-sessie. Julie is die een wat vir Kittie leer om die mooi in die swaarkry en gebrokenheid van die wêreld raak te sien.

LEN HARRISON:

Vertolk deur FRANK OPPERMAN

Oom Len is die sout van die aarde. ’n Goeie, eerbare man wat sy hele lewe lank hard gewerk het en sy familie ondersteun het. Hy het met sy eie besigheid baie goed vir homself gedoen, en verseker dat sy vrou en kinders meer as genoeg gehad het om van te lewe. Len het ook ’n lekker stuitige kant, en daar is altyd ’n stoute glinster in sy oog. Hy kan, egter, nogal  ’n bietjie van ’n grompot wees. Dan rol Julie maar net haar oë en laat hom aangaan oor wat ook al hom nou weer pla. Maak nie saak hoe die twee oor een weer stry en banter nie, daar is altyd ’n onvermeidelike onderliggende liefde tussen hulle.

LOUIS ELS:

Vertolk deur RUAN BLUM

Louis is  ’n baie stabiele, tog sensitiewe, filosofiese tipe mens. Hy het uitstekende perspektief op die wêreld en weet dat dinge soms groter voel as wat dit regtig is. Hy is die ou wat kalm bly tydens ’n krisis. Hy kan soms ’n klein bietjie passief wees, iets wat goed uit-balanseer word deur Fanie se impulsiwiteit. Omdat Louis se belangstellings baie akademies en kultureel van aard is, kom hy soms pretensieus voor. Hy het, egter, ’n baie klein hartjie en voel sterk empatie met alle mense. Hy hou maar net van sy eie wêreld mooi en pleasant.

SUZET HOLTZHAUZEN:

Vertolk deur HENRIËTTA GRYFFENBERG

Suzet, Kittie se Ma, is ’n baie aangename, intelligente, outgoing mens, maar beskik nie oor die vermoë om werkilike verhoudings met mense te bou nie. Hoewel sy met meeste mense oor die weg kom, kan sy nie waarlik intieme verhoudings met hulle vorm nie. Sy is totaal self gesentreerd, gedryf deur haar emosies, impulsief, melodramaties en nie regtig in kontak met die werklikheid nie. Sy het nodig om nodig gehad te word, maar net tot op die punt waar sy voel sy nie meer die centre of attention is nie. Sy hou daarvan om aan haarself te dink as ’n ridder op ’n wit perd, maar kan nie in die realiteit die rol volstaan waarin sy haarself cast nie.

Tydelik Terminaal word Woensdae om 20:00 vanaf 30 Oktober op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. Deel die goeie nuus met jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #TydelikTerminaal.