Logo

Ontmoet die karakters – Desemberdiewe

Nuus
12 Desember 2022
Leer ken wie die karakters is in die film Desemberdiewe.
Desemberdiewe

Kykers kan Saterdag 17 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) inskakel vir Desemberdiewe – ’n fliek wat die hele gesin saam kan geniet.

Dis somer en Kersfees is om die draai. Jó (Judi Hattingh) en haar ma, Retha (Roeline Daneel), het onlangs na ’n klein dorpie getrek, maar Jó sal liewer op enige ander plek op aarde wees as daar. Nadat sy van karma leer, besluit sy om Kersfeesgeskenke van die rykes te steel en aan die kinders by die weeshuis uit te deel, dis die ideale manier om aan die universe te wys sy verdien beter behandeling.

Sy ontmoet vir Lem (Juan-Christoff Smith) en Azul (Blake Pharo) en dié aardige klein bende begin planne smee onder die waaksame oog van die plaaslike polisieman, Sersant Kleingeld (Marvin-Lee Beukes).

Leer ken die karakters:

Die diewe

Jó – Judi Hattingh

Jó wil net haar vakansie geniet, maar sy is nuut op die dorp en dis moeilik omdat haar ma, Retha, by die ouetehuis werk. Al wat Jó wil hê, is ’n foon, want dan kan sy haarself darem besig hou, maar tot dan speel sy maar rond.

Jó het egter ’n donker sin vir humor en wat sy snaaks vind, ervaar die meeste ander as stout. As iets gebeur, is Jó ook altyd vinnig om weg te hardloop en te sê dit was nie sy nie. Sy glo sy kan alles alleen doen, maar dis eintlik omdat sy bang is niemand wil haar maatjie wees nie.

Lem – Juan-Christoff Smith

Lem is die duiweltjie op Jó se skouer. Hy is eksentriek, Portugees, Rooms-Katoliek en geheel en al homself. Hy het niks of niemand nodig net – net avontuur en gevaar. Hy kan ure in sy eie geselskap wees, besig met wat ook al sy aandag hou. Hy geniet die lewe. So, hy maak gereeld mense skrik, doen dansies of vertel grappies om almal jolig te hou, maar almal verstaan nie noodwendig sy sin vir humor nie. Dit traak hom egter min. Hy is vreesloos homself. Hy gaan wel altyd te ver en hy het geen perke nie, want as hy eers ’n idee in sy kop het, sal hy enige iets doen om sy plan deur te voer.

Azul – Blake Pharo

Azul is die engeltjie op Jó se skouer. Hy is ’n goeie, hulpvaardige kind wat skofte doen by sy tannie se kafee. As iets nie op die rakke is nie, vra hy vyf minute en spoor dit vir jou op. Hy kan enige iets kry en sal jou help waar hy kan. Hy’s ’n gebore smous en handelaar, maar twee van sy eienskappe ondermyn sy sakevernuf: sy omgee en sy eerlikheid. Azul kan glad nie jok nie en al sou hy miljoene kon maak, is ander se geluk sy geluk.

Funeka – Nozuko Mabi

In Jó se oë is Funeka die bad guy. Sy is van ’n ryk familie en het oorgenoeg, maar stel stalletjies orals op met duur speelgoed wat sy wil verkoop en niemand eintlik kan bekostig nie. Met haar is Funeka parmantig en beterweterig, maar eintlik is se – nes Jó – baie trots, en daarom baie sleg met vriende maak. Haar stalletjie is haar idee van mense naderlok, maar nes Jó, is sy net te skaam om te sê wat sy eintlik wil hê.

Die grootmense

Retha – Roeline Daneel

Retha is Jó se ma en werk as ’n verpleegsuster by die dorp se ouetehuis. Hulle het ’n maand gelede hierheen getrek agter ’n nuwe werksgeleentheid aan en ter wille van finansies en ’n nuwe begin. Retha werk verskriklik hard en probeer haar bes om ’n goeie ma te wees, maar Jó maak dit nie maklik nie. Retha gee diep om, daarom die liefde vir die ouer gardes en die liefde vir Jó, maar haar geduld word daagliks beproef.

Sersant Anthony Kleingeld – Marvin-Lee Beukes

Sersant Kleingeld is geweldig trots op sy dorpie – die veiligste dorp in die land, wat gewoonlik oor Desember net ’n breeze is. Meeste mense gaan weg vir die vakansie. Selfs sy werksdae voel dus soos vakansiedae. Dié dat hy maar altyd sy visstok, gholfstok en tennisraket byderhand hou, net ingeval hy dalk verveeld raak. Die nuwe verpleegsuster op die dorp laat sport egter soos ’n mors van tyd lyk en skielik wil hy vreeslik gereeld vir sy ma, Sandy, in die ouetehuis gaan kuier. Dit irriteer hom geweldig wanneer sy romantiese planne onderbreek word deur ’n pestilensie wat kinders se Kersgeskenke steel. Of is dit dalk kinders wat maak of hulle Kersgeskenke gesteel word? Hy weet nie, maar hy wil dit vinnig opklaar sodat sy dorp se reputasie en sy liefdeslewe dié Desember oorleef.

Sandy Kleingeld – June van Merch

Al wat Sandy wil hê, is ’n pak sigarette. Daar is niks so vervelig soos die ouetehuis nie en as sy dan nou hier moet sterf, sal dit met ’n sigaret in die mond wees. Haar grootste vyand in die ouetehuis is Betsie, wat altyd haar poker-planne kniehalter, maar eintlik weet sy hulle is albei ewe alleen. Sy hou daarvan as haar seun, Anthony, kom kuier, maar sy gun vir hom ’n lewensmaat. In Jó herken sy die gedeelde nood om uit ’n situasie te wil ontsnap en hulle maak ’n deal – sy sal stories opmaak en vir Jó cover, solank haar sigarette aanhou inrol.

*Skakel Saterdag 17 Desember 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144)  vir Desemberdiewe. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.