Logo
Spoorloos 1600x160 Slim Homepage

Ontmoet die karakters – Spoorloos 2

Nuus
08 Julie 2020
Dit is ‘n hele nuwe seisoen met splinternuwe karakters! Kom ons gaan ontmoet hulle.
Spoorloos 1600x640 Showpage Billboard

Adam Prinsloo (Andahr Cotton)

Adam was die Prins van Buffelsdrif. Hy was die Adonis van sy dorp. Daar is nie ‘n voet wat hierdie jongman kon verkeerd sit nie. Die wêreld was aan sy voete. Dinge begin vir Adam verkeerd loop wanneer hy sy sjarme tot ander se nadeel gebruik vir sy eie selfsugtige doeleindes. Na ‘n motor ongeluk op die aand van sy matriekafskeid beland Adam in ‘n koma. Hy skrik wakker met die laaste 10 jaar se geheue uitgewis. Wanneer sy geheue, wat begin terugkom, verskil van die storie oor hoe die ongeluk gebeur het, gaan Adam op ‘n soektog na die waarheid om homself te bevry uit die tronk van sy geheue verlies.

Frans Prinsloo (Gerard Rudolf)

Adam se pa. As regter was die lewe vir Frans nog altyd wit en swart. Hy is ‘n streng pa en vir Adam voel dit baie keer asof hy op verhoor is as sy pa hom aanspreek. Die lewe vir Frans is baie eenvoudig. Doen wat hy sê en die lewe is ‘n lied. Frans is baie lief vir sy seun. Hy mag koud voorkom, maar daar is niks wat hy nie vir Adam sal doen nie. Frans het ‘n reputasie om te beskerm en daarom kan hy nie enige iets wat ‘n klat op sy naam mag wees duld nie. Wat vir hom positief is het ‘n negatiewe effek op die mense rondom hom. ‘n Les wat hy later sal leer, dalk nie die moeite werd was nie.  

Heleen Prinsloo (Ilse-Lee van Niekerk)

Heleen is Adam se brose Ma. Adam was Heleen se heelal. Daar was ‘n tyd wat sy die ‘Lady Diana’ van Buffelsdrif was. Haar geesdrif en lewenslus het stadig begin wegkwyn na haar huwelik aan regter Frans Prinsloo soos ‘n strop om haar nek geword het. Sy het vir hom onsigbaar geword. Heleen het verval in eensaamheid en depressie. Adam was die enigste lig oor in haar lewe.

Christa Viljoen (Lee Visagie)

Christa is Adam se fisioterapeut. Sy is vol lig en liefde en die versorging van ander is vir haar tweede natuur. Sy was daar toe Adam wakker word. Christa gee baie van haarself om ander gelukkig te maak. Soms tot haar eie nadeel. Sy hou nie daarvan op voorgesê te word nie en dit bring haar in konflik met Adam se pa Frans. Sy is nie bang om op te staan vir haarself nie maar vin haar ten einde altyd besig om te doen wat ander wil hê. Na Adam haar hart wen, word dit al hoe moeiliker om haar eie kop te volg.

Ben de Jager (Ruan Blum)

Ben is Adam se beste vriend en Nardus se enigste seun. Hy staan vir geregtigheid. As hoofseun was dissipline op sy beste by die skool in sy termyn. Hy is ‘n teologie student wat glo dat geloof die enigste ding is wat die kwaad van die wêreld kan oorkom. Hy is die voorbeeldigste seun wat jy ken. Ben het ‘n goeie hart en probeer altyd die stryd stry vir die wat dit nie self kan doen nie. Sy geloof maak hom dalk bietjie obsessief oor wat eintlik reg en verkeerd is.

Dr. Geoff Lombard (Johan Baird)

Hy is ‘n kliniese man wat al dieselfde haarstyl uit sy tienerjare dra. Sy geheimsinnigheid loop oral met hom rond. Hy kry nooit sy hande vuil nie en by ‘n braai is hy die ou wat instruksie gee in plaas daarvan om dit self te doen. Daar is ‘n gesag wat hy uitoefen sonder dat die wat rondom hom is dit agterkom. Sy eentonige stemtoon dra by tot misterie agter die man. Geoff is altyd in beheer van die situasie selfs al weet hy, hy is nie. Alles rondom hierdie dokter bly ‘n raaisel.

Gawie Brand (Philip Moolman)

As jy wil weet hoeveel Gawie al vir die gemeenskap van Buffelsdrif gedoen het, kan jy net vir Gawie vra. Hy sal nie skroom om jou te vertel nie. Hy is besit ‘n jagplaas met ‘n Lodge en dis hier waar die manne van die dorp die geleentheid kry om ingevoerde brandewyn te drink. Hy is ook natuurlik die beste jagter op die dorp. Eintlik is hy maar die beste alles. Dis onmoontlik om nie vriende met Gawie te wil wees nie. Vir Gawie maak geld alles reg. Jy kan geluk koop as die prys reg is.

Nardus de Jager (Jacques Gombault)

“Die lewe is alleen draaglik as mens bietjie dronk is!” Hy die hardste man by die bar. Sy storie is altyd beter as die een wat jy pas vertel het. Hy is almal se vriend en niemand kan vir jou ‘n beter ‘deal’ op ‘n Ford Bakkie kry as Nardus nie. Hy is die oom wie jy wens was jou pa. Agter hierdie joligheid sit ‘n sagte ou met goeie hart wat ook al ‘n paar foute gemaak het waaroor hy liefs nie praat nie.

Hannes Jacobs (Huey Louw)

Solank Hannes een van die ouens kan wees is hy gelukkig. Hy is nie ‘n goeie jagter nie en is meer op die ekskursie vir die samesyn. Hannes het nog nooit rêrig iewers ingepas nie. Hy is “ja-broer” en hierdie eienskap is weinig tot sy voordeel. Die res van die jagters verdra hom omdat Gawie ‘n sagte plekkie het vir ou Hannes. Hy neem baie vinnig skuld op homself en hou daarvan om bejammer te word. As hy net meer van sy eie besluite kan neem, sou die lewe ook ‘n beter plek wees vir hom.

Stoney Ruiters (Alyzzander Fourie)

Stoney is ‘n apteker en soms lyk dit of hy Geoff se handlanger is. Stoney is ‘n ernstige man en daar is nie juis veel wat mense van weet hom nie. Wat wel uitstaan is dat sy vrou amper 20 jaar jonger is as hy, wat die skinder-tonge op Buffelsdrif laat klap. Daar is min dinge wat Stoney bekommer en nie veel waarvoor hy omgee nie, behalwe jag, golf en bier. Hy is ‘n Land Rover-tipe man en hou sy neus by sy sake.

Yvette Visagie (Nastassja Pretorius)

“Stille water, diepe grond…” Yvette is ‘n buitestaander maar daar is ‘n misterie om haar wat haar laat uitstaan in hierdie klein dorpie. Daarom het sy al die ‘misfits’ van die skool onder haar spel. Sy laat hulle voel of hul êrens behoort en dit gee haar ‘n mag oor die meisies wat haar nie so lelik en leeg van binne laat voel nie. Sy is trots op haar andersheid maar het ‘n geheime begeerte vir liefde. Sy bly by haar ‘maverick’ ouma Sannie. Yvette voel alleen omdat sy voel niemand verstaan haar nie. Totdat sy Adam Prinsloo ontmoet. Hierdie liefde maak haar blind vir Adam se planne met haar. Solank sy begeer voel deur hom maak haar sin.

Wanda Ruiters (Carla-Marie Myburgh)

Wanda is Stoney se jong vrou. Sy lyk altyd of sy op die punt van ‘n senuwee ineenstorting is. Op skool was sy altyd die ‘nerdy’ meisie voor in die klas en die onderwerp van baie klas grappe. Hierdie verander alles toe sy aansluit by Yvette se ‘band of misfits’. Yvette het haar spesiaal voel en daarom sou sy enige iets doen wat Yvette wou hê. Baie vir ‘n baie lang tyd was sy gelukkig tot haar lewe omvêr gegooi word deur die groepie se dade.

Lucy Scheepers (Marilise van Wyk)

Lucy is die meisie wat almal gedink het die nimf van die skool was, maar niemand kon dit bewys nie. Nie dat sy haar veel gesteur het aan die aanmerkings nie. Anders as die ander meisies in Yvette se groepie was Lucy nie teruggetrokke nie. Sy het Yvette se geselskap verkies omdat dit nie so pretensieus was soos die res van die meisies op skool nie. Sy is ‘n ‘gaan groot of gaan huistoe’ meisie en soms is sy ‘n fraksie te veel vir die ander ‘girl’s.

Janine Roux (Lara Botha)

Janine is Yvette se 2IC. Sy is nie die aantreklikste meisie in die kamer nie en sy het vrede gemaak daarmee. Aan Yvette se sy is waar sy hoort en sy gelukkig met haar plekkie in die son. Janine is ook die stem van redelikheid in die groep. Dis net jammer daar word nooit rêrig na haar geluister nie. Sy is jaloers wanneer Yvette verlief raak op Adam en probeer haar waarsku teen Adam se sjarme.

Bettie Vosloo (Luandri Reynders)

Bettie is Adam se eerste liefde. Sy is ‘n engel. Bettie is skoonheid en reinheid self. Haar onskuldigheid maak haar self nog meer aantreklik. Haar ma hou haar op ‘n kort halsbandjie en al wat Bettie wil doen is wegbreek uit haar ma se oorbeskermende houding. Om die beeld van die porselein poppie te moet volhou sit baie druk op Bettie. Al wat sy wil doen is bietjie haar bolla los maak en bietjie meer te waag.

Monique van Dyk (Stanzi Malan)

Sy is die koel meisie in die klas wat nie ‘n voet verkeerd sit nie. Die een wie se perfektheid jou irriteer. Daar is ook min mense wat kan skinder soos sy. Monique kan ‘n storie binne minute soos ‘n veldbrand versprei. Sy is glad nie tevrede met die aandag wat Yvette en haar groepie kry nie en probeer haar bes om hulle te ontbloot. Sy wens sy het meer geweet van wat daai meisies doen.

Ouma Sannie (Charlotte Butler)

Gerugte beweer dat Ouma Sannie ‘n heks is wat ‘n spel op mense kan sit. Dit pas haar heel goed want op die manier word sy nie deur die dorp se mense gepla nie. Sy bly effe uit dorp in haar huisie met haar rottweiler en haelgeweer. Sy gebruik haar reputasie om vir desperate dorpenaars hul toekoms te lees met tee blare. Hulle is so dom, hulle sal betaal om enige iets te hoor wat hulle laat goed. Wanneer Yvette by Ouma kom bly, kry sy ‘n nuwe lus vir die lewe.

Isabel Vosloo (Elma Postma)

Isabel is Bettie se ma en dit is duidelik dat sy ‘n klein-Isabel probeer groot maak. Sy is elke dag aangetrek soos iemand wat die Koningin van Engeland gaan ontmoet vir tee. Daar is niks meer belangriker vir haar as wat mense van haar dink nie. Dis asof sy probeer opmaak vir ander tekortkominge. Sy sal eerder sterf as om die reëls van die gemeenskap se morele kode te breek. Enige mens sou wat wou gee om ‘n ma en vrou soos sy te hê.

Liesl Brand (Hanli Rolfes)

Sy was op haar dag ‘n skoonheid wat nie een man kos miskyk nie. Sy is steeds, sy glo dit net nie meer nie. Soos haar jeugdigheid haar verlaat het, het maar man Gawie, se aandag ook begin minder word. Haar gewroeg om haar man terug te wen het veroorsaak dat sy begin jonger aantrek. Sy dra te veel grimering en forseer haarself in stywe rompies. Al hierdie dinge beroof haar van die eintlike skoonheid wat sy steeds is. Liesl is een van Ouma Sannie se kliënte.

Roelien Lombard (Adriana Tollig)

Roelien is Geoff se vrou. Sy werk in die Boetiek en daar is niks wat in hierdie dorp gebeur waarvan sy nie weet nie. Sy is baie veroordelend en hou nie van die vreemde of onverwagse nie. Daarom is Yvette en Ouma met hul vreemde gedrag ‘n bedreiging vir die dorp en sy mense.

Ons kan nie wag om te sien wat alles gaan gebeur in die tweede naelbyt-seisoen van #Spoorloos nie. Gesels saam met ons op Facebook, Twitter en Instagram.