Logo
Huis Lelieveld
web uni tv guide

Huis Lelieveld

144Komedie13 L

Ontmoet die inwoners! – Huis Lelieveld

Nuus
03 Oktober 2019
Ons maak kennis met die inwoners van dié aftreeoord!
Huis Lelieveld

Poppie Delport – Verteller oftewel Skinderbek. (Hélène Truter)

Al hou sy haarself eenkant, weet Poppie ALLES van almal – binne en buite die oord. Sy mag dalk skinder, maar daar’s niks venynig in haar nie, sy vertel net die waarheid. Sy vereenselwig haarself met die inwoners en deel in hulle vreugde en pyn. Sy het in haar oudag teruggegryp na die hippie-era van ouds.


Mollie Visagie – Kwaai Matrone met ’n sagte hart. (Lizz Meiring)

Mollie vat nonsens van niemand nie. Sy’s streng en prakties met sterk morele waardes. Maar as dit kom by haar man, Wors, het haar emosies nie brieke nie. Sy’s vrek jaloers oor enige vroumens in sy lewe, en vreet hom gereeld uit, maar eintlik kan sy haar ‘rowwe bliksem’ nie weerstaan nie.

Gielie Goosen – Goedgelowige Nutsman en drywer. (Wynand van Vollentsee)

Gielie weet dat hy nie vreeslik slim is nie – hy’t selfs sy aanlegtoets gedop. Hy’s te goedgelowig vir sy eie beswil. Gepla met sy kliere. Gelukkig het hy twee meisies om daai jeuk te krap. Hy het ’n baie sagte hart – veral as dit by die ou-mensies kom. Lugtig vir sy ma.

Vis Venter – Hugh Hefner van Roodepoort. (Lochner de Kok)

Vis Venter is die grootste amok-maker in die oord. Hy dobbel, drink en beskou die oord as sy eie persoonlike Playboy Mansion. Hy voel vere vir gesag en enige reëls is daar vir hom om gebreek te word. Die dames in die oord is absoluut gek oor hom – hy kuier ook by elke liewe een van hulle. Hy is vol tattoos en is 'n Hippie wat net nooit groot geword het nie. 

Dou Droel – Predikant met voete van klei. (Matt Stern)

Dominee Droel se swakpunt is vrouens – een van die hoofredes hoekom sy vrou hom geskei het en hoekom die Kerkraad hom onder sensuur geplaas het. Die inwoners kyk op na hom en hy probeer leiding gee. Hy is ook maar mens, ook maar lus. Hy het ook ’n probleem met lang vingers.

Martha Goosen – Gielie se moeilike ma. (Karin van der Laag)

Martha het ’n bekvol te sê oor haar seun en blameer hom vir als, maar sal dit nie oorleef as hy iets moet oorkom nie. Sy het ’n interessante vriendskap met Fleur Pot en hulle skinder al te lekker. Sy het nog nooit oor haar kat, Hendriena se dood gekom nie. Sy mis haar suipgat man glad nie.

Fleur Pot – Snob sonder geld. (Elma Potgieter)

Fleur loop neus in die lug, maar eintlik is sy eensaam en op soek na ’n maat. Sy het ’n oog op Ds. Droel en trap sy drumpel deur. Sy het ’n kleurryke verlede en was duidelik ’n beeldskone, wulpse en begeerlike jong vrou met ’n stoute streep. Dis vir haar moeilik om haar huidige situasie te aanvaar. 

Spanner Proes – Kleurryke Faktotum. (Reginald Hufkie)

Spanner is ’n goeie siel en sal nooit iemand te na kom nie. In elk geval nie aspris nie. Hy en Gielie is soms haaks, maar is eintlik goeie vriende. Hy het ’n kleurryke familie wat die vreemdste goed aanvang. Vir Spanner is dit egter heel normaal want hy’t self ’n interessante lewe buite die oord.

Blaartjie Louw – Bakster en klaagster. (Yvonne Schoeman)

Blaartjie is gereeld of in Dominee of in Matrone se kantoor – omdat sy ’n klag wil lê. Sy sit heeltemal op haar man, Brand, se kop. Sy bak vir die plaaslike tuisnywerheid. Brand hou haar besig – veral in die slaapkamer. Sy mag dalk oor vuil taalgebruik kla, maar het g’n klagtes oor hulle bed-manewales nie.

Koekie de Kok – Assistent en Paal-danseres. (Lara Lourens)

Koekie het die langste bene in die heelal, vandaar haar deeltydse werk as Paal-danseres. Sy is Ds. Droel se assistent en is baie beskermend oor hom, veral wanneer Fleur Pot hom kom pla. Sy praat voor sy dink, maar sal nooit die ‘viewer-dancer confidentiality clause’ van die Loslappie-dansklub skend nie.

Huis Lelieveld word vanaf Woensdag 30 Oktober om 20:30 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. Deel die goeie nuus met jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuisLelieveld.