Logo

Ontbytsake keer terug, verrassings wag op kykers

Nuus
20 Januarie 2017
kykNET se naweek-ontbytprogram Ontbytsake skop op Saterdag 21 Januarie 2017 weer af met ’n paar verrassings wat op kykers wag.
Ontbytsake Endboard

kykNET se naweek-ontbytprogram Ontbytsake skop op Saterdag 21 Januarie 2017 weer af met ’n paar verrassings wat op kykers wag.

Aanbieders Dawie Roodt en Eloise Cupido gaan vir ’n paar weke nie op die program te sien wees nie, maar moenie skrik nie – hulle is net op verlof. Dawie en sy gesin is nog op ’n ski-vakansie en Eloise en haar man maak gereed vir die koms van hul eersteling.

KYK: Ontbytsake: Blapse

Whiskey drink in -20⁰C temperature


Dawie, sy vrou en driejarige tweeling hou heerlik vakansie in die dorpie Levigno in Italië. “Dit vat ongeveer 24 uur om daar te kom. Dis ’n belastingvrye dorpie, omdat dit so ver weg is en dit so erg koud daar raak,” vertel hy.

“Die koudste wat dit tot op hede daar was is -25 ⁰C en as dit lekker warm is, word dit -5 ⁰C. Ek het gaan hardloop toe dit so -21⁰C was. Dit is baie, baie moeilik om in daardie kondisies te hardloop en ’n mens moet beslis baie spesiaal aangetrek wees. Dis veral jou gesig wat ’n probleem is – daar vorm yskristalle op jou ooghare wat later soos stalagtiete oor jou oë hang. Dit is so koud, selfs elektroniese apparate soos selfone wil nie lekker werk nie; ook nie kameras nie, so dit is moeilik om dit af te neem.”

’n Laagtepunt vir hom was om so ver te reis met hul tweeling. “Een van hulle, Yulia, het weggeraak op Kaïro se lughawe (een van die stopovers wat ons moes doen op pad na Milaan). Sy het op ’n conveyor belt geklim en het letterlik binne sekondes verdwyn. Ons het amper ’n halfuur na haar gesoek totdat iemand ons sien rondhardloop het en toe vir ons gewys het waar hy haar gesien het... en toe is ons boonop amper laat vir ons vlug!”













Een van die redes waarom Dawie hierdie dorpie gekies het om in vakansie te hou, is omdat hy beplan om die Ysmarathon in Siberië te gaan doen later vanjaar en hy wou ’n bietjie oefen in die koue.

Hy en sy vrou het die kinders ingeboek in ’n kleuterskool: “Dit was ’n groot probleem – omdat dit so koud is, moet hulle so dik aangetrek word dat hulle skaars kan loop en dan bly val hulle op die ys. Toe kry ons vir elkeen ’n slee en nou trek ons die tweeling daarop rond waarookal ons gaan. Hulle kry ook ski-lesse by die kleuterskool – dis ongelooflik om te sien hoe vinnig hulle leer en hoe goed hulle alreeds vaar.”

En die hoogtepunt van sy vakansie? Om sy bottel whiskey oornag op die balkon te los sodat dit lekker koud is om later te drink.

 

Dogtertjie of seuntjie?


Ontbytsake se geliefde aanbieder Eloise Cupido het in September 2016 aangekondig dat sy en haar man, Chris, hul eersteling verwag. Nou tel hulle die dae af na die groot dag.

“Soos almal al teen hierdie tyd weet, is ek swanger met ons eersteling. Hierdie wonderlike voorreg en wonderwerk het ons laasjaar pas na ons troue te beurt geval. Ek is tans met kraamverlof en maak ywerig, opgewonde en tog ook senuweeagtig reg vir die aankoms van ons kleinding (want ons het verkies om nie uit te vind of ons ’n dogtertjie of seuntjie verwag nie!),” sê Eloise.





“My swangerskap was tot dusver geseënd, gesond en ’n wonderlike ervaring. Die hitte is op hierdie stadium effe uitputtend, maar ek lawe myself maar met yswater en koue lappies en is net te dankbaar dat ons beide in goeie gesondheid is. Ons kan nie wag om ons baba te ontmoet en hierdie nuwe avontuur as familie te begin nie.

“As gevolg van ons kleinding se verwagte aankomsdatum moet ek ongelukkig die eerste paar Ontbytsake-uitsendings van die jaar misloop. Blykbaar is die eerste paar weke en maande van nuwe ouerskap effe van ’n uitdagende mallemeule, so ek sien die Ontbytsake-kykers so gou as wat ek weer mens is! In die tussentyd is die wonderlike Jan-Harm en Renette daar om die vaandel aan te hou dra! Voorspoedige nuwe jaar aan almal en mag jul hierdie jaar wonderlike lewenservaringe beleef!”

*Intussen kan kykers uitsien om twee bekende Ontbytsake-gesigte te sien wat in hierdie tyd Dawie en Eloise se skoene sal volstaan. Ons gaan nie nou al verklap wie dit is nie, maar al wat ons weet, is dat getroue kykers baie bly gaan wees om hulle weer te sien! Skakel Saterdag 21 Januarie in om uit te vind wie dit is en hulle by die span te verwelkom.