Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Groot verrassings op pad in Afrikaanse sepies in November-maand

Nuus
04 November 2022
Die ding gaan ruk in jou gunsteling sepies tydens November.
Afrikaanse sepies November

Binnelanders

Gaby is bekommerd oor haar pa en neem ’n besluit wat gevolge het. Annoniem en AB se identiteite word onthul en lei tot verskeie emosies. Ewa Marinov daag by Binneland op en wen almal se vertroue… Dit blyk vinnig dat sy nie gras onder haar voete laat groei nie.

Karen gee vir Tracy raad, Tertius sit sy voet met haar neer, sy kry nuus oor Tonik, en sy word uiteindelik betrap. Die hospitaal gons wanneer een van Steve se pasiënte blyk om ’n baie bekende persoon te wees, en Zee en Liam soek antwoorde oor ’n onverwagse gesig by Ongevalle. Naomi het ’n liplekker-plan vir Kersfees, maar Kerskoeke ontaard kort voor lank in ’n hoofpyn.

Conrad is uiteindelik eerlik met homself, en Zee stel vir Steve aan Nicolette voor. Jeremy let iets vreemd in Amoret op, terwyl Steve en Delia oop kaarte speel. Nicolette speel ’n gevaarlike speletjie wanneer sy vir Dawid begin geselskap hou, en Louis maak ’n groot ontdekking. Annetjie word in Ongevalle opgeneem, en Steve ontvang ’n vreemde oproep vanuit Nigerië. Karen sukkel om haarself rondom Nicolette te beteuel, en Louis het ’n nuwe idee beet oor hoe om geld in te samel.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Diepe waters

Die matriekafskeid is nie die enigste groot gebeurtenis in November in Diepe Waters nie: daar is ook 'n permanente afskeid waarop niemand voorbereid is nie.

Almal spring rond om te help waar hulle kan, want dit wil voorkom of die jongspan nie voorbereid is op die spoggeleentheid nie. Maar wie het dan nou nie klere vir die besigheid nie? Gaan almal die aand kan geniet sonder om gebuk te gaan onder die spanning van ‘tantrums en tiaras’? 

Meghan se besigheidsidee wil net nie vinnig genoeg van die vloer af kom nie. Jacques dink hy weet hoe Meghan sy pa moet benader, maar Meghan wil eers iemand anders probeer beïndruk. Verwag Gys dalk te veel, te vinnig, van Meghan?

Zelda het ’n slinkse plan om Gys vir nog meer geld te melk, maar wanneer sy ’n voorlegging aan Donovan maak is daar ’n belangrike legkaartstuk waarvan sy nie bewus is nie. Dit lyk ook asof Zelda nie haar geheim vir te lank gaan kan bewaar nie, en sy sal vining aan verskonings moet begin dink om haar afwesigheid by die salon te verklaar.

Sanet kan nie langer 'n moordkuil van haar hart maak nie, en sy die verlede hardloop oor haar tong soos ’n goeie glas wyn. Sanet soek antwoorde onder in die bottel, en Lydia vat haar vas. Die situasie begin handuit ruk, veral wanneer Anja haar verskyning maak. Haar afwesigheid van 20 jaar krap ’n paar mense se lewens om: Sanet probeer haar oorreed om weer die pad te vat, maar Rossouw het ander planne.

Anja sukkel om haar gevoelens teenoor Lydia te verwerk, maar begin ook besef dat Karla dalk met groter probleme sit as waarvan almal bewus is – en dit gaan nie net oor die toelatingseksamen se uitslae nie. Leon dryf die wig tussen Sanet en Anja verder, en die wrywing tussen die oupas eindig in ’n gesprek met die vuiste wat vir Karla ’n groot verleentheid is.

Lettie is op ’n missie om Henry se verlore St. Christopher op te spoor, en dit plaas Henry in ’n verknorsing. Hy probeer iets om sy inkomste te vergroot, maar hy gaan op Lady Luck moet staatmaak om te verseker dat dit werk – en Lady Luck is ’n glibberige vis…

Diepe Waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster

Donkerwolke pak oor Ruiterbosch saam en die gemeenskap leef in vrees met ’n reeksmoordenaar in hul midde. Pastoor Gustav se geliefde dogter, Anja, is een van slagoffers, terwyl die polisie Siya van die gruweldade verdink. Siya poog hard om sy onskuld te bewys, maar probeer hy dalk net met moord wegkom of is daar ’n ander inwoner wat Siya die sondebok probeer maak?

Junaid se liefdeslewe lyk ook belowend na Rhafiek en Kaashifa hom aan Shahiema voorstel en dié twee is net te poenankies. Junaid wil egter briek aandraai, want hy is eintlik verlief op Danni – en met Siya as verdagte nommer een in die moordsake, hoop Junaid om Danni se ridder op ’n witperd te wees.

Elana en Nelia wend ook talle pogings aan om hul ma-en-dogter-verhouding te herstel, maar dit is makliker gesê as gedaan. Boonop begin dit lyk of Justin en Susan se verhouding nou in troebel water is, weens Elana wat vir Susan gevra het om ter wille van Nelia voor te gee dat hulle nog getroud is. Terselfdertyd staar Justin se DJ-besigheid ook ’n onsekere toekoms in die gesig, en ’n ou skoolvriend van hom bemoeilik ook sy lewe.

Suidooster is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Arendsvlei

Dis nog nie eers die einde van die jaar nie en ’n blaaskans is nog ver vir die Arendsvleiers. Nadat Janice en Lionel hul baba verloor het, bied Ayesha aan om hulle surrogaat te wees. Janice en Lionel is uit die veld geslaan van gelukkigheid, maar nou moet Janice en Ayesha eers hul ouers se toestemming kry, want in Islam, is surrogaatskap garaam. Sal Ayesha se ouers haar en haar suster se droom goedkeur?

Beatrice het lanklaas van ou Clint gehoor en hier kry sy skielik ’n uitnodiging van ’n ou vriend… Die skool op die plaas waar hy werk, het hulp nodig en Beatrice dink nie twee keer voor sy ja sê nie. Die skool het haar nodig en sy het ’n verantwoordelik. Haar familie probeer haar laat bly, maar Beatrice is vasbelote. En wat Beatrice nie weet nie, is dat daar baie onverwagte gesigte op daai plaas gaan wees…

En dan is liewe ou Petra terug in die Vlei. Jy sal onthou dat Petra omtrent vir almal ’n nagmerrrie was in Arendsvlei en sy het glad nie verander nie. Die enigste ding wat verander het, is dat liewe Petra en Hein vrede gemaak het en nou liefde gevind het. Wat gaan Hein vir Yvette sê? 

Arendsvlei is weeksdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerke #DiepeWaters, #Arendsvlei, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.