Logo

Ons Sprokiesbruilof: Etiket vir bruilofgaste

Nuus
23 Junie 2017
Nataniël gee etiketriglyne vir gaste by bruilofte.
OSB Nataniel Gaste Etiket

Al kyk jy weekliks Ons Sprokiesbruilof en al was jy al by baie bruilofte, hoe kan jy weet jou gedrag is werklik aanvaarbaar? Een opsie is om vir Nataniël te vra. Hy keer binnekort terug na kykNET vir Edik van Nantes 3, maar vir eers kan hy ons leer oor goeie maniere vir gaste by bruilofte.

LEES OOK: Etiket vir bruidspaartjies

Is dit aanvaarbaar om ná die bruilof of wittebrood eers ’n trougeskenk te gee?

“Ja dit is, dan het jy ’n beter idee van wat die paartjie nodig het en nie reeds gekry het nie. Maar gee ’n kaartjie waarin jy dit duidelik stel dat dit jou plan is.”

Is dit aanvaarbaar om ’n (alkoholiese) drankie te nuttig, nog voor die seremonie begin het?

“Nie voor die erediens of seremonie nie, maar wel voor die onthaal. Sorg dat jy iets in jou maag het. Iemand wat drink op ’n leë maag, raak simpel, maar glo vas hy is snaaks of oulik.”

As jy nie die bruilof bywoon nie, moet jy eintlik steeds ’n trougeskenk koop?

“Dis wat ek doen. Daar is niks erger vir ’n besige mens om ’n klomp troues by te woon nie, dis gewoonlik net lekker vir die paartjie. Stuur ’n geskenk en gaan aan met jou lewe. Maar jy is onder geen verpligting as dit nie goeie vriende is nie.”

Wanneer is dit aanvaarbaar om op jou telefoon besig te raak met sosiale media ensovoorts by ’n bruilof?

“Nooit. ’n Selfoon by ENIGE sosiale geleentheid is swak maniere, al doen ALMAL dit. En die bruidspaar besluit self OF en WANNEER hulle iets op sosiale media wil wys.”

Wat is die vroegste wat jy die onthaal kan verlaat, sonder om ongeskik te wees?

“Sodra nagereg bedien is. Tensy almal, insluitende die bruidspaar, te veel drink en die ete URE neem, dan kan jy vertrek op ’n tyd wat ’n goed-georganiseerde funksie sou klaargemaak het. As jy wel rede het vir ’n vroeë vertrek, lig die paartjie vooraf in.”

Kan jy met arms vol vergete dankie-sê geskenkies by die bruilof wegloop?

“Nee, wat is jy? Neem wat duidelik vir jou gegee [is] en vertrek net daarmee.”

Ons Sprokiesbruilof se finale episode word Donderdag 29 Junie om 20:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).