Logo
Terwyl Ek Wag
web uni tv guide

Terwyl Ek Wag

144LeefstylPG

Nataniël herverbeel en inspireer wéér in Terwyl ek wag

Nuus
08 September 2021
Terwyl ek wag skop af op Maandag 4 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Terwyl ek wag Launch BB

Kos, kultuur, geskiedenis, vakmanskap en vermaak word verruklik verpak in Nataniël se nuutste leefstylprogram, Terwyl ek wag, wat Maandag 4 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin uitsaai.

Wat doen ons terwyl ons wag en wat gebeur ná die afwagting?

In 1721 wag Nataniël se Franse-voorvader, Jean le Roux, 16-jaar om ’n stuk grond tussen Kaapstad en Stellenbosch te koop. Dít nadat le Roux en sy familie moes vlug na Suid-Afrika van Blois in Frankryk om ’n nuwe lewe te maak op die plaas. Deel van die erfenis van die Franse Hugenote het kos, boerdery, wynmaak en kookkuns vir ewig in Suid-Afrika beïnvloed. Dís die vertrekpunt van gasheer, kunstenaar en kok, Nataniël, se nuutste reeks, Terwyl ek wag. En ’n oorrompelende en betowerende avontuur wag op kykers.

Terwyl ek wag mag miskien klink asof dit bloot net nog 'n kosprogram is, maar dit is veel meer en uiters gepas vir hierdie vreemde tye. Geskiedenis herhaal homself gereeld en op vele maniere,” sê Nataniël oor inspirasie vir hierdie hele projek.

Elke episode het ’n tema en daar word op iets gewag en voorberei.

Die wag, die bou van ’n nuwe tuiste, kos, en vaardigheid is van die temas waarna kykers kan uitsien in Terwyl ek wag. Ons leer deur die hele reeks by kenners, kunstenaars, en vakmanne. Nataniël herskep ‘n wêreld maar skep dan ook ’n nuwe een.

Terwyl ek wag was hoofsaaklik in die oorspronklike, meer as 300 jaar-oue plaashuis, verfilm.

Die kombuis, eetkamer, stoep, ateljee, tuin, rivier, woud, wingerd en plaaspad word met die hulp van kunstenaars, meubelmakers en ontwerpers herskep en stelle word geklee soos net Nataniël kan. Die wêreld wat geskep word, beweeg en groei elke keer. Elke oomblik word skilderagtig ingeklee.

“Enige avontuur saam met Nataniël beloof om propvol vindingryke idees, nuttige informasie, visuele verruklikheid en hope vermaak te wees en Terwyl ek wag is geen uitsondering nie. Nataniël verweef die praktiese alledaagse met betowerende inspirasie,” sê Berdene Burger, vervaardiger van die reeks.

"Ons stap al 'n lang pad saam met Nataniël en dit bly inspirerend om saam met hom te werk. Dis ongelooflik om te sien hoe hy 'n duisend uiteenlopende idees saam verweef in een tapestrie van skoonheid," voeg die regisseur, Janhendrik Burger, by.

Nataniël bring nie net vertroosting vir kykers met hierdie nuwe reeks nie maar ook verhale, historiese geregte en tonne verrassings. Boonop sing hy ook vir die reeks!

Oorspronklike musiek was geskryf en opgeneem vir Terwyl ek wag. Twee musiekstyle, Franse klassieke rolprentmusiek en Europese Jazz, word gemeng.   

Kostuums vir die reeks is geïnspireer deur die Franse Hugenote-drag, kultuur en historiese ontwerpe vanuit die 17de en vroeë 18de eeu. Hierdie 13-episode reeks vermeng die oud en die nuut op ’n eiesoortige manier.

Terwyl ek wag begin Maandag 4 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai.