Logo

Ons Sprokiesbruilof: Clifford en Rochelle

Nuus
18 Mei 2017
Ons Sprokiesbruilof kuier dié week in die mooie Kaap, waar Clifford en Rochelle ewige trou aan mekaar gaan beloof.
OSB Clifford Rochelle Bill

Clifford Solomons (45) en Rochelle Daniels (43) woon in Kaapstad en Rochelle sien uit na die dag wat sy haar van gaan “verloor”. Die lewe begin mos wanneer jy veertig word, spot Rochelle.

Die ontmoeting

Clifford en Rochelle werk vir dieselfde maatskappy, en het in verskeie afdelings gewerk tot Rochelle op ’n dag na die afdeling waar Clifford werk oorgeplaas is.

“Die oomblik toe sy by die deur instap, toe sê ek: ‘Wow’!” vertel Clifford oor die dag wat hy Rochelle vir die eerste keer gesien het. Hy sê sy het eers probeer om agter iemand weg te kruip, “maar ek het haar klaar gesien toe!”

Rochelle meen sy het in ’n mate ook só gevoel. “Dit was asof daar vir ’n oomblik niemand anders bestaan het nie,” sê sy. “Ek het gehou waarvan ek sien.” 

Die verlowing

Clifford het in een van die restaurante waar hulle werk op ’n tafel gaan staan en sy liefde aan Rochelle verklaar. “Ek is nou moeg van die lyn in die water gooi en as ek inkatrol dan het die vis net my byt afgeëet van die hoek af en so aan,” het Clifford gesê. “Nou het ek ene wat aan die hoek is – sonder byt – en ek gaan hom nou inkatrol!”

Rochelle sê: “Ja, dis seker hoekom ek so mal is oor hom!”

Die troue 

Die paartjie wou al ’n jaar terug afhaak, maar het besluit om die troue uit te stel toe Clifford sy arm in ’n ongeluk beseer het.

Hulle trou by Tiger’s Milk-restaurant in Muizenberg (een van die restaurante wat deel is van die maatskappy waarvoor hulle werk) ná Rochelle met ’n vriendin gesels het oor hul groot dag.

Dié vriendin het voorgestel hulle trou sommer in dié restaurant en aangebied om Rochelle met alles te help. Maar op een voorwaarde: Rochelle moet in wit trou.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).