Logo
Mooiweer en warm
web uni tv guide

Mooiweer En Warm

144Drama13 VL

Om te leer by oud en jonk - Mooiweer en Warm

Nuus
07 Maart 2023
Ons leer meer oor Geon Nel en Marisa Drummond van Mooiweer en Warm.
mooiweer en warm

Geon Nel en Marisa Drummond het hulle deur die jare gevestig as uiters talentvolle akteurs van hulle generasie. In Mooiweer en warm (Dinsdae 20:00 op kykNET en beskikbaar op Catch Up) is hulle onderskeidelik Alex en Issie, die sakeman en die dominee wat met lang oë na mekaar kyk.

 

Wat het jy die meeste van Issie geniet?

Marisa: Issie se eerlikheid het my nogal aangeraak. Nie net teenoor ander en spesifieke situasies nie, maar haar vermoë om eerlik met haarself te wees en om te weet wanneer om haarself van ’n situasie te verwyder.  Om eerder haar gedagtes skoon te maak en te sorg dat wanneer sy weer ’n bydrae kan lewer, dit positief en eerlik sal wees. Haar broosheid en haar menswees.

Wat het jy die meeste van Alex geniet?

Geon: Dit was baie lekker om Alex te speel want hy is ’n baie reguit ou. Hy is agtermekaar ou tot hy die dominee ontmoet en dan begin dinge vir hom uitrafel. Dan is daar natuurlik ook sy skoonma ...

Die rolverdeling is jong en meer gevestigde spelers. Wat bring julle in mekaar uit?

Marisa: Om so groep gemengde akteurs te hê, is opwindend. Die nuwe generasie akteurs het geen vrees nie en bars net in met ’n performance. Hulle lê soveel makliker hulself bloot as die ouer groep. Ons was seker ook maar so, maar dis ’n goeie reminder om braaf te wees met jou keuses en het definitief weer vir my ’n ander uitkyk op speel gegee. 

Maar hoe lekker om saam om ’n tafel te kan sit en wysheid deel - nie net teks nie, maar lewenswyshei). En ook goed om te weet in die jong spelers se brawade lê daar tog maar ook onsekerheid en dat dit ons verantwoordelikheid is om te lei, te koester, te omhels en vlerke te gee.

Geon: Dit was baie lekker gewees. Mens sê altyd jy leer by die ouer garde en ek leer elke keer by hulle, maar dan leer mens net soveel by die jonger spelers. Dit is ’n heel nuwe energie wat hulle bring. Ek sit so in die middel en leer by almal – oud en jong - van speltegnieke en spelstyle. Die ouer garde bring ervaring, maar die jonger garde bring weer kennis van tegnologie oor dinge soos sosiale media.

As jy moet kies: teater of TV?

Marisa: Om te kies is vir my ’n baie onregverdige vraag. Ek is ontsaglik passievol teenoor en lief vir  beide mediums. En albei gee soveel terug aan ’n mens. Soms betaal die een beter as die ander (tong in die kies), maar as jy bereid is om ten volle oor te gee aan die een of die ander, voor die kamera of agter of in die produksiekantoor, op die verhoog of in die wings (voor in die koor of agter) is die proses ongelooflik vervullend.

Geon: Ek kan dit nie antwoord nie want dit is al twee. Ek het vir baie jare teater gedoen en daardie dissipline oorgeneem TV toe. Niks kom naby daardie gevoel van ’n lewendige gehoor nie, maar aan die ander kant kan mens spanning opbou in TV, tegnieke gebruik en meer as een kans kry om die beste moontlike produk te lewer. Met teater is live. Wat gebeur, gebeur. Maar nee, ek kan nie kies tussen die twee nie.  

Wat was vir jou die hoogtepunt van die opnames?

Marisa: My absolute hoogtepunt was die mense saam met wie ek die projek kon aanpak. Teks, akteurs, produksie en crew. Van begin tot einde was almal, reg deur die bank, een honderd persent toegewyd om die bes moontlike produk vry te stel. En om elke dag in ons regisseurs se wêreld te kon klim was opwindend.

Geon: Ek kan nie een uitsonder nie. Om saam met nuwe mense te werk en weer saam met ander te werk. Die ongelooflike dinamika tussen die twee regisseurs, Zandré Coetzer en Ephraim Gordon, en die energie wat hulle bring. Dit was verfrissend. Ook die storie en waarheen dit gaan. Dis moeilik om iets uit te sonder want die hele proses was ’n ervaring.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Marisa: Ek is tans besig om te verfilm aan ’n nuwe dramareeks vir kykNET en het onlangs my eerste filmteks ingehandig vir ’n kykNET Storiefilm. Ek sien uit na nuwe uitdagende projekte.

Geon: My jaar is propvol. Behalwe dat ek verder studeer, doen ek die eenmanstuk Hoerkind wat gegrond is op Herman Lategan se biografie en by die Suidoosterfees debuteer en dan na die ander feeste sal gaan. Ek speel ook in Geen teks saam met Deon Lotz wat by die KKNK en die Suidoostefees is en in Mooiplaas saam met René Cloete, Curtley Pitt en Liandé Valentyn wat deel van NATi se Jong Sterre-program op die Suidoosterfees is. Ek kan glad nie kla nie!

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir #MooiweerEnWarm en gesels saam op FacebookTwitter en Instagram