Logo

Om en om: Die ewige soeke na die liefde

Nuus
09 Februarie 2023
Leer ken die karakters van kykNET se Valentynsdag-fliek "Om en om".
Evan Hengst en Ilse-Lee van Niekerk

’n Hele paar interessante karakters is te sien in kykNET (DStv-kanaal 144) se Valentynsdag-fliek Om en om met van die land se talentvolste spelers wat hulle vertolk.

Om en om is ’n fliek vir almal wat in die liefde glo en selfs hulle wat daaraan twyfel en is in en om Kaapstad verfilm. Die draaiboek is deur Retief Scholtz en die regisseur is Willem Grobler. Die klankbaan is deur Chad Zerf gekomponeer.

Sybrand Meyer (Evan Hengst) is ’n valerige rekenmeester wat eerder sterre wil kyk as om saam met vriende te gaan jol. Sy lewe word egter omvergegooi wanneer hy aanbied om sy kollegas op ’n Vrydagaand rond te ry.

Liesl Tredoux (Ilse-Lee van Niekerk) is ’n werkverslaafde prokureur wat die een saak na die ander wen. Sy lewe ’n vaal bestaan met gesonde smoothies in die oggend en ure in die kantoor.

Jo (Cintaine Schutte) is Liesl se kollega en die bitsige boelie op kantoor. Sy is jaloers op Liesl en sal enigiets doen om haar te verneder.

Merwe (Greg Kriek) werk saam met Sybrand en is meer behep met sy spiere as sy intellek. Hy dink hy is alles wat vroue ooit wil hê.

Estelle (Erica Wessels) is Liesl en Jo se dinamiese baas vir wie werk en sukses beslis belangriker is as die liefde.

Sulky (Melt Sieberhagen) is ’n hanswors wat ballonne in Kaapstad aflewer en nou nie juis oorloof van vreugde nie.

Veronica (Daneel van der Walt) is ’n getatoeërde kroegvrou wat in ’n paar kinkels betrokke raak by die karakters se soeke na liefde.

Julia (Ira Blanckenberg) se ouer wysheid probeer Sybrand wys dat daar wel so iets soos die liefde bestaan, maak nie saak hoe seer jy gekry het nie.

Romano (Albert Maritz) is Julia se geliefde wat alles vir haar sal doen.

Om en om is nie net ’n fliek oor die soeke na liefde nie. Dit is ook ’n liefdesbrief aan Kaapstad met tonele wat in die ikoniese De Waal-park en die Planetarium in die middestad verfilm is.

  • Om en om, ’n speelfilm van 90 minute, se debuut is op 11 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.