Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

"Diepe waters" se Lettie en Henry beloof ewige trou

Nuus
27 Maart 2024
Die akteurs Stephanie Baartman en Stiaan Bruwer het raad gegee aan paartjies wat op trou staan.
troupaar in Diepe waters

’n Stralende bruid in turkoois. ’n Bruidegom deftig geklee in ’n donkerblou pak. Blomrangskikkings in skakerings van sagte blou, room en vaalgroen. Lang houttafels, sjampanjeglase en kerse. Wat meer kan ’n bruidspaar vra?

Met Lettie (Stephanie Baartman) en Henry (Stiaan Bruwer) se bruilof, wat op 20 Maart uitgesaai is, het alles volgens plan vir die twee Diepe waters-verliefdes verloop. Volgens die vervaardigers, Penguin Films, is die beplanning vir die troue reeds lank voor die verfilming gedoen. Die tonele is in die voortuin van die huis wat vir Gys gebruik word, verfilm. Die opstel van die tent, al die dekor en blommerangskikkings, die opnames van die tonele en die afbreek en wegpak van alles daarna, het binne slegs twaalf ure gebeur.

“Dis mos maar altyd lekker om ’n bruid te speel,” sê Stephanie. “Veral omdat jy nie die stres van ’n gewone bruid het nie. Ek het al die spesiale aandag met my rok en grimering baie geniet, en dit was lekker om so baie van die ander spelers daardie dag saam met my op stel te hê. Kykers weet dit dalk nie, maar as ek nie in spesifieke tonele saam met sekere spelers is nie, sien ek hulle amper nooit nie. Dit het dus soos ’n reünie in die kleine gevoel.”

Sy sê dit het nie noodwendig langer as normaalweg geneem om reg te maak vir die tonele nie. “Ons haar- en grimeerspan is so professioneel, dat hulle presies weet wat om te doen wanneer jy in daardie stoel voor hulle beland.”

“Almal was so goed voorbereid vir hierdie tonele. So, dit het nie te lank geneem nie,” sê Stiaan. “Jy kry jou grimering en klere, repeteer die toneel een of twee keer en there you goMagic!”

Stephanie en Stiaan se raad aan paartjies wat op trou staan, is prakties en op die man af.

“Wees geduldig en realisties,” sê Stiaan. “Daar gaan dalk klein dingetjies verkeerd loop, maar dis alles oukei. Onthou hoekom julle daar is.” 

“As jy genoeg geld het, kry ’n troubeplanner,” sê Stephanie. “Indien nie, trou voor die landdros en take the money and run!”

“’n Verhouding is nie altyd 50/50 nie. Somtyds is dit 30/70 en andere kere 60/40. Julle moet mekaar help. Dit gaan nie altyd perfek wees nie, maar as daar iemand aan jou sy is wat jou help, maak dit die wêreld se verskil,” sê Stiaan oor verhoudings en die liefde.

Stephanie se gunsteling-liefdesgedig is Antjie Krog se “êrens is jy”. 

hier waar ek nou skrywe
weet ek dat jy êrens is
dat jy ook nou lê onder die oop venster
en uitkyk na die donsige maan op die werf
ek is al drie jaar lank op soek na jou
en waar jy ookal is
ek sal jou vind
en as ek voor jou staan
sal ek weet: ek is vir jou gemaak
na jou liggaam is ek geskape
na jou maat gevorm
ek is gesny uit jou been
jou denke sal myne omhels
jou begin sal my begin wees
jou einde my einde
jy sal my bestyg soos ’n gier
en in my maagdelikheid jou nes kom bou
want na jou liggaam is ek gemaak
na jou maat gevorm
en as ek die dag my hand in joune sit
sal ek my padkaarte bêre met die wete:
my reise op soek na jou is nou verby.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.