Logo
web uni tv guide

Op Reis Met My Beste Vriend

144DramaPG

Nog heelwat diereplesier – én raad – op pad in Op reis met my beste vriend

Nuus
20 Mei 2023
Lees meer.
Neels & Lulu

 Sy persoonlike hoogtepunte is die liefde en omgee en om te sien hoe lief bekendes vir hulle troeteldiere is, sê die akteur Neels van Jaarsveld, vervaardiger van die gewilde troeledierprogram Op reis met my beste vriend wat op Saterdagaande om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

“Eintlik is my hoogtepunt elke eienaar en dier wat ons met die maak van die program ontmoet het,” sê hy. “Dan ook die verskeie instansies se passie, toewyding en onvoorwaardelike omgee vir diere.”

Daar is ’n gesegde in die filmbedryf dat jy nooit met kinders of diere moet werk nie, maar dit het juis gesorg vir van die snaaksste oomblik in die verfilming van die reeks.

“Elke dag was snaaks,” antwoord Neels op die vraag wat die snaaksste oomblikke vir hom was, “met onverwagse oomblikke en baie glimlagte. Twintig of meer honde wat kameramanne verswelg het my nogal laat lag. Ook Reandi Grey se dogtertjie, Heidi, het vir groot pret in episode drie gesorg.”

Die reeks se sesde episode van dertien episodes is Saterdagaand 13 Mei uitgesaai en Neels sê daar is nog baie om na uit te sien.

“Daar word nog baie interessante instansies en fassinerende mense ontmoet. Van die bekendes en hulle troeteldiere wat te sien is, sluit in die Odelle de Wet, Eloïse Cupido, Francois Jacobs en Nykie Pretorius, Carien Botha, Wilhelm van der Walt, Sue Pyler en Hanna Grobler. Dus in ’n paar woorde: Nog heelwat avontuur vir die kyker!”

Vir Neels is troeteldiere spesiaal om hulle altyd lojaal is, onvoorwaardelike liefde gee en ’n passie vir die lewe het. “Troeteldiere is uniek,” sê hy. “Hulle weet waaroor die lewe gaan.” En hoe gaan dit met Lulu, sy geliefde miniatuur spikkel-worshond? “Dit gaan goed met Liewe Lawwe Lulu. Sy kuier op die oomblik by haar Hairy Godmother – my ma.”

As daar een sêding oor troeteldiere is wat vir hom hierdie spesiale wesens beskryf, wat sal dit wees?

“Die Amerikaanse radio-omroeper en skrywer Andy Rooney het gesê: ‘The average dog is a nicer person than the average person’ en ek stem nogal saam,” sê Neels.


Op reis met my beste vriend word Saterdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.