Logo

’n Vrou vir Frikkie – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
13 Oktober 2018
Boer Frikkie is gek oor sy troeteldiere, maar maak graag plek vir ’n vrou.
BSV-11-Frikkie

Frikkie is ’n 28-jarige wildboer van die Paterson-omgewing in die Oos-Kaap. “Ons groot storie is maar jag,” sê die boer.

Op sy plaas woon die “varkfamilie”, spot die boer: twee mak vlakvarkies, ’n varkhond en Frikkie, “die grootste vark”.

Hy meen boere is ’n “bedreigde spesie”, maar vasdruk en deurdruk is sy motto. Nadat hy tydelik sy vaderland vir weivelde oorsee verruil het, sê hy: “Suid-Afrika is darem nog die beste sover.”

Sy suster het hom ingeskryf om liefde op die program te probeer vind. “Sy het gesien as sy nie gaan plan maak nie, gaan ek maar sukkel,” lag hy.

“Die stilte kan ook raas nou en dan,” sê hy, en wanneer dít gebeur, erken hy, kry hy homself bietjie jammer, maar pak dan vinnig sy tasse om bietjie uit te kom. Hy is ’n mense-mens en boonop ’n man wat gaande is oor ’n lekker avontuur.

’n Ewe avontuurlustige maat, iemand wat maklik saam met hom in die bakkie sal spring om oor die naweek weg te breek, sal goed by die boer pas. Hy meen hy het baie liefde om te gee, en wil vroulief graag in die kombuis help met groente skil en skottelgoed was. Die boer onthaal graag gaste op die plaas, en sal dan vir hulle ’n “lekker bord kos aanmekaar slaan en lekker kuier”.

Hy soek iemand wat saam met hom kan droom, saam met hom kan lag in goeie tye en langs hom sal staan in tye wat dit minder goed gaan.

Frikkie is ongetwyfeld romanties. “Roosblare is ’n doodskoot, kom laat ek julle nou vertel,” lag hy.

Solank sy mooier is as sy varkhond, spot Frikkie, sal hy ’n gelukkige man wees.

Gaan Frikkie sy droomvrou op die program ontmoet? Skakel in vir die elfde seisoen van die reeks, vanaf 18 Oktober 2018 elke Donderdag om 20:00 op kykNET. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram.

Jy kan ook deel wees van ons kykerservaring, en jou mening lug oor alles – van wie die top-5 boere gaan wees tot jou gunsteling-paartjie. Kliek hier vir meer inligting.