Logo

'n Toks & Tjops- babatjie is op pad!

Nuus
31 Augustus 2021
Binnekort gaan daar nie net braaivleis en sportpraatjies op die Toks ‘n Tjops stel wees nie – die span gaan moet plek maak vir doeke en bottels, want die nuus is pas bekend – Janina Oberholzer is swanger!
Untitled design (2)

“Ons is in die wolke!” sê Janina oor die nuus dat sy haar eersteling verwag. 

Die gewilde aanbieder wat weekliks op Toks en Tjops te sien is, het Dinsdag op haar sosiale media die nuus van haar swangerskap met al haar vriende en aanhangers gedeel. Oberholzer en haar man, Ryno van Niekerk, is sedert Februarie 2015 getroud. 

“Ons het bitter lank vir hierdie oomblik gebid en nou kan ons uiteindelik die nuus met almal deel. Ek wou al lank al die nuus verklap, maar het eers net hierdie hoofstuk saam met Ryno, geniet. Die swangerskap is sover net wonderlik. Ek voel fantasties, en is bitterlik dankbaar die morning sickness het my ‘n skip gegee.” 

Die paartjie het ook in hul sosiale media plasing bevestig dat hulle swangerskap te danke aan IVF-bahandeling is, iets waaroor mense nie altyd wil praat nie, “1 in elke 8 paartjies sukkel met fertiliteit, maar baie min praat daaroor. Ons het so twee jaar terug geleer dat IVF ons enigste opsie (vir swangerskap) is, maar het eers hierdie jaar besluit dat ons ‘n rondte gaan aanpak. Dis nie ‘n maklike pad nie. Dis hard, lank, emosioneel en het ongelukkig geen waarborge nie. My hart gaan uit aan alle paartjies wat sukkel met fertiliteit.” 

Die paartjie se pienkvoet word in Februarie 2022 verwag, maar oor die geslag wil hulle nog niks verklap nie. “Ons weet beslis! Ons weet al ‘n rukkie. Maar ons sal hierdie nuus ‘n bietjie later deel” giggel Janina opgewonde oor die foon. 

Janina is sedert 2011 te sien op die weeklikse sportprogram Toks en Tjops op kykNET (DStv-kanaal 144) saam met die oud-Bokke en mede-aanbieders Toks van der Linde en Breyten Paulse.