Logo

Met ’n knippie sout – Boer soek ’n vrou 12

Nuus
28 November 2019
Is die soektog na ware liefde aldag so rooskleurig soos wat dit voorkom?
Knippie Sout Artikel

Die bekende Engelse gesegde lui: ‘All’s fair in love and war’, maar hoe geldig is hierdie stelling wanneer jy meeding met drie ander moontlike pasmaats vir een boer se hart?

Boer Damian

Daar is ’n ligte atmosfeer op die plaas en dit wil voorkom asof almal vriende gemaak het, maar hoeveel hiervan is werklikheid en is daar iemand wat bietjie jaloers is omdat hulle voel die aandag word nie eweredig versprei nie?

Boer Graham

Die pasmaats op dié plaas het almal uiteenlopende persoonlikhede: Elrene is skaam en teruggetrokke, Nikola is uitgesproke en kunstig en Ilne is spontaan. Alhoewel dit lyk of daar geen spanning tussen die pasmaats is nie, móét dit tog vreemd wees om te weet dat julle op die einde van die dag daar is om mee te ding vir een boer se hart!

Boer Theunis

Wie gaan uiteindelik dié stil, avontuurlustige boer se hart verower? Tussen Nericha, Renette en Marcia, is daar geen twyfel wie die mees uitgesproke is nie, maar is dit dalk net dié eienskap wat jou soektog na liefde in die wiele gaan ry?  

Boer Hentie

Op hierdie plaas is daar g’n twyfel dat daar meegeding word vir ’n boer se hart nie. Die enigste vraag is net of jou persoonlike vendetta teen die ander pasmaats nie juis gaan veroorsaak dat jy huis toe gestuur gaan word nie.

Boer Willem

Spontaniteit is die lewensaar op dié plaas en al die pasmaats is energiek en passievol om meer te leer oor die plaas en al die daaglikse take wat moet plaasvind om ’n produk te lewer. Ons wonder net hoe Boer Willem sal kan kies wie hy wil hê langer op die plaas moet kuier – veral met die hoë standaarde wat hy vir homself stel in terme van netheid...  

Net nog tyd op die plase sal leer watter aanslag die beste is om jou gekose boer se hart vinniger te laat klop. Bly dus Donderdae-aande om 20:00 ingeskakel vir die nuutste verwikkelinge op elke plaas.

Ons wil hê jy moet saam gesels! Gebruik die hutsmerk, #BoerSoeknVrou op Facebook, Twitter en Instagram.