Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 L

“Mari sal enigiets doen om haar familie te beskerm” – Diepe waters

Nuus
04 April 2024
Diandra Slabbert bieg sy geniet die onvoorspelbaarheid van haar rol. Lees meer.
Diandra Slabbert

Ouderdom het net mooi niks te doen met ongure karakters in TV-reekse nie. Vra maar vir die jong aktrise Diandra Slabbert wat die rol van Mari in Diepe waters speel. Mari sal enigiets doen om te keer dat haar pa, Ben, en Sanet se verhouding blom – al is dit deur valse gerugte te versprei en selfs aanranding. Diandra, ’n boorling van Pretoria, vertel meer oor die komplekse Mari.

Diandra oor Mari

Mari se ma is oorlede toe sy baie jonk was, en dit het diep letsels gelos wat nooit raakgesien is nie – tot Sanet in die prentjie gekom het. Mari is baie familievas en hou nie van verandering nie. So, toe hulle Boskruin toe gekom het, het sy lank gevat om haar voete te vind. Sy sal enigiets doen om haar familie te beskerm en om seker te maak sy verloor nie haar pa nie.

Sal die ware Mari asseblief opstaan? 

Ek dink Mari is ’n oulike, vroom meisie. Wanneer sy saam met haar gesin is, of help by die kerk, is sy werklik op haar gelukkigste. Haar kindertrauma is iets wat nooit aangespreek of behandel is nie. Sy weet nie waar die lyn tussen reg en verkeerd is wanneer dit by haar pa en sy nuwe liefdeslewe kom nie. Die donker kant wat kykers nou sien, was nog altyd daar, maar dit was nog nooit nodig vir haar om dit te wys nie, want niks het haar familie bedreig nie. Ek dink dis interessant om haar ander kant te sien, want in die alledaagse lewe het mense dikwels geheime agendas. Om ’n karakter in ’n storie te speel wat hierdie ernstiger kwessies aanraak, is beslis ’n groot voorreg en lekker uitdaging.

Is Sanet die probleem?

Mari het nie spesifiek ’n probleem met Sanet nie. Dit kon enige vrou gewees. Sy wil net nie haar pa en haar familie soos dit was, verloor nie. Sy verstaan nie hoe Sanet deel van haar gesin kan wees sonder dat haar pa van haar of haar ma vergeet nie, en dit maak haar baie bang.

Hoe het jy voorberei vir die moeilike tonele?

Om die tonele stukkie vir stukkie te vat het gehelp. Ons het wonderlike regisseurs wat my gehelp het met die tonele en hoe om dit die beste te speel. Nadia [Valvekens wat die rol van Sanet speel] was ook amazing en het my ondersteun wanneer ek onseker was. Verder was dit maar deeglike navorsing en oplees oor die geestestoestande van kinders soos Mari.

Wat geniet jy die meeste van die rol?

Ek hou van die misterie wat die karakter bring. Ek het nie geweet wat gaan gebeur of wat sy gaan doen nie, en ek het die onvoorspelbaarheid geniet.

En die grootste uitdaging?

Die karakter self en die hele ervaring is ’n groot uitdaging. Dit was my eerste rol in ’n telenovela en dan nog so ’n intense een ook. Ek moes leer om in myself te glo en te vertrou dat ek die rol kan vertolk, al het ek nog nooit so ’n karakter gespeel nie.

Ooreenkomste en verskille tussen jou en Mari?

Ons is beide geheg aan ons familie en waardes. Ek is bevoorreg om ’n sterk ondersteunende gesin te hê wat altyd die goed in my probeer raaksien – net soos Ben en Chris met Mari. Ek en Mari verskil egter op verskeie vlakke. Sy raak amper obsessief oor haar probleme en sal enigiets doen om daarvan ontslae te raak, waar ek anders sal optree. Ek is gevestig in my geloof en weet dat as ek bid en my probleme voor God los, Hy my met ’n oplossing sal help. Ek sal ook nooit disrespekvol met mense praat nie. Konflik word nie opgelos deur meer konflik nie.

Jou liefde vir toneelspeel

Ek glo dit is ’n geskenk van God af. Ek was vier toe ek met dramalesse begin het en voor ek my oë kon uitvee, was ek besig om dit vir ’n lewe te doen. Dit is iets wat nog altyd net sin gemaak het. Ná ek my eerste pantomime met Tobie Cronjé op die verhoog gesien het, het ek geweet dit is wat ek vir altyd wil doen.

Jou droom as aktrise
Dit klink dalk bietjie simpel, maar ek sal graag in ’n goeie romantiese komedie wil speel. Om ’n rol in my eie Semi-soet of Vir altyd te kry sal ’n droom wees omdat dit my gunsteling films is.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.