Logo

‘Magda Louw’ kies koers verhoog toe en nóg ’n reeks op pad! - Magda Louw

Nuus
28 Maart 2023
Daar is goeie nuus vir aanhangers van die komediereeks Magda Louw, wat Maandagaand (27 Maart) op kykNET klaargemaak het: ’n Tweede seisoen is op pad, en boonop maak Magda binnekort weer ’n buiging op die teaterverhoog!
Magda Louw

Magda Louw, wat in Januarie op kykNET begin het, vertel die storie van Magda en haar man Erhard wat deelneem aan ’n werklikheidsreeks waar ’n kameraspan hulle volg om hul dag tot dag lewe te dokumenteer. Natuurlik nie sonder ’n paar paar onverwagse kinkels in die kabel nie! 

Die draaiboek is geskryf deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol in die reeks vertolk. Desiré het aanvanklik Magda Louw as ’n eenpersoon-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 as ’n kykNET-storiefilm ontwikkel, terwyl die gesoute akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, Erhard speel.

Volgens Desiré is dit vir haar wonderlik om te sien hoe kykers met Magda en Erhard vereenselwig het. “Hulle deel in Magda en Erhard se lief en leed, terwyl hulle daaroor kan lag en nostalgies raak,” sê sy.


“Baie mense sien iets van hulself in een van die karakters of die situasies, want hulle deel dalk dieselfde vrese en vreugdes. Só raak die reeks aan lewenswaarhede waaraan ons niks kan doen nie, soos oudword en verlies.”


Desiré, wat reeds aan die tweede reeks begin skryf het en in 2024 op kykNET sal uitsaai, sê dat kykers bietjie meer van die ander karakters, soos haar kinders Baltus (Bennie Fourie) en Gertrud (Cintaine Schutte), gaan sien, en uitvind oor haar verhouding met hulle.

“Die gevoel van die reeks gaan dieselfde bly: lag met ’n traan …”

Daar gaan natuurlik verrassings en veranderinge kom, want dit vorm deel van die lewe. “Die enigste konstante is verandering,” sê Desiré.


Aanhangers van die reeks gaan ook bly wees om te weet dat die Magda Louw-verhoogstuk herleef word. Dit debuteer by vanjaar se Suidoosterfees, wat van 26 April tot 1 Mei by Kunstekaap-teater in Kaapstad plaasvind.

In dié vertoning, sê Desiré, gaan Magda haar siening van vrouwees en menswees met feesgangers deel. “Dis net Magda op die verhoog, so ons leer haar ken op ’n ander manier, meer intiem. Sy gaan ook dans en sing!”
 
Kaartjies vir die Suidoosterfees-produksie is by Computicket te koop.