Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Maart bring aksie na die skerms!

Nuus
02 Maart 2021
Maart verseker 'n maand van aksie in jou gunsteling kykNET-sepie...
Untitled design

Getroud met rugby
Reitz maak groot skande wanneer hy op kamera afgeneem word terwyl hy (by die stadion) saam met drie skoolseuns bier drink. Hy roep dan Amanda se hulp in en wanneer Bart uitvind, is daar moeilikheid.

Liam moet op sy tande kners terwyl Candice en haar nuwe hoofakteur, Markus, geliefdes speel in haar webreeks. Het hy rede om bekommerd te wees?

Buks flous vir Nesie deur gedigte voor te lees wat nie sy eie is nie.

Bibi voel steeds ongemaklik met Jordan wat destyds, toe hy in Nieu-Seeland gewoon het, ’n verhouding met ’n getroude vrou gehad het. Gaan hulle verhouding dit oorleef?

Renate deel groot nuus met Simon…

’n ‘Bene vir Afrika’-kompetisie word in Pottie’s aangebied, waarin die deelnemers agter ’n gordyn staan terwyl slegs hul bene gewys word.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Dit is nie 'n maklike tyd vir die goedgesinde Samsodiens nie. Hulle geluk oor Carmen en Rhafiek se babanuus is van korte duur, want daar is komplikasies. Die spanning loop hoog en veroorsaak wrywing tussen Estelle en Mymoena, die twee matriarge van die twee families, en hulle gaan die vrede vir die kinders se onthalwe moet probeer bewaar. Maar dit is makliker gesê as gedaan… Die gemeenskap trek saam om die jong paartjie se laste ligter te maak.

Intussen slaan Siya 'n nuwe blaadjie om en raak betrokke by die kerk, maar sy geduld word getoets wanneer Joy noodgedwonge by hom moet aansluit. En sy kom met bietjie meer bagasie as waaraan ons gewoond is… Wanneer Joy se pa onverwags begin uitreik, is daar vrae rondom haar grootwordjare en haar verhouding met haar ouers. Sy het nie veel tyd om haar kant van die storie te vertel voordat Gino, haar pa, uiteindelik opdaag nie. Siya se gemeenskapsdiens strek binnekort verder as net die sopkombuis wanneer Gino met alle mag en krag by sy dogter probeer uitkom. Maar niemand kort 'n bril om te sien Gino is moeilikheid nie, maar iemand soos Siya verstaan bittergoed almal verdien 'n tweede kans… Of doen hulle?  

Trouklokke lui vir Imraan en Kaashifa, maar as dit van Kaashifa afhang, word daardie trouklokke van die duurste koper gemaak – sy erf groot geld by haar oorle ouma Rabia en kry die bevlieging om 'n ordentlike troue aanmekaar te slaan. Maar wanneer sy besef hoeveel werk daar in 'n ordentlike troue op so 'n skaal gaan, haal sy nog geld uit sodat iemand anders dit namens haar kan reël. En arme Imraan moet waar hy kan haar in toom probeer hou, maar niks bring 'n mens se kop vinniger uit die wolke as 'n bietjie tragedie nie. Kaashifa en Imraan gaan dalk trou, maar nie op Kaashifa se terme nie…

En verbeel ons onsself of is daar iets aan die broei tussen lewenslange vriende, Bridgette en Chris? En wat op aarde maak 'n mens as jy op daardie ouderdom in 'n liefdesdriehoek verstrengel raak? Dis reg… Daar's nog iemand wat op Chris verlief raak, maar julle sal moet inskakel om te sien wie daardie persoon is…

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Maart is 'n besige maand in die gange van Binneland Kliniek - en nie net omdat Elise Kruger weer terug is om die nuutste apparaat van haar maatskappy te smous nie. Elise het nou maar die manier om mense verkeerd op te vryf, en terwyl sy verlede keer vir Annelize goed die harnas ingejaag het, kom sy hierdie keer te staan teen die grootste teenstander tot op datum: Annetjie Strauss. Annetjie, die self-aangestelde waghond van At Koster, gaan beslis nie Elise se storietjies en onverwagse besoeke meer verder duld nie, want sy ken die 'heuning om die mond smeer' taktieke van menigte mediese reps. Maar Elise Kruger is 'n spesie op haar eie... Gooi nou nog net 'n waardevolle horlosie (wat 'n Koster-erfstuk is!) in die mengelmoes van bedrywighede, en hier is nou vir jou 'n plofbare situasie wat net dalk daartoe kan lei dat 'n nuwe vriendskap - of gedugte vyandskap - gevorm kan word. 

Tracy Smit gaan haar storie moet ken wanneer At Koster sy voortgesette gly in haar verder voer. Moenie dink At weet nie wat in almal se lewens aan die gang is nie, selfs wanneer hy uiters bedrywig is en besluite moet neem oor samesmeltings - en sy eie familie se sake. Hy stel Tracy voor 'n verskriklike besluit, en hy motiveer dit met 'n baie gulde geleentheid - en 'n asemrowende bedrag. Maar is Tracy meer uitgeslape as At? En gaan sy haar stem ook dik maak teen hierdie man wat almal en alles met sy ystervuis beheer?

Louis en Naom is in die sewende hemel nou dat hulle nie meer nodig het om te redekawel oor 'n anonieme of 'n bekende skenker nie. Om die kersie op die koek te plaas, het hulle 'n huisie in die oog, en die bedrag - en die ruimte - is nie te versmaai nie. Maar, soos wat ons almal weet, is die weë van grootmens wees nie altyd seepglad nie, en kort voor lank is daar 'n hindernis of twee in die pad. Joline Hofmeyer is dalk die perfekte kandidaat om die biologiese somme te laat klop, maar gaan sy kan inpas by wat Naomi verwag? En gaan Louis die storms van huiskoop kan trotseer sonder om iemand te vermoor? Storms is daar wel in die jong paartjie se vooruitsigte, maar gelukkig hou die liefde altyd die bootjie van geluk op koers. Of nie?

Binneland Kliniek en Southern Hope het dit nog altyd laat blyk dat 'n bietjie vriendelike kompetisie nie die ergste ding in die sakewêreld is nie. Maar met Chiron wat in almal se nekke byt en hakke hap, is dit 'n hele nuwe speletjie wat die rolspelers sal moet trotseer. Die groot vraag is: gaan daar 'n samesmelting wees of nie? Gaan die twee hospitale se raadslede rondom 'n tafel kan sit en die ding uitpraat? Of is dit 'n tevergeefse poging wat hier aangewend word? Of is Tyd die beste leermeester?

Daar het heelwat tyd verloop vandat Maya die laaste keer so bietjie met Liefde getango het. 'n Mens moet seker vergewe en vergeet, maar kan Maya dit met haar hele hart doen? Om sake te vererger is haar pa ook weer in die omtrek, en Faf is nou maar net die sprekende voorbeeld van 'n jakkals wat van hare, maar nie van snare, verander.... Gaan Maya ooit geluk kan vind? Of word sy nou maar net vir 'n leeftyd gestraf met die Gosslin naam? En gaan sy ooit uitvind wie en wat Faf regtig is?

Hou vas jou matras, want Maart is besig - en nie net omdat ons nog nie weet wie almal lewend van Nigerië gaan terugkeer nie...

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.