Logo

Louis Liebenberg – Skurk of Samaritaan? – Onthul

Nuus
13 Februarie 2023
Hierdie kwessie word Sondag 19 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) onder die loep geneem in die ondersoekende nuusdokumentêr Onthul: Skurk of Samaritaan?
Onthul: Skurk of Samaritaan Article Image

Die omstrede sakeman Louis Liebenberg dryf handel met diamante en is op vrye voet terwyl sy teenstanders glo hy agter tralies hoort. Volksheld, kultusleier, smous of entrepreneur? Wie is hy regtig? Hierdie kwessie word Sondag 19 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) onder die loep geneem in die ondersoekende nuusdokumentêr Onthul: Skurk of Samaritaan?

“Slegs paar 100 kry geld by Liebenberg, wyl duisende skade ly”

“Namakwalanders kap Louis Liebenberg oor onwettige delwery”

“Lous Liebenberg blaas glo R89 m. by casino’s”

Oral basuin koerantopskrifte die boodskap uit: Liebenberg skuld mense geld en hy moet aan die pen ry daarvoor.

Liebenberg is die afgelope paar maande pal in die nuus oor sy unieke diamanthandelkonsep, Forever Diamonds and Gold (FDG), wat die laaste twee jaar ongeveer 40 000 beleggers gelok het. Hy is tans in ’n regsgeding met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewikkel omdat hy daarvan beskuldig word dat hy ’n Ponzi-skema bedryf en ongeslypte diamante by onwettige diamantdelwers koop. Sommige mense meen hy is ’n skurk wat tronkstraf verdien; ander beskou hom as ’n goeie sakeman wat mense help om finansiële vryheid te kry – ’n soort volksheld en Robin Hood-figuur.

Nina Swart is die regisseur van dié nuwe dokkie en dit vorm deel van ’n reeks ondersoekende nuusdokumentêre onder die vaandel Onthul, wat deur IdeaCandy, vervaardigers van die Showmax-treffer Devilsdorp, gemaak word.

In Julie 2022 is die eerste nuusdokumentêr in die Onthul-reeks, Onthul: My pa het my nie verkrag nie, op kykNET uitgesaai. Dié uur lange dokumentêr ondersoek hoe dit gebeur het dat Abrie Raaths skuldig bevind is op vier aanklagte van verkragting en twee van seksuele aanranding van sy dogter, Megan Raaths, wat tydens die beweerde gebeure in 2009 net nege jaar oud was. Abrie Raaths is vier keer lewenslank tronkstraf opgelê. Sy dogter veg egter nou vir sy vrylating.

In Onthul: Skurk of Samaritaan? word kwessies rondom Liebenberg se sakepraktyke reguit bespreek. Die moeilike vrae word aan Liebenberg self gestel en hy skroom nie om te antwoord nie. 

Hy word van alle kante in dié dokkie belig. Verskeie mense, insluitend mense wat in die diamantskema ingekoop het, Dirk Lotriet (redakteur van Die Waarheid Media) en die voormalige Springbok Derick Hougaard besing sy lof. “Hoogs intelligent”, “welsprekend” en “diep denker” is van die woorde wat hulle gebruik om hom te beskryf.

Die dokumentêr gee ook ’n spreekbeurt aan diegene wat hom ’n skelm noem en hulself as slagoffers van sy skema beskou. “Mense, julle gaan jul geld verloor … hy gaan julle nie uitbetaal nie,” waarsku een van hulle. Uittreksels van sy Facebook Live-video’s wys hoe hy vir sy meer as 80 000 volgers preek om te belê op maniere wat sommige beskryf as kenmerkend van ’n narsis.

Die kwessie van Liebenberg wat volgens berigte onwettig in Namakwaland vir diamante delf, sowel as sy verhouding met sekere ANC-lede word ondersoek. Verskeie rolspelers lewer kommentaar, insluitend Cyril Warne (raadslid vir die Namakwa-distriksmunisipaliteit), Veronica van Dyk (die DA-parlementslid vir Kamiesberg) en die voormalige ANC-lid Carl Niehaus.

Ander kenners wat insae lewer, sluit in Pieter Steyn (senior joernalis vir Rapport), dr. Kosie de Villiers (sakekonsultant aan die Universiteit Stellenbosch), prof. JP Smit (van die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch) en die kliniese sielkundige Louis Awerbuck.

Onthul: Skurk of Samaritaan? word Sondag 19 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees