Logo
web uni tv guide

Laataand By Rian

144Geselsprogram13

Die omstrede sakeman Louis Liebenberg is Rian se gas – Laataand by Rian

Nuus
11 Julie 2023
Die tweede episode van "Laataand by Rian" is Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Laataand by Rian Louis Liebenberg

In hierdie reeks nooi aanbieder Rian van Heerden weekliks ’n nuusmaker na sy restaurant in Pretoria. In episode twee is dit niemand anders as die omstrede sakeman Louis Liebenberg nie.

Louis is byna ’n jaar pal in die nuus oor sy unieke diamanthandelkonsep, Forever Diamonds and Gold (FDG), wat die laaste twee jaar ongeveer 40 000 beleggers gelok het. Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n Ponzi-skema bedryf en ongeslypte diamante by onwettige diamantdelwers koop.

kykNET se "Onthul: Skurk of Samaritaan?" wat vroeër vanjaar op die kassie was, het kwessies bespreek rondom Louis se sakepraktyke.

In Rian se onderhoud met Louis hou hy glad nie terug nie. Hy vertel hoe hy op sy gelukkigste was toe hy as boemelaar in die strate van Benoni rondgeloop het, die video’s in die bad, stort en op die toilet wat hy op sosiale media plaas, en hoe hy afgevlieg het na Nkandla om vir sy goeie vriend, oud-president Jacob Zuma, te gaan kuier.

Rian sê die beste manier hoe hy sy gesprek met Louis kan beskryf is: “A mile a minute. Jy moet jou storie ken om by te hou! Louis het dadelik ingestem om met my te kom gesels toe ek die versoek aan hom gerig het – ek het groot waardering daarvoor,” sê Rian.

Louis verklap ook sy groot plan om in die politieke veld te gaan en sy eie party te begin. Louis sê: “My party gaan vir ekonomiese bemagting staan. Almal moet ’n deel hê in die ekonomie, maak nie saak of dit informeel is nie. Die minerale regte moet in die hande van die gewone mense kom en ons moet die banke nasionaliseer.”

Toe Rian se tweede gas, wat altyd ’n verrassing vir die eerste gas is, instap, val Louis amper van sy stoel af. Dié twee het woorde met mekaar, maar kykers sal maar die springmielies moet regkry om te sien wie dié gas is. Louis is duidelik nie op sy gemaklikste met hierdie gas nie…

  • Laataand by Rian word elke Dinsdag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.