Logo

kykNET gaan groot op 20 jaar

Nuus
18 November 2019
kykNET het die afgelope naweek groot makietie gehou om die 20ste verjaardag te vier – dis immers nie aldag wat ‘n TV-kanaal só ‘n groot mylpaal behaal nie.
Okert (1)

Die feesvieringe het Vrydag 15 November afgeskop met ‘n regstreekse uitsending op kykNET DStv-kanaal 144 en kykNET&kie DStv-kanaal 145. Kykers kon saam met kykNET-persoonlikhede, insluitende Elana Afrika-Bredenkamp, Henré Pretorius, Rian van Heerden, Tracey Lange, Willie Esterhuizen, Hannon en Hannes van Wyk, na al die hoogtepunte van die afgelope 20 jaar, terugkyk.

Emo Adams, Willem Botha, Nadia Beukes, Terence Bridgett en van die sepiesterre het die aand geopen met ‘n keurspel van sang en dans. Kykers is ook met ‘n onvergeetlike klavierspel deur legendes Coenie de Villiers, Rocco de Villiers en Pedro Kruger bederf, waarna ‘n interessante, dog baie vermaaklike weergawe van die ‘Leeuloop’ gevolg het – die manne van Toks ‘n Tjops, die Stryders van Getroud met Rugby en Hamilton van In Japan, Ja!, het ‘n bietjie meer as net hul hempde laat waai! Lieb Bester, oftewel Prof van die destydse sepie, Villa Rosa, het sy musikale talent ten toongestel toe hy die manne begelei het op sy trekklavier.

Boer soek ‘n Vrou is een van kykers se gunsteling kykNET-reekse en danksy dié reeks was daar meer as 13 huwelike, met ‘n hele string kinders wat gevolg het. Een van dié paartjies, Jacobus en Ina, het kom spog met hul drie pragtige kinders en het vir Leah vertel hoe die reeks hul lewens verander het.

Die sangduo, Johnny Davids and Vivian Molauly, wat in die beginjare van kykNET die sangkompetisie, Zing!, gewen het, het gewys dat hulle steeds oemf het na al die jare. ‘n Duet deur Amanda Strydom en YOMA, en Karen Zoid en Early B wat die aand met ‘Afrikaners is plesierig’ afgesluit het, is beslis iets wat kykers nog jare sal onthou.

Die feesvieringe het Saterdag 16 November voortgeduur – dié keer by die Inanda Club in Sandton. Al die gaste het iewers die afgelope twee dekades op een of ander manier ‘n bydrae tot die kanaal se sukses gelewer – van die kykNET-akteurs en -aanbieders, sowel as diegene wat agter die skerms werk tot die kykNET-span van die afgelope 20 jaar tot dié mense waaraan kykNET haar ontstaan te danke het.

Die geleentheid was as't ware ‘n reünie waar ou vriende en oudkollegas behoorlik kon opvang. Tussendeur kon die gaste na ‘n polowedstryd kyk en in ware kykNET-styl, was die twee spanne uitgevat in die kanaal se twee primêre kleure – blou en geel.

Deur die loop van die aand is die gaste bederf met balanseertoertjies wat almal na hul asems laat snak  het. Die hoogtepunt van die aand was beslis toe Herman Kleinhans, Stephanie Baardman, Willem Botha, Jan Bloukaas, Bernice West, Lea, Cheswin Ruiters en Tarryn Lamb ‘n kykNET-medley gesing en met ‘n verjaardagliedjie afgesluit het.

Dankie aan almal wat deel was van die feesvieringe, sowel as elkeen wat kykNET geluk gewens het met die 20ste verjaardag. kykNET hier, kykNET vir altyd!

Vir meer foto's en video's van die geleentheid, volg die hutsmerk #kykNET20 op Facebook, Twitter en Instagram.