Logo

Kokkedoortjie: Beoordelaars se wenke

Nuus
28 Junie 2017
Nic en Mari-Louis gee raad aan aspirant-kindersjefs.
Kok ML en Nic Ep13 Bill

Kokkedoortjie-beoordelaars Nic van Wyk en Mari-Louis Guy was nie net vrygewig met hul raad aan dié program se kinderkokke nie, hulle deel ook graag hulle advies met Kokkedoortjie se kykers.

Wat is jou nommereen-reël in die kombuis?

Nic: “Met my dogtertjie sê ek, ‘alles wat ek maak, moet jy proe’. As jy nie van iets hou nie, is dit fine, maar moenie sê ‘ek wil nie proe nie, want ek ken dit nie’.”

Mari-Louis: “Respek vir toerusting en bestanddele. Sit die musiek aan en boogie.”

Waar kan kinders meer van kosmaaktegnieke en -tendense leer?

Nic: “Gaan soek ’n paar Youtube-video’s, waar kinders kook of waar ouers saam met kinders kook. Wys jou kinders boeke en wys vir hulle die interessante, mooi prentjies. Dit gaan hulle prikkel om vrae te vra daaroor.”

Mari-Louis: “Kinders leer die beste deur net by hulle ouers te wees wanneer hulle kook. Doen huiswerk en flashcards in die kombuis en jou kind leer outomaties. Belangstelling, sukkel ek self mee. My een kind eet net vir energie en vermy die kombuis soos ek soms draaie om admin loop en my jongste is weer gek oor kook.

Wat is die kosbaarste kookwenk wat jy kan deel?

Nic: “Mense maak kosmaak te moeilik vir hulself. Moenie te veel goed op een bord probeer sit nie. Werk met goeie bestanddele en hou dit eenvoudig.”

Mari-Louis: “Ons [Mari-Louis en Callie Maritz] het ’n boek geskryf – EEN – oor disse wat in een pot, pan of bakplaat gemaak kan word. Heerlik vinnig – seker die boek (van die wat ons al geskryf het) waarop die publiek die verliefste is.

En jou beste bakwenk?

Nic: “Los bak vir mense wat van bak hou. Ek hou nie van die presisie van bak nie. As jy ’n goeie bakker wil wees, moet jy geduld hê en jy moenie ’n cowboy wees nie, want jy kan nie shortcuts vat nie.”

Mari-Louis: “Begin met ’n goeie resep. Moenie koekpanne te vol maak nie: die tekstuur is aaklig, want dit moet langer bak.”

Wat lê voor vir jou ná Kokkedoortjie?

Nic: “Ons maak nou Haute Cabrière, die restaurant in Franschhoek, toe in die winter sodat ons die hele kombuis kan oordoen. Daar is ook al soveel navrae oor shows en demos wat ons kan doen met die Kokkedoortjies, wanneer Kokkedoortjie eindig.”

Mari-Louis: “Ons [Mari-Louis en haar broer] het ’n kosstudio in Kaapstad. Ons skep content vir vele maatskappye, onder andere TV-advertensies, brosjures en boeke.

“Ons is besig met ’n projek in Duitsland en is besig met nog ’n boek. Ek curate ook ’n reeks huisware, Cakebread Collective, wat ons binnekort loods.”

Kokkedoortjie se finaal word Woensdag 28 Junie om 20:00 uitgesaai. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!