Logo

Koekedoor-oudisies: Só het die bakkers Koekedore geword

Nuus
15 April 2016
Errieda du Toit vertel meer oor Koekedoor se oudisieproses, die koeke en deel die toptien se resepte.
Koekedoor Oudisies

Koekedoor 2 se soektog na ons land se topbakker het begin met die oudisies. Uit die honderde der honderde oudisiekoeke spog dié tien met die deurslaggewende iets ekstra wat in die smaakgeheue bly talm.

Errieda du Toit, die inhoudsvervaardiger: kos van die reeks en skrywer van die bakboek wat net ná die reeks verskyn, was deel van die oudisie-proepaneel. Sy vertel van die oudisieproses, die koeke en deel die toptien se resepte.

Die toptien se oudisiekoeke is so uiteenlopend soos die mense wat dit gebak het – elkeen met sy eie storie. Dit het ook baie gemeen: Elkeen het nostalgie as ’n bestanddeel en elkeen is gebak met drome in die oë. Elkeen het ons span koekfoendies só beïndruk, dat dit van die bakker ’n Koekedoor gemaak het.

Die opdrag was vir almal dieselfde: Bring ’n koek vir tee in ’n lentetuin. Die koeke was ’n Kirstenbosch in volkleur, ’n fyntuin van geure en blombeddings vol prag en plesierigheid. Dis ook opvallend dat die koeke die trefkrag en tendens van die vorige seisoen toon om ou tegnieke te herontdek. Nostalgie bly die grootste inspirasie, met familieresepte en ou gunstelinge as vertrekpunt vir nuwe idees.

Sitrus se verfrissende smake, sonnigheid en parfuumgeure seëvier op ’n tafel soetgoed met sterk lemoen-, suurlemoen- en selfs koemkwat-smake, soos Anja, Sanet, Kanya, Wessels en Corli se koeke.

Wilandi, Tara en Martie se oudisiekoeke bewys dat sjokoladekoek steeds ’n topverleier is.

Speserye kry ’n soloplekkie met Suretha se appelspesery-ringkoek – maar wag tot die winter, dan soek almal die troos van kaneel en neutmuskaat. Gebakte kaaskoek, die klassieke koffiewinkel-staatmaker, haal ook die lys met Elmarie se groenvy-weergawe.

Ontmoet die deelnemers hier.

34 koekedoor 2 deelnemers


Tara, wat haar eie bak-en-spysenieringsonderneming in George bedryf, bak vir baie redes: Soms omdat sy lekker kan dink terwyl sy meng en klits, en ander kere sodat sy nie hóéf te dink nie; soms om net te eksperimenteer en te kyk wat anderkant uitkom. Vir dié oudisiekoek het sy eenvoud gekies – iets heerlik wat almal kan maak, met bestanddele wat jy meestal reeds in die koskas het. Die beoordelaars was gaande oor die afwisseling van die sjokoladekoek met die verfrissende aarbei-kaaskoekvulsel. Soos Tara sê, vrugte gee die gevoel dat jy darem, hoe vlugtig ook al, nie nét sjokoladekoek eet nie!

Kry die resep hier.

Corli is ’n entrepreneurbakker van Pretoria wat haar fynbakvernuf opgeknap het toe sy in Frankryk gewoon het. Die koek is deur en deur ’n wenner, al was Corli uit die veld geslaan dat so ’n eenvoudige koek die oudisiepaneel se harte sou steel. Haar geheim is die vars lemoensapstroop wat oor die koek kom en die sitrusnote ’n ekstra hupstoot gee.

Kry die resep hier.

Suretha, ’n Pretorianer, was destyds die medestigter van die Koljander-tuisnywerheid in Melville. Sy het die lekkerste resepte vir appelspeserykoek by haar kwiltvriendinne gekry. Die mini-toffie-appels sien toe dat kinders wat nie altyd van speserye hou nie, ook kan saam eet. Haar seun Danie se raad was om die versiering verder eenvoudig te hou, maar sy kon die versoeking nie weerstaan om die koek te versier met versuikerde gesiggies en gousblomblare (calendula) nie. “Iets fyn vir ons senior dames,” spot sy.

Kry die resep hier.

Die proepaneel se notas oor Wilandi se oudisiekoek spreek boekdele. “Wonderlike tekstuur, subtiele geure. Waaghalsig en modern, met die outydse sjarme van versuikerde viooltjies.” Hierdie argitek van Port Elizabeth is ’n raakvatter in die kombuis, net soos haar ouma. Sy het juis die koek saamgestel uit ouma Sarie van der Westhuizen se resepte en die kinderherinneringe van haar tuin en die vrugtebome oortrek met lentebloeisels.

Kry die resep hier.

Sanet van Saldanha het oorspronklik begin bak vir haar en haar man se troufonds, toe die gogga haar gebyt het. Om voor te berei vir die oudisie, het sy gedelf in familie-gunstelinge wat haar liefde vir bak uitbeeld. Die resultaat is ’n kombinasie van ’n rooibos-en-karamel-teetert wat ma Lina en haar tannie Elza baie graag bak, en haar eie lemoenkoek (wat sy vir haar koffiewinkeltjie in Saldanha ontwikkel het). Om inspirasie vir die vulsel te kry, het sy Kook en Geniet van die rak afgehaal en op dié heerlike lemoenvulsel afgekom. Die koemkwats blink soos amber-edelsteentjies bo-op die pronkstuk.

Kry die resep hier.



Kanya is ’n bekwame troukoekbakker van Melkbosstrand, bekend vir haar noukeurige sjokoladewerk. Sy was vier toe haar ma haar die eerste keer laat saambak het – sy onthou nou nog die pienk koek met die pienk versiersel. Hierdie wolksagte chiffonkoek is haar ma se ‘brag’-koek, wat vriendinne haar altyd vra om te bak. Vir die oudisie het sy dit omskep in ’n lentetuin met bloureën vol in blom. As jy nie so knap met die versierbuis is soos sy nie, of ’n chiffonkoekpuris is, sif dit liggies met versiersuiker en dien die botterversiersel apart op. Die groot geheim van die koek se donssagte tekstuur is om die swaarder beslag bo-oor die meringue te gooi en dan in te vou, en nie andersom – soos wat resepte gewoonlik aandui nie.

Kry die resep hier.

Anja is ’n energieke boervrou van Bapsfontein wat al selfs die Comrades-marathon kafgedraf het. Anja geniet dit om mense se gesigsuitdrukkings dop te hou as hulle iets proe wat sy gebak het. Hierdie mooi versierde koek in kleure van die sagste suurlemoengeel en bloubessiepers bring net glimlagte. Anja is so lief vir macarons (makrolletjies) dat sy die koek daarmee versier het. Die bakonderneming wat sy en haar suster bedryf, word nie verniet Mmmmacarons genoem nie.

Kry die resep hier.

Martie is ’n afgetrede verpleegster wat al 40 jaar bak. Met die lieflike diep geure van sjokolade, koffie en dadel van ’n ou familieresep het sy gesorg vir Bloemfontein se oudisie-hoogtepunt. Haar ouma se dadelvulsel vorm ’n baie lekker kontras met die mokka-meringue-laag. Die luukse sjokoladetruffels is ’n vindingryke manier om oorskietkoeksnippers te benut. Hoekom omgeekoek? Bak altyd nog een, die oond is tog klaar warm; dan het jy altyd iets gereed om met ander te deel of weg te gee.

Kry die resep hier.

Kaaskoek is Elmarie se kentekengebak, haar grootste bakpassie. Die Sasolburger beskryf haarself as ’n roekelose eksperimenteerder, wat dit nie kan weerstaan om verskillende kombinasies van die gebakte New York-styl kaaskoek te probeer nie – van lae-vet-variasies tot die gaan-sien-jou-dokter-vir cholesteroltoetse-soort. Hierdie kaaskoek met sy groenvye-en-amandelnougatvulsel op ’n brosbroodkors val sonder twyfel in die ‘beïndruk-die-beoordelaars’-kamp.

Kry die resep hier.

Wessels se wit papawer-oudisiekoek is soos ’n foto-album vol geurkiekies. Die sitrusgeure is ’n aandenking van sy studentedae in Pretoria en Londen, toe hy geleef het op Oros, Lemon Creams en verlange. Die ‘key lime pie’-vulsel is spesiaal vir sy stiefsussies, terwyl die vlavulsel iets van sy liefde vir Jodetert verklap. Die papawersaad onthul sy passie vir blomme en tuinmaak, en verteenwoordig wit papawers as herdenkingsimbool.

Kry die resep hier.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.