Logo

Koekedoor: Op die muffin-wa

Nuus
13 Junie 2016
Wanneer het die tuisgebakte muffin ’n nuwe (mega)baadjie in bakkerye aangetrek? Lees hier, en pas dié wenke toe wanneer jy weer muffins bak.
Koekedoor Muffins

Vir dekades was muffins warm uit die oond deel van die huis se oggendgeure. Hoe het dit dan gekom dat dié gou-meng-, gou-bak-, min-bestanddele-, min-koste-tuisgebak ontaard het in die oorgroot, oorsoet muffin?

Die skuif van ’n heilsame lid van die vinnige meelmengsel-familie na mega-muffins het begin met die gesondheidsontploffing van die 1970’s. Semels, jogurt en droëvrugte was bo-aan die gesondheidslysie, ideaal vir muffins. Dit was egter ook dieselfde tyd wat ál meer vroue hul voorskote opgevou het, en al hoe minder mense het nog self gebak.

Bakkerye het hier ’n goue geleentheid gesien en op die muffin-wa geklim. Die probleem was egter dat muffins iets is wat vars uit die oond geniet moet word, met ’n baie beperkte raklewe. Om dit langer vars te hou het bakkerye ekstra suiker en vette by die muffins gesit. Wat op die oog af baie gesond gelyk en geklink het, was skielik volgeprop met dieselfde kalorieë as ’n versierde kolwyntjie.

’n Ander revolusie het ook tot die muffin se veranderde status bygedra – gourmet-koffie. Koffiewinkels het die sogenaamde gesondheidsmuffin as die ideale eetding aangebied saam met hul espresso’s en caffe latte’s. Die muffin het net nóg soeter en nóg groter geraak.



Die tyd is reg vir die eertydse muffin vol goedheid om weer terug te keer na die tuiskombuis.

Muffin-kortles

Geen winkelmuffin kan kers vashou by tuisgemaak nie. Dis blitsig, goedkoop en vol moontlikhede. Hier’s hoe:

1. Die geheim is om dit vinnig en net genoeg te roer, sodat dit nog klonterig is – selfs nog met ’n sweempie meel hier en daar.

2. Gebruik papiervormpies om jou tyd te spaar met pannesmeer en opwas agterna. Die muffins se kante sal egter sagter wees.

3. Gebruik twee lepels of ’n roomyslepel om die pannetjies 2/3 vol te maak.

4. Muffins bak gouer gaar in donker, kleefvrye muffinpanne. Toets dus gouer of dit gaar is, of bak teen 10°C laer.

5. Maak sommer ’n paar baksels, want muffins vries besonder goed.

6. Maak dit spesiaal met ’n muesli-strooisel: meng 25 g muesli, 25 g amandelvlokkies, 25 g gekapte pekan- of okkerneute en 30 ml heuning en strooi oor ongebakte muffins.

Kry die resep vir Sanet se pesto-muffins hier.

Probeer gerus Wessels se muffins met kaas en uie hier.

Kanya gebruik biltong en kaas. Klik hier vir haar resep.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30, net op kykNET.