Logo

Koekedoor: Musiekaand

Nuus
20 Mei 2016
Vandeesweek se tema in die Koekedoor-stoor was “musiekaand”. Lees hier hoe dié opwindende episode verloop het.
Koekedoor Ep6 01

Die oorblywende Koekedore moet vandeesweek die noot probeer hou – drie deelnemers het reeds in die stof gebyt.

In die stoor aangekom sit Mari-Louis en Tiaan agter ’n klavier en tokkel Chopsticks op die klawers. Dit som dan ook vandeesweek se tema op: “Musiekaand”.

Volgens Wessels het hy net gewag vir die kroeg-deure om oop te swaai. “Ek het gedink ons gaan by ’n cowboy movie inloop,” sê hy. “Toe is dit baie deftig.”

Vir Tannie Elizabeth lê die tema na aan die hart. Sy was in ’n plaasskool en het eers op hoërskool kennis gemaak met musiek. Musiekaande by die skool was vir haar wonderlik, vertel sy.

Haar ma was in ’n orkes, sê Mari-Louis, maar “daai geen het my verby gegaan.”

Die Koekedore se tuisgebak-uitdaging is wit en swart “klavier”-kolwyntjies.

Kanya kies die geure van donkersjokolade en Amarula, en maak ’n witsjokolade-mousse. Wessels maak ’n marmerkoek met die geure van rumtruffels en ystervarkies, Sanet maak musieknote en die sleutels van bladmusiek uit fondant en Tara kies Nachtmusik-likeur en sjokolade-ganache.

Haar oupa was “begaafd”, vertel Tara, en sy moes baklei om níé klavierlesse te neem nie.

Wessels spot: “Ek ken net een noot, en ek weet nie waar dit sit nie.”

Wilandi spook om haar sjokolade “pikswart” te kry. Sy kies wit malvalekkers vir bo-op. Anja maak ’n swartfluweelkoek met roomkaas-versiersel. Corli geur haar kolwyntjies met anys en kleur haar vanieljekoek swart.

Anja skuif sommer agter die klavier in, nog voor die uitdaging verby is. ’n Paar note later en die beoordelaars gee vir haar ’n staande ovasie.

Die laaste paar minute was “dramaties”, sê Corli, veral wanneer ’n mens die laaste note hoor.

Kyk hier onder na foto’s uit die episode:




















Die Franse Operakoek, vandeesweek se fyngebak-uitdaging, is volgende op die verhoog. Dié beeldskone koek kan uit soveel as sewe lae bestaan en word tradisioneel met amandel-sponskoek, koffiestroop, sjokolade-ganache en Franse botterroom-versiersel gemaak. Dit word vernuwe met moderne kleure.

Mari-Louis deel haar wenke vir Operakoek met kykers.

Jy spog nooit wanneer jou kind goed slaap nie, sê Wilandi. Dieselfde geld vir resepte.

Die fyngebak bly ’n nagmerrie, sê Wessels. Sy versiersel lyk soos StaSoft, in laventelgeur, spot hy.

Corli noem dit ’n “operasie”, en dinge wil eenvoudig nie glad verloop nie. “Dit was ’n beslagting!”

Die pronkgebak-uitdaging is vernoem na Anna die ballerina. Die beoordelaars is op soek na pronkerige pavlova – lig en modern.

Pavlova moet hard wees aan die buitekant, maar sag en amper taai aan die binnekant, sê Sanet. Anja se raad is om seker te maak jou bak en klitser is goed droog.

Die Koekedore speel met verskillende vorms en kleure, en as dit uitwerk – sê Tannie Elizabeth – gaan dit moeilik wees om vandag ’n wenner te kies.

Dan word dit tyd om uit te vind wie het die regte note getref. Sanet word as prima ballerina gekroon, terwyl dit vandeesweek Anja se laaste dans was.

Eksklusief: Die beoordelaars gesels oor vandeesweek se uitdagings en deel hul wenke.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.