Logo

Koekedoor: Modeweek in Tulbagh pronk met fluweel

Nuus
24 Junie 2016
Vandeesweek moes vier Koekedore hul vere regskud tydens modeweek in Tulbagh en eerste op die loopplank was die rooi fluweelkoek. Ons het by Errieda du Toit, Koekedoor se inhoudsvervaardiger van kos, meer uitgevind oor dié supermodel-koek.
Koekedoor_fluweel 6

Vandeesweek moes vier Koekedore hul vere regskud tydens modeweek in Tulbagh en eerste op die loopplank was die rooifluweelkoek. Ons het by Errieda du Toit, Koekedoor se inhoudsvervaardiger van kos, meer uitgevind oor dié supermodel-koek.

’n Snytjie rooifluweel-geskiedenis:
“Rooifluweelkoek word die Lady Gaga van die koekwêreld genoem weens die dramatiese, kunsmatige karmynrooi kleur,” vertel Errieda. As skrywer van die Koekedoor 2-bakboek het Errieda diep gegrawe in die geskiedenis van rooifluweelkoek wat nou immergroen en gewild is.

Hoekom rooi en hoekom fluweel:
“Rooifluweelkoek was nie altyd so rooi nie, en haar ster ook nie altyd so blink nie,” skryf sy.

“Fluweelkoeke, sonder die flambojante rooi van vandag, was baie gewild in die 19de eeu. Dit was hoogmode in die Victoriaanse tyd om koeke interessante name te gee soos fluweelkoek.

“Fluweelkoeke verwys na die begeerlike sagte, fyn tekstuur van koeke met bymiddels soos kakao en mielieblom. Dit was destyds nuwe uitvindsels wat die gluten in die meel versag het. Die chemiese reaksie tussen die kakao en karringmelk het die koek ’n effense rooi tint gegee – vandaar name soos mahoniekoek of red devil’s food cake.

Rêrig rooi:
Volgens Errieda het dié intense rooi koek in die 1940’s bekend geword na ’n briljante bemarkingsfoefie van die Adams Extract Company in Texas.

“Klante wat hul essense gekoop het, het gratis ’n rooifluweelkoek-resep en twee botteltjies rooi kleursel gekry, en so het dit vlam gevat in die Midweste,” sê sy. “Die groot tree na wêreldroem was toe die koek ’n kameerol gehad het in die fliek Steel Magnolias. Kort daarna het dit die topverkoper geword van die ikoniese Magnolia Bakkery in New York.”

Voor die dae van roomkaasversiersel:
Errieda vertel: “Die roomkaasversiersel wat nou so gewild is saam met rooifluweelkoek is ’n meer onlangse verskynsel. Dit is egter tradisioneel om dit met ’n mooi wit versiersel op te tof.

“Die outydse melkversiersel wat in episode 10 vir die liefdeskoek gebruik is, is soortgelyk aan wat die vroeë bakkers van rooifluweelkoek gebruik het. Dit was meer ekonomies en is gemaak met meel, melk, vanielje-ekstrak, botter en suiker so lig en donsig soos geklopte room.”

Errieda het die oorspronklike resep vir die regte vintage kookmelkversiering vir rooifluweelkoek opgespoor en dit verskyn eersdaags in die Koekedoor 2-bakboek.

Vir meer oor dié bakboek, klik hier.