Logo

Koekedoor: Modevertoning

Nuus
24 Junie 2016
Dis modeweek in Tulbagh en dié week op Koekedoor word daar opgetof vir ’n loopplank-viering van bakmodes.
Koekedoor Mode 2

Dis modeweek in Tulbagh en dié week op Koekedoor word daar opgetof vir ’n loopplank-viering van bakmodes.

Modes kom en gaan en ’n fluweelsagte koek uit die Victoriaanse tye het redelik onlangs ’n terugkeer tot bakwinkels gemaak – in skelrooi getooi: die rooifluweelkoek.

In die tuisgebak-uitdaging wys die Koekedore rooi bly mooi – met hul eie kinkel.

“As daar nou een ding is wat ek nié is nie, is dit in die mode,” sê Wessels.

Kanya meen rooifluweelkoek is ’n koek wat nie weet of hy ’n vanielje- of sjokoladekoek wil wees nie. “Rooi het ’n smaak,” sê sy. “Dis daai smaak tussen vanielje en sjokolade, met ’n suurroom-versiering.”

Corli sê: “As ’n ding met liefde gemaak word proe hy anders.”

Sanet maak elke liewe dag rooifluweelkoek, en dis een van die gebak wat nou nog die beste in haar bakwinkel verkoop.

Sy, Corli en Kanya bak elk ’n laagkoek, terwyl Wessels iets anders aanpak: rooifluweelskywe met vla. Corli en Kanya se rooifluweelkoek se kante word nie versier nie, of soos Kanya sê: “’n Koek sonder ’n rokkie.”

Sanet se rooifluweelkoek word met versiersel en droë krummels oorgetrek.

Wat is ’n modeparade sonder ’n vinnige draai op die Koekedoor-loopplank? “Ek het probeer om die voorskoot mooi en elegant uit te trek en oor my skouer te gooi,” spog Kanya. “Daai doen jy nie só nie,” lag Corli.

Dit sal “sy jaar maak” as hy een van die drie dames saam met hom in die stoor kan wen, sê Wessels. Sy swakplek is sy spuitsak, sê hy.

Volgende op die loopplank is Mari-Louis se modepoppies, oftewel drie soorte merveileux. “Franse gebak het uiteindelik begin vernuwe,” sê dié beoordelaar.

Sonder dat die Koekedore weet hoe dit lyk, verander hul bakkersdrome in ’n nagmerrie van Biscuit rose de Reims in drie verskillende kleure.

Presisie is die wagwoord en die deelnemers weet nie of die Biscuit rose de Reims rond gespuit moet word of later met ’n koekiedrukker in sirkels gesny moet word nie.

“Ek mors my tyd,” sê Sanet.

Stadig en metodies – dis ál hoe jy dit kan aanpak, meen Mari-Louis.

Om Frans as taal te leer is ’n nagmerrie, sê Wessels, en terwyl die Koekedore swoeg en sweet, doop die beoordelaars ’n rooskleurige koekie in ’n glasie sjampanje.

Aan die einde van die uitdaging sê Sanet: “Die modelle is net-net op die loopplank. En party van hulle is kaal.”































Geïnspireer deur die gewilde cronut (’n “croissant doughnut”), daag Tiaan die bakkers in die pronkgebak-uitdaging uit om hul eie hibried-nuutskepping te bak. Hulle moet ’n wêreldgebak met ’n Suid-Afrikaanse gebak “kruis”.

Volgens Corli veg die Koekedore “van gebak tot gebak.”

Oorlog en mode gaan vandag saam. Die oorlog tussen die vier bakkers is dalk ’n “stille een”, sê Sanet, maar dis beslis oorlog.

Haar ‘Generaal Meer’ is ’n kruising tussen ons geliefde Hertzoggie en S’more, die Amerikaanse kampvuur-genot van geroosterde malvalekkers en sjokolade tussen twee koekies.

Kanya kruis die melktert met ’n Gâteau St Honoré, ’n Franse choux-deeg-skepping. Dit word aan haar ouma en tannie opgedra.

Die alombekende Peppermint Crisp-tert kry ’n nuwe baadjie in Corli se kombuis, wanneer dit met die Amerikaanse Boston Pie gekruis word.

Hy is baie lief vir mosbolletjies, sê Wessels, en hy vernuwe dié gebak deur dit te kruis met die Cinnabon.

Die modevertoning kom tot ’n einde, en die Koekedore is vir eers klaar geparadeer. Die modekenners, Mari-Louis, Elizabeth en Tiaan, meen Corli is vandag die beste model, en Kanya word die sewende bakker om die stoor te groet.

“Dit was lekker. Dit was regtigwaar baie lekker,” sê Kanya.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.

Die Koekedoor 2-bakboek tref binnekort die rakke!