Logo

Koekedoor: Markdag

Nuus
13 Mei 2016
Vandag word die heerlikste tuisgebak by markte en basaars verkoop en só is vandeesweek se tema in die Koekedoor-stoor “markdag”.
Koekedoor Ep5 Fyn

Die basaar was die enigste plek waar ’n mens tuisgebak kon koop in haar grootwordjare, vertel Elizabeth. Vandag se tema is “markdag”, en vir die tuisgebak-uitdaging moet die Koekedore 12 pasteie bak.

“Die geheim van ’n garage pie is dat jy moet weet by watter garage om te koop,” sê Wilandi. Corli sê: “Ek bly eerder honger as wat ek ’n garage pie eet.”

Wessels maak maalvleispasteitjies met ’n broskors en sy ouma se geheime bestanddeel – tiemie.

“Ek is ’n koek- en tert-antie,” sê Kanya. “Ek is nie ’n degie nie.”

Sy maak blaardeeg en besluit op hoender en sampioene vir die vulsel.

Suretha kies ’n soortgelyke kombinasie – hoender, tiemie en sampioene, en sy maak ’n kors van sodawater. Tara kies skilferkors en maak beesvleispasteie.

Wilandi maak hoenderpasteie en gebruik ’n resep vir skilferkors uit Christine Capendale se boek Bak vir pret en profyt. Anja besluit op botterskorsie.

Corli maak ’n bobotievulsel en ’n skilferkors (haar ouma het geglo ’n mens moet die meel minstens sewe keer sif voor dit gebruik word).

Sanet kies die kombinasies van biltong en uie (haar gunsteling), en forel, knoffel en crème fraîche.

By markdae is dit die kroongebak waarvoor mense uiteindelik toustaan, en dié week se fyngebak-uitdaging bring Mari-Louis se lemoen- en suurlemoen-meringue-terte na die voorgrond.



Suurlemoen-meringue-terte is gewoonlik markte se topverkopers, maar dié tert is nie sonder probleme nie. Mari-Louis strooi gewoonlik ’n bietjie mielieblom oor haar vulsel om “trane” te voorkom (wanneer die vulsel vog uit die eier trek). Elizabeth skakel weer die oond af ná dit gaar is, maar laat die tert vir sowat 5 minute daar staan. Tiaan los die oonddeur so effens oop.

Is dit een kors of twee? “Ag, ek weet nie,” sê Sureth. “Vandag moet ek kophou.”

Wessels sê: “Ons gaan nou kalmeer. Die koppie draai nog so ’n bietjie.”

Suretha probeer die beoordelaars ontwyk deur haar in ’n ander vertrek besig te hou. “Ek het vir hulle weggehardloop,” sê sy. “Ek wil nie hê hulle moet kyk wat ek doen nie. Ek het ’n proses ge-skip, om gou klaar te maak.”

Dit was “lekker laf” toe sy besef die beoordelaars staan reg agter haar, sê dié Koekedoor.

Corli en haar oond sit vas, Wilandi verklaar oorlog en Wessels sê hy het “sewe soorte hel híér losgemaak.”

Sy hoop die Koekedore vaar beter in die pronkgebak-uitdaging as wat hulle in die fyngebak-uitdaging gevaar het, sê Mari-Louis. “Vandag rol ’n paar mense rond.”

Oliebolle is deesdae in die mode en die man van die oomblik is die Britse Michelin-sjef Justin Gellatly. Vandag is die beoordelaars op soek na ’n verskeidenheid (nie minder nie as 24) fynproewer-oliebolle.

“Ek is nogal bekommerd vandag,” sê Corli. Haar deeg word in ’n kombersie toegedraai – iets wat sy by haar ouma Corrie geleer het. Sy maak ’n bessiekonfyt wat sy met room en mascarpone meng.

Sanet maak gewone oliebolle gevul met karamel en sjokolade-oliebolle met ’n piesang- en vla-vulsel. Anja wil ’n oliebol-toring bou, met oliebol-truffels – van die balletjies gevul met suurlemoensmeer en ander weer geglasuur en gedoop in klapper.

Wilandi se oliebolle word met appel en kaneel gevul. Sy maak ook geglasuurde bolle met karamelsous (met sout) en gemmer. Tara maak ’n grenadella-smeer, sowel as ’n suurlemoen-en-witsjokolade-ganache.

Kanya maak ’n toffietaai sous van heuning. Verder rooster sy haselneute, maak ’n praline van gebrande suiker en karamelliseer witsjokolade deur dit in die oond te “bak”. Suretha kies suurlemoen en sjokolade.











Kaneel kry ’n ereplek in Wessels se oliebollie. Hy maak ook Stollen (Duitse Kerskoek) en sy eie marsepein, wat hy met brandewyn geur.

Die Koekedore wat vandag by markdag die meeste voete gelok het is Sanet, Kanya en Anja, en Kanya word as markdag-meester aangewys.

Suretha, Corli en Tara het vandag hul spoed verloor, en Suretha word die volgende Koekedoor om die kombuis te verlaat.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.