Logo

Koekedoor: Liefdeskoek vir die wittebrood

Nuus
22 Junie 2016
Vandeesweek moes die vier oorblywende Koekedore raakvat om Mari-Louis se liefdeskoek tydens die fyngebak-uitdaging veilig oor die drumpel te kry.
Koekedoor_Liefdeskoek 3

Haar troudag is sekerlik die grootste dag in enige vrou se lewe, maar dis nie troukoek wat die beoordelaars vandeesweek in gedagte het nie.

Vandeesweek moes die vier oorblywende Koekedore raakvat om Mari-Louis se liefdeskoek tydens die fyngebak-uitdaging veilig oor die drumpel te kry.



“Dis ’n tong in die kies,” sê Mari-Louis. “Dis ’n kamerkoek wat jy eet as jy nie baie geeet het by die troue nie.

Sy vertel verder: “Die bruid en bruidegom, wat so baie meng met die gaste by die troue, kom ná die onthaal by die hotel en is doodhonger en dan pak die hotelle vir hulle so koekie in”.

Dié liefdeskoek bestaan uit drie lae lemoenkoek. Volgens Mari-Louis was lemoenkoek gebruik omdat dit iets oud is en al so bekend is in gebak, en dat daar gespeel word met die Engelse segte something borrowed, something blue, something old and something new.

Verder sê sy dat die koek aan die kante naak gehou word weens die geur van die koek.

Dié koek het ’n heerlike melkvulsel en die bo-kant bestaan uit ’n verskeidenheid van versiering wat onder meer sjokoladewerk, Turkse suikerwerk en Persiese lekkers, ook bekend as toot-lekkers, bestaan.

Volgens Mari-Louis is dit deesdae die tendens om die koek naak te hou en bo-op dramaties te versier. “Die partytjie gebeur bo-op die koek.”

Vir die liefdeskoek is daar egter dieper betekenis agter die versiering bo-op. “Daar is so baie goed op dié koek en die rede hiervoor is die uitbeelding van twee huise wat bymekaar gebring word... daardie lelike bierbeker van die man en die mooi porselein van die vrou…”

Mari-Louis sê dat die grootste uitdaging met dié koek nie die bak daarvan is nie, maar die Turkse suikerwerk, omdat dit grower as spookasem is en temperatuur ook ’n belangrike rol speel. “Dit is ’n baie lekker tegniek om dop te hou.”





Haar raad aan amateur bakkers by die huis is om dié koek sistematies aan te pak.

“Die toot-lekkers kan jy ’n dag voor die tyd maak. Jou sjokoladeskerwe het jy tyd om vooraf te maak. Jy hoef dit nie alles in een dag te maak nie,” sê sy. “Dit moet ’n romantiese koek wees.”

Vir baie bruide is ’n kombuistee tradisie. Die Koekedore het dié week mekaar se staatmaker-resepte – flatervry genoeg vir ’n nuwe bruid – getoets. Kyk die video hier.