Logo

Koekedoor Episode 8: Poedingkoeke en 'trifle'

Nuus
01 Mei 2015
Dis episode 8, en daar is vyf Koekedore oor. Maar gelukkig vir hulle was daar dié week ’n heerlik nostalgiese prys op die spel.
Ep opsomming
Dis episode 8, en daar is vyf Koekedore oor. Maar gelukkig vir hulle was daar dié week ’n heerlik nostalgiese prys op die spel – ’n rit op die Bloutrein – én boonop is niemand huis toe gestuur nie.

In die eerste uitdaging het elke deelnemer ’n tradisionele Suid-Afrikaanse poeding getrek wat hulle in ’n kolwyntjie moes omskep: Kaapse brandewynpoeding, telefoonpoeding, karringmelkpoeding, fluweelpoeding en Japie se gunsteling.

Gerda het die brandewynpoeding getrek: “Ek hou daarvan om met drank te werk. Partykeer gebruik ek dit in die kos ook.”

Hoewel die resultate lekker was, het nie al die Koekedore die uitdaging reg verstaan nie; Gerda het byvoorbeeld miniatuurweergawes van haar poeding gemaak, eerder as om dit in ’n regte kolwyntjie te omskep. En Gerrit het ’n fout gemaak deur stroop aan die onderkant te hê. “’n Kolwyntjie het droë boudjies,” verduidelik Mari-Louis.