Logo

Koekedoor 2: Ontmoet die deelnemers

Nuus
04 April 2016
Die nuwe Koekedoor-seisoen van dertien episodes daag tien amateurbakkers uit om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste seisoen.
Koekedoor 2 Deelnemers

Die nuwe Koekedoor-seisoen van dertien episodes daag tien amateurbakkers uit om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste seisoen – soms met uitstekende en soms met rampspoedige resultate.

Die beoordelaarspan bestaan weer uit Elizabeth Cloete, Mari-Louis Guy en Tiaan Langenegger.

Hier is vanjaar se deelnemers:

WESSELS

34 koekedoor wessels


Die enigste haan onder die Koekedoor-henne kom van Simonstad en moet sy gebakkery tussen twee ander werke inpas. Soggens is hy klerk by die balju en saans speel hy kelner. In sy eie kombuis is hy bekend vir sy dadelpoeding en roompoffertjies, maar hy droom ook daarvan om eendag ’n tuin vir die Chelsea-blommeskou in Londen te ontwerp. Hy het net voor die oudisies teruggekeer na Suid-Afrika, na jare in Brittanje.

Hoekom Wessels bak: “Dis die vinnigste manier om myself kreatief uit te leef. Met bak kan ek in 15 minute iets lekkers en mooi op die tafel hê. Ek bak ook omdat die kragtigste deel van ’n mens se herinneringe in jou smaak- en reuksintuie sit. Ek bak om mense waarvoor ek lief is deur hulle resepte vir altyd te laat lewe. Laastens bak ek vir beheer oor wat ek in my en my mense se lywe sit.”

Wat Wessels die graagste bak: “Suurdeeggebak – of dit nou mosbolletjies of witbrood is, suurdeeg is ’n wonderlike speelding. Jy kan met net meel, water, sout, geduld en OEFEN baie ver gaan. My eerste brode kon as bakstene vir ’n fort gebruik word; nou is hulle veerlig en wen hulle pryse.”

SANET

34 koekedoor sanet


Sanet van Saldanha het oorspronklik begin bak om haar en haar man se troufonds te stu, maar die gogga het gebyt en vandag bedryf sy haar eie koffiewinkel, Cup of Cake, waar die klante veral vir haar rooifluweel-kolwyntjies toustaan. Die jong ma glo jy kan nie bak sonder ordentlike panne nie, soos haar spesiale kolwyntjiepanne wat Oom Ockie Carstens vir haar aanmekaar gesweis het. Sy’s ook lief vir lees, tuinwerk en die restourasie van ou meubels.

Hoekom Sanet lief is vir bak: “Bak is my werk en my stokperdjie. Dis deel van my DNA en ek kry ontrekkingsimptome as ek nie kan bak nie. Dit laat my kreatief voel; ek skep iets uit eenvoud. Ek is in my eie wêreld voor die stoof. Dit is kos vir die siel. En vir die lyf. As jy lus is om iets te doen, bak. As jy bly is, bak. As jy hartseer is, bak. As jy moeg is, bak. As jy nie meer weet nie, bak!”

Plaaslike bestanddele waarmee Sanet graag bak: Pinotage in kolwyntjies, boegoe in lemoenkoek en rooibos in alles, van rooibos-versiersel tot rooibos-nougat en rooibos-roomkaas.

MARTIE

34 koekedoor martie



Martie is ’n afgetrede verpleegster van Bloemfontein wat absoluut leef vir bak. Sy doen dit al vir 40 jaar en haar koeksisters en aartappelsuurdeeg-beskuit laat manlief en die kleinkinders se monde water. Sy’s ook ’n naaldwerkster van formaat en hou daarvan om te onthaal en kreatiewe tafels te dek.


Hoekom Martie bak: “Bowenal alles bak ek om die eindresultaat met iemand te deel. Bak laat my goed voel en laat my vergeet van alles wanneer ek aan die bak is. Ek dink ’n mens moet net begin en selfvertroue inwin om rustig te bak en dit te begin geniet.”

Wat Martie die graagste bak: “Laagkoek. Jy kan van ’n eenvoudige gebak ’n meesterstuk maak deur kreatief te wees met hoe die lae op mekaar gesit word. Ek is ook lief vir koeksisters en melktert.”

Sy bak ook graag met mieliemeel en het al ’n mieliemeel-wenpoeding met ’n soet wynsous in ’n driepoot-pot oor die kole gemaak.

ELMARIE

34 koekedoor elmarie


Elmarie bedryf ’n kantien vir Sasol in Sasolburg, waar dinge lekker warm kan raak. Sy en almal in haar groot familie is passievolle diereredders, so wanneer die DBV fondse insamel, bak sy plate en plate kolwyntjies. Haar sin vir humor is aansteeklik en dit kom altyd handig te pas in die Koekedoor-stoor.

Haar bakliefde: “My liefde vir bak kom van die feit dat ek ’n kroniese, ongeneesbare ‘people pleaser’ is en daar niks lekkerder is as om te sien hoe mense smul aan iets wat ek gebak het nie. Dan is ek ook gek oor teksture en kleure en geure. Om dit alles bymekaar te laat kom op een koekstaander is wonderlik.”

Elmarie se kentekengebak: Kaaskoek. Die Sasolburger beskryf haarself as ’n roekelose eksperimenteerder, wat dit nie kan weerstaan om verskillende kombinasies van die gebakte New York-styl kaaskoek te probeer nie – van lae-vet-variasies tot die gaan-sien-jou-dokter-vir cholesteroltoetse-soort.

TARA

34 koekedoor tara


Tara van George spog met ’n graad in Sielkunde, maar bedryf tans haar eie bak- en spysenieringsonderneming in en om die Tuinroete. Haar Guinness-sjokoladekoek is altyd ’n treffer, en wanneer sy sagopoeding sien dink sy terug aan haar geliefde ouma. Sy’s ook ’n ywerige boekwurm en mal oor mense en hul stories.

Tara bak...: Vir baie redes. Soms omdat sy lekker kan dink terwyl sy meng en klits, en ander kere sodat sy nie hóéf te dink nie; soms om net te eksperimenteer en te kyk wat anderkant uitkom.

Haar nommereen-bakwenk: Geniet dit, die hele proses, floppe en al. En onthou, selfs floppe kan gered word met ’n bietjie vla, room of roomys.

Haar gunsteling baktoerusting: “My ou slaplem-mes is bo-aan my lys. Dit het nog ’n beweegbare lem, nie soos die moderne soort nie”.

SURETHA
34 koekedoor suretha


Suretha van Pretoria is medestigter van die ikoniese Koljander-tuisnywerheid in Melville, Johannesburg, en blink veral met patatkoek, kaasskons en dadelklapperkoekies uit – en enigiets waarvoor haar kleinkinders vra. Sy geniet laslap- en kwiltwerk asook lees en tuinmaak, maar kinderterapie is haar passie en sy hou die afgelope paar jaar skool vir kinders met outisme.

Suretha oor die waarde van bak: “My eie vier kinders was altyd by wanneer ek gebak het, want ek sien dit as opvoeding: ’n wetenskaplike eksperiment, kommunikasie, die leer van die volgorde van verskillende stappe en ook sommer hul leesvermoë en verhoudings wat gebou word op ’n lekker manier.”

Suretha se beste bakwenk: “Moenie stres en van ’n molshoop ’n berg maak nie. Doen soos jy dit graag wil sien. Soos wat jy dit gebak het, is dit uniek en jou handelsmerk”.

WILANDI

34 koekedoor wilandi


Wilandi van Port Elizabeth is ’n argitek en, soos haar ouma, ’n raakvatter in die kombuis. Haar kentekengebak is sjokolade-bruintjies en kaneelringe, en selfs haar twee spruite is kranige bakkers. Wilandi doen graag keramiek- en mosaïekwerk en droom daarvan om haar eie koffiekuierplek te bedryf. Sy hardloop ook graag, nie omdat sy ’n fiksheidsfanatikus is nie, maar omdat sy so lief is vir gebak.

Hoekom Wilandi bak: “Bak is my manier om my kreatiwiteit uit te leef en deur die ontwerp ’n ekstra dimensie te gee. Dit plaas my in ’n wêreld waarin ek kan droom en speel en wanneer ek dit vir mense doen is die reaksie op die resultate ’n groot beloning.”

Haar stylwenk vir gebak: “Laat iets in die gebak/gereg herhaal in jou opdienstuk: byvoorbeeld die bruin van die sprinkels gekarameliseerde uie bo-op is ook die kleur van die bord/kors”.

KANYA

34 koekedoor kanya


Kanya is ’n dieetkundige en gesoute troukoukbakker van Melkbosstrand, veral bekend vir haar noukeurige sjokoladewerk. Sy was vier toe haar ma haar die eerste keer laat saambak het – sy onthou nou nog die pienk koek met die pienk versiersel. Sy bak elke dag koek en is ook in 2003 as Galliova se kosskrywer van die jaar aangewys. In haar vrye tyd hou sy van draf en fietsry, “want” sê sy, “dan kan ek meer koek eet”!

Wat bak vir haar beteken: “Dis in my wese: ek droom oor koek en koekgoete en is obsessief oor mooi koekgoed. Moeilike koekgoed, maklike koekgoed, alle koekgoed. Dis my manier om kuns tot ’n mate uit te beeld.”

Wat Kanya die graagste bak: Troukoeke. En alles waaroor sy fantaseer. Sy verbreek ook graag die Sondagstilte met die klank van die koekmenger en bak dan botterkoek met heuning bedrup, rolkoek, appeltert, Hertzoggies, granadilla-chiffonkoek, melktert en hartjie-beskuitjies.

CORLI

34 koekedoor corli


Corli van Pretoria is ’n kranige entrepeneurbakster wat haar liefde vir bak van haar Ouma Corrie kry. Terwyl sy en haar rugbyspelerman in Frankryk gebly het, het sy die kans benut om verskeie Franse fyngebaktegnieke aan te leer. Haar familie kan nie genoeg van haar swartwoudkoek kry nie en wanneer sy wil asem skep, geniet sy graag die buitelewe.

Haar bakliefde: Corli glo as jy met liefde bak, jy dit in die gebak kan próé. “Bak het my nog altyd laat goed voel en fantasties as ek die eindresultaat kan sien. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer jou sintuie, dit is kreatief en natuurlik die plesier om iemand anders met jou gebak te bederf.”

Baktoerusting vir sukses: Elektroniese skaal, digitale termometer, panne, panne en nogmaals panne.

Haar beste bakwenk: Moet nooit te bang wees om iets wat moeilik lyk of onbekend voorkom te bak nie, want dis juis hierdie gebak wat gewoonlik baie eenvoudig uitdraai.

ANJA

34 koekedoor anja


Anja is ’n energieke boervrou van die Bapsfontein-distrik wat al selfs die Comrades kafgedraf het. Sy beskou makrolletjies (macaroons), koeke en kolwyntjies as haar kentekengebak en bedryf ’n besige bakonderneming, Mmmmacarons, saam met haar suster Charlene.

Waar haar liefde vir bak vandaan kom: “Ek het altyd my ouma in die kombuis gehelp in Groot Marico. Ek kon vir ure haar hande dophou en hoe sy met niks iets kon maak. Bak beteken vir my om iets te skep en ek hou daarvan om mense se gesigsuitdrukking dop te hou as hulle iets proe wat ek gebak het.”

Kan nie sonder ...: “my skaal en deegskraper. Met my appelboor maak ek gaatjies in kolwyntjies en sit dan ’n vulsel daarin. Met my pizzasnyer sny ek weer nougat en Turkse lekkers goed fyn om tussen koeklae te sit.”

Lees meer oor die nuwe seisoen van Koekedoor hier.