Logo

Ontmoet die Top15-deelnemers van Die Groenste Vingers 2

Nuus
12 Oktober 2022
Leer ken die deelnemers en hul stories, en besluit nou al wie jy dink gaan as wenner gekroon word.
Die Groenste Vingers

Wie sal hierdie seisoen as Die Groenste Vingers-wenner gekroon word? 

Die opwinding vier hoogtyd vir die tweede seisoen van Die Groenste Vingers wat Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin. 

In dié 13-episode reeks, sal 15 van die land se voorste bloemiste, in ’n splinternuwe formaat, laat kragte meet in verskillende uitdagings waarin unieke rangskikkings ontwerp en geskep word. Die oudste deelnemer is 60 jaar oud; die jongste is 24, en elke deelnemer het hul eie styl en sterk punte.

Ná talle inskrywings is die Top 15-deelnemers gekies op gronde van vakmanskap, talent en ervaring. 

Die uiteindelike wenner van hierdie seisoen se Die Groenste Vingers-kompetisie sal R100 000 in die sak steek.

Die deelnemers van die tweede seisoen van Die Groenste Vingers is as volg:

Ezalle Janse van Rensburg

Ezalle is ’n 34-jarige bloemis en eienaar van Myrtle Flower Design van Centurion, Gauteng. 

“Georganiseerde chaos! Ek hou van blomme wat anders is. My styl het altyd iets in wat mens twee keer sal laat kyk!”

Esmé Viljoen

Esmé is 44-jaar oud en ’n privaat dieetkundige van Jacobsdal, Vrystaat.

“Vir my is dit 'n manier om uiting te gee aan emosies met blomme óf ruikers óf rangskikkings – jy kan iets vier en jy kan liefde wys.”

Gerrit van Niekerk-Reis

Gerrit is die 60-jarige eienaar van Duke and Duchess Florist-besigheid in Kaapstad. 

“Blomme maak mense vergeet van hulle sorge en maak hulle gelukkig. Dit kleur ons wêrelde in. Volgens my mening is blomme vir troues net so belangrik as die bruid. Dis koeksisters met stroop.”

Marolee Smith

Marolee is 33-jaar oud. Sy is vanaf 2017 ’n vryskut-bloemis in Paarl en beskryf haar styl as ekleties. 

“My gunsteling blom is die roos (soos talle mense seker). Die snoei van rose is soms hard en seer - maar net soos baie dinge in die lewe moet mens die seer deurgaan om weer by die mooi uit te kom.”

Angie Kaalsen

Angie is ’n 40-jarige bloemis van Kempton Park, Johannesburg en eienaar van Beyond Flowers by Angie.

“Hoe sal ek inheemse blomme gebruik? Ek sal dit gebruik soos dit is – met wortels en al. Die wortels moet natuurlik mooi skoon gewas wees. En dan sit jy dit in ‘n pragtige glaspot.”

Danè Verwey

Danè is ’n 24-jarige Stellenbosser en eienaar van Danè Verwey Floral

“My styl het bietjie van als. Dit is bietjie abstrak, whimsical en quirky.”

Stefan Smuts

Stefan is ’n 25-jarige bloemis en fotograaf van Pretoria wat sy styl beskryf as “fine art” geïnspireer deur Afrika-natuur. 

“Vir my bepaal die blomme die styl en die gevoel van die troue of funksie. En dit dra by tot die algehele geheelbeeld van al die ander elemente by die aangeleentheid.” 

Tharina Kleynhans 

Tharina is van Sasolburg in die Vrystaat waar sy die mede-eienaar van Catharna Carolina Blomme en Dekor is. Sy werk ook as ’n HR-konsultant.

“Blomme bring lewe en kleur na 'n vertrek toe. Dit skep net daardie ekstra WOW-faktor wat 'n vertrek miskien nodig het.”

Angelina Nieuwoudt

Gebore en getoë in Parys, Vrystaat waar sy en haar suster Tharina saam Catharina Carolina Blomme en Dekor besit. 

“My styl hang af waarmee ek besig is – gesofistikeerd dog deurmekaar.”

Ilse Barnard-Walker

Dié 58-jarige eienaar van ’n blom en geskenkbesigheid in Johannesburg het ook ’n meestersgraad in Geneeskunde. Sy het ook maatskaplike werk gedoen. 

“Blomme beïnvloed die energie van 'n vertrek en die gemoedere van mense. Navorsing by die Universiteit van Rutger het Haviland-Jones en McGuire gevind dat blomme 'n baie effektief hulpmiddel is om gemoedstoestande te lig. Hul verwys na die Duchennne smile.

Cassidy Bedser

Cassidy is ’n 24-jarige bloemis en geleentheidsbeplanner. Sy is ook die eienaar van Floral School SA

“I love doing big arrangements such as mass arrangements and floral runners.”

Willem van Schalkwyk 

Dié 34-jarige bloemis en eienaar van In Bloom in Franschhoek, hou van diepte en detail. 

“Lewis Miller het op ’n TEDx video gesê en ek kan die nie beter sê nie maar blomme is die natuur se ‘Little Cheerleaders’. Dis die universele manier om te sê ‘Ek’s lief vir jou, Ek is jammer ens.’”

Nyoka Coetzee

Nyoka is 37-jaar oud, bloemis en eienaar van Wild Leaves Floral Design van Rosebank, Johannesburg. 

“Ek is baie lief vir 'n Renonkel. Dit is só delikaat en die veskeidenheid kleure is iets besonders...”

Helena Sheridan-Gouws

Helena is ’n 37-jarige vryskut geleentheidsbeplanner en sosiale media bemarker van Malmesbury in die Wes-Kaap. 

“My gunstelinge. Blom: sewejaartjie – só uniek en jy kan dit oor en oor gebruik. Plant: kooigoed – soveel gebruike in verskillende kulture van ons land.”

Monique Ritson

Monique is ’n 35-jarige bloemis en eienaar van DiNique Emporium in Belville, Wes-Kaap. 

“Ek is lief vir die Vanda Orchid. Die kleure is altyd baie mooi en helder, die plant lyk altyd vir my baie modern en dit hou baie lank. Ek is ook baie lief vir ‘n Ohara roos, want hy gaan vreeslik mooi oop en sy reuk is fantasties!”

Die Groenste Vingers begin Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.