Logo

Kamers 2016: Johannesburg – Musiek

Nuus
19 April 2016
Kamers-gangers kan eerskomende naweek in Johannesburg uitsien na meer as uitgesoekte ontwerpersprodukte. Heerlike musiekvermaak sal ook verskaf word.
JHB Music Poster.indd

Janie Bay


Kamers-gangers kan eerskomende naweek in Johannesburg uitsien na meer as uitgesoekte ontwerpersprodukte. Heerlike musiekvermaak sal ook verskaf word.

Kamers in Johannesburg vind van 20 tot 24 April 2016 plaas by St John’s College, Houghton. Die volgende kunstenaars sal op Saterdag 23 April en Sondag 24 April op die verhoog te sien wees:

Roan Van As – 23 April om 11:30

Roan is ’n sanger-liedjieskrywer van Pretoria wat moderne country-blues- en folk-klanke na die verhoog bring.

Roan het al die verhoog met onder andere Dan Patlanksy, Matthew Mole, Jan Blohm, Koos Kombuis en Arno Carstens gedeel, en sy debuutalbum The Traveler is in Februarie 2015 uitgereik. Hy het ook al by feeste soos Innibos, Fijnwyn en Strab opgetree.

Hoot ’n Anny – 23 April om 12:30

Dink aan Dolly Parton se soet stem, Chet Atkins op kitaar en Johnny Cash se heserige refreine – Hoot ’n Anny neem ’n mens op ’n musiekreis.

Die duo bestaan uit Franco en Alouise Jamneck en saam het hulle sowat 20 jaar se musiekervaring agter die blad. Hulle het hul talente al onder meer by Oppikoppi, Strab, Park Acoustics en Forr ten toon gestel.

Janie Bay – 23 April om 13:30

Janie Bay se solotreffer “I Remember” het destyds haar loopbaan afgeskop en sy en haar broer, The Beard, het ná haar album se vrystelling in 2011 haar liedjies akoesties opgevoer. Dit het gelei tot hul onlangse projek, Janie & The Beard.

Janie Bay se stem kan ook gehoor word in Jack Parow se “Veilig” en Bouwer Bosch se “Hardloop”.

Emile Swiegers – 24 April om 11:30

Emile Swiegers het al onder meer saam met Bark, Die Tuindwergies, Revolusie en Van Coke Kartel gewerk en opgetree, maar ’n solo-loopbaan het vir hom gewag.

Luisteraars kan uitvoerings van bekende liedjies sowel as unieke verwerkings te wagte wees.

Adelle Nqeto – 24 April om 12:30

Adelle Nqeto is die een helfte van die duo Flint, meet Spark. Dié duo het al by Oppikoppi, Rocking the Daisies en Splashy Fen opgetree.

In 2015 het sy ’n solo-projek begin. Adelle is ’n storieverteller en gebruik melodieë as ’n medium om eerlike verhale met haar luisteraars te deel.

Laurie Levine – 24 April om 13:30

Laurie Levine het nie werklik bekendstelling nodig nie. Sy het vier albums, ’n paar toekennings en ’n string optredes op haar kerfstok en het ook al in die Verenigde Koninkryk gaan toer.

Haar vierde album, Border Crossing, onthul wat gebeur wanneer ’n mens uit jou gemaksone beweeg.

Lees meer oor die kunstenaars hier.

34 kamers jhb musiek