Logo
kykNET_Wie_word_'n_miljoener_1600x160_S4_CTE
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144Spelprogram13

Jy kan die volgende Afrikaanse miljoenêr wees! – Wie word ’n miljoenêr

Nuus
20 Februarie 2024
Waag die kans om in te skryf vir kykNET se gewilde vasvraprogram. Hier is meer inligting daaroor.
wie word 'n miljoener

Vinnige vingers eerste! kykNET se gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr? soek weer deelnemers.

Soos met die vorige reekse, is daar weer ’n allemintige R1 miljoen op die spel wat wag om deur iemand opgeraap te word wat oor ’n goeie skeut algemene kennis beskik.

Dit kan jy wees want hoeveel keer sit jy nie en kyk vasvraprogramme op TV en gil die antwoord uit nog voor die deelnemer dit kan doen nie?

Sê koebaai vir jou rusbank en gryp hierdie geleentheid aan. Selfs al het jy vantevore probeer, is die deur vanjaar weer wyd oop vir jou om in te skryf. Só kan diegene wat ook al voorheen hul vinnige vingers in die ateljee gewaag het sonder om dit tot by die warmstoel te maak, weer inskryf. Die gesegde lui nie verniet ‘derde keer is skeepsreg nie’ - hierdie is dalk net die geleentheid waar jou miljoen-rand skip eindelik land haal.

Sedert Wie word ’n miljoenêr vir die eerste keer in 2021 op kykNET begin het, is daar in totaal R5,5-miljoen se prysgeld aan 120 wenners uitbetaal. Tog het niemand tot op hede al die miljoenrandvraag beantwoord nie... 

Die eerste groot wenner wat Wie word ’n miljoenêr? opgelewer het, was in 2022 toe die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom R500 000 in sy sak gesteek het.

Verlede jaar het die joernalis Susan Booyens presies dieselfde bedrag losgeslaan nadat sy een korrekte antwoord weg van die R1 miljoen was. 

Susan se raad?

“Waarvoor wag jy? Gryp die kans! Steek jou banggeit in jou sak en gaan daarvoor, jy’t regtig niks om te verloor nie en jy weet vir seker meer as wat jy dink,” sê Susan.

“Dis ’n groot avontuur en as jy nie die antwoord ken nie, haal diep asem en kyk of jy dit nie kan uitwerk nie, vertrou jou instink en gebruik Rian as klankbord. Dis beslis een van daai gevalle van wie nie waag nie, wen nie – en énige prysgeld is mos ’n lekker bonus. 

“En dis heerlik om te sien hoe die ratte van ’n deelnemer se brein so voor jou oë inklik – en indien nie, lag ons almal saam vir die dapper probeerslae. 

“Boonop leer mens heeltyd snaakse feite en bisarre trivia wat jy om die braaivleisvuur met smaak kan oorvertel, en die beste kenners en swemmers sit hoeka altyd aan wal.

“Almal wat kyk wil hê jy moet goed doen, en bewonder jou durf!”

Dus, as jy die vraag-klokkie hoor lui én weet waar die antwoord-klepel hang, weet jy wat om nou te doen.

Hoe werk dit?

  • Mense wat wil inskryf, moet teen 15 Maart 2024 ’n aanlyn algemene kennis-toets op kykNET se webtuiste by kyknet.tv voltooi. 
  • Diegene wat na die volgende ronde deurdring, sal ’n telefoniese onderhoud met die vervaardigers kry en ’n tweede algemene kennis-toets aflê. 
  • Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees.
  • Deelnemers sal tydig ingelig word oor die tye waarop hulle beskikbaar moet wees vir opnames.
  • Volledige bepalings en voorwaardes is op kykNET se webtuiste beskikbaar.

Skryf hier in