Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Julie-verwarmers

Nuus
02 Julie 2021
In die middel van die winter gaan jou gunsteling kykNET-sepie verseker dat die hart van elke kyker 'n bietjie vinniger klop om die koue te verdryf. 
GMR s05 ep250 23051

Getroud met rugby
Fafa besluit om ’n rock-groep te begin en dit dryf uiteindelik vir Maryke teen die mure uit. Nina kom kuier vir Reitz en Amanda en Maryke en Bibi loods ’n liefdadigheidsprojek.

Bibi en Maryke ontdek ’n geraamte in Jana se kas en betrek vir Thinus om uit te vind hoe ernstig dié geraamte is. Yvonne dring daarop aan dat Lulu by Simon se huis intrek terwyl Renate in Engeland is.

Twee babatee’s word vir Lulu gereël en nie almal is ewe gelukkig nie. Koekie en Festus vind ’n viool en Bart begin in Thinus se vaardighede as prokureur twyfel.

Buks sien iemand uit sy verlede en dan vind Nesie uit dié dame was voorheen sy verloofde. Maggie het groot nuus vir Lulu en Koekie en Festus wil by Magda geld leen.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Ruiterbosch se pas-verloofdes, Tyron en Lee-Ann, kom voor ’n nuwe toets te staan met ’n onverwagste kinkel uit Tyron se verlede. Tyron vind uit dat ’n eksmeisie van hom onlangs dood is, maar dan moet hy met ’n skok uitvind dat hy die pa van haar 12-jarige seun, Carlo, is. Dit beteken dat Tyron se uitkyk op sy lewe moet verander, want met “pa-wees” kom daar nuwe verantwoordelikhede en uitdagings.

Rhafiek se verhouding met Mercedes stel ook spoed op, maar sy familie wil hê hy moet dalk eerder rem trap met sy nuwe liefde. AB en Mymoena is immers nie te gelukkig met die stand van Rhafiek se liefdessake nie… Dit blyk egter dat dié twee verliefdes hulle nie sommer van koers gaan laat bring nie. Mercedes is ook reg om haar verlede agter haar te sit en reg te maak wat sy verbrou het, maar tog is almal nie reg om te vergewe en te vergeet nie. Is die tyd wel ryp vir Rhafiek vir ‘n ernstige verhouding, of is die wonde van sy mislukte huwelik met Carmen nog te rou?

Dit lyk of Nazeem dalk uiteindelik suksesvol gaan wees in sy bose planne om Bridgette vir eens en vir altyd te ruïneer. Hy buit Bridgette se geheueverlies behoorlik uit, en hy speel sy ousus soos ‘n viool soos sy glad nie kan onthou hoe stormagtig hul verhouding was nie. Nazeem probeer seker maak dat Bridgette se gesondheid nie sommer sal herstel nie... Bridgette voel gebroke, nuttleloos en rigtingloos en besef dat sy dalk nooit weer haar ou self gaan wees nie. Die toekoms van haar maatskappy is op die spel en sy moet moeilike besluite daaroor neem. Tog begin dit blyk dat Nazeem dalk net-net dié keer sy hand oorspeel het, en het vergeet dat Zoë ’n October is en dalk dinge vir hom baie moeilik kan maak...

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Elana Bester veg vir haar lewe in Binneland Kliniek, maar sy doen dit nie alleen nie. Wanneer die ergste wat kan gebeur wel plaasvind, is daar 'n span familie, vriende en kollegas wat bankvas agter haar staan - en alles in hul vermoeë doen om hierdie wa deur die drif te sleep.

Conrad se lewe verander handomkeer wanneer hy vir die tweede keer in sy loopbaan daarvan beskuldig word dat hy nie weet wat hy doen as 'n chirurg nie - en dié keer kom die aanval van binne sy eie geledere. Annetjie Strauss moet 'n inplanting kry wat haar lewe kan vergemaklik, maar wanneer omstandighede buite Conrad se beheer hom noodsaak om die teater vir 'n paar oomblikke te verlaat is die hel los...

Lydia Jonker, Tertus se ma, is nie 'n katjie wat jy sonder handskoene aanpak nie - vra maar vir Koos Jonker. Sy vervreemde vrou sal eerder die huis afbrand as om hom en Wendy Toerien, Gaby se ma, die droombestaan te gee waarna hulle so smag. Dit veroorsaak natuurlik probleme tussen die half-sibbe, maar stook ook weer opnuut die vure tussen pa en seun. 

Karen se motorprobleme lei haar na 'n vuur en vlam Alexis, wat haar gou ompraat om deel te word van haar besigheid wat sy deur middel van Sosiale Media bestuur. Maar hoekom vertrou Gaby en Tertius nie die vrede nie? Is hierdie besigheid dalk te nuut en byderwets, of is daar 'n slang in die lang gras? 

Om uit volle bors te sing voor 'n gehoor sit nie in enige man se broek nie, maar Wimpie du Toit het nie 'n banghaar op sy kop nie - of het hy? Wanneer Louis en Okkie betrokke raak om die oom se vrese te besweer, is dit nie lank nie of daar is alweer 'n paar vals note in die boesemvriende se lewenslied. Gaan dit uitdraai op 'n staande ovasie, of sal dié opvoering eerder op dowe ore moet val?

Elise kom net op die regte tyd soos 'n vars seebriesie deur die gange van Binneland Kliniek gedwarrel. Sy het 'n lekker nuwe uitdaging wat sy najaag, maar of Mike Vorster, die CEO van UnionMed, vir haar staaltjies gaan val is - en of sy vir haar nuwe baas se 'besigheidsvernuf' kans sien - is 'n ander storie. 

Koos Jonker se gesondheid is nie die enigste ding wat dreig om hom te pootjie nie. Die hart wil hê wat die hart wil hê, maar self onder die huidge omstandighede moet 'n mens jouself die vraag af vra: is die toekoms wat jy eers wou gehad het, die realiteit wat jou in die gesig staar? Wendy Toerien sal moet besin oor waar haar vreugde in die lewe lê, want die liefde vra altyd 'n prys. 

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.